Keuses…

Ek sit en bekyk die covid storm so, nie die siekte self nie, net die res… om te spuit of nie te spuit nie… die kant toe en daai kant toe is elke party vuur en vlam oor hulle “reg” om te doen wat hulle keuse is. En daar is niks mee verkeerd nie.

Met sosiale media is alles net baie meer in die oopte en “public” as vroeer.

Nou imagine moreoggend word julle wakker met die volgende op my wall…

Whoohoo, depo shot done. Nou kan pappa maar kom, vir my stamp hy nie om nie…. kompleet met n selfie van my en die kliniek suster… of n foto van my 3 maande voorraad van die pilletjies.

Jare lank doen ons wat ons moet, of ons laat dit na, om onsself te beskerm. Ons judge mekaar nie oor goed soos voorbehoedmiddels, of selfs iets soos dieetpille nie… maar daar buite is mense wat nou al vir n tweede keer siek is met covid, mense wat al meer as een familielid verloor het as gevolg van n siekte wat ontken word, of afgemaak word, of… of…

Dit sal soveel makliker wees as ons net mekaar se keuses respekteer. As jy trots jou vaccine foto wil post doen dit, ek is bly vir jou. As jy nie wil spuit nie, good for you, ek is bly vir jou.
As jy ivermektine in n shotglasie vat, well done.

Om mekaar se keuses uitmekaar te trek en mekaar te veroordeel gaan nie die virus keer nie.

Die ou wat glo dat die virus elke keer voor n nuwe “wave” deur vliegtuie in die lug gespuit word…my maat, ek dink my moet ligter teue vat van die kouse wat jy rook… maar dis jou opinie.

Not so normal new normal

Ek verlang na die goeie ou dae… wat sommer nog 2 jaar terug was,
Dae van onbevange lag
sonder n lap oor jou gesig.
Ek verlang na spontane onbeplande Vrydagaand kuiers en coffee shop geselsies,
Ek mis die in-die-middel van n kruidenierswinkel gang klets in n bondel,
Ek verlang na bank-ry geselsies en die voorreg om babas op te tel en te troetel,
Ek mis dit om skoolkinders te sien oefen op sportvelde in die middae,
Naweek kuiers saam met vriende, die opgewondenheid van n rugby kaartjie by n stadion… al gaan vergaap ek my aan die toeskouers want ek ken niks van rugby nie, oorvol winkelsentrums in Desember, matriekafskeid rokke gaan kyk by die venue se ingang… kerk bazaar en sondae se tee onder die bome.

Ek hou nie van die lam magtelose gevoel wat ek kry wanneer ek n foto op fb of whattsap sien met RIP/RIV, ons gaan jou mis boodskappies nie, ek hou nie meer van Donna Taggard liedjies nie.
Dit voel of mense-lewens uitgevee word soos somme op n swartbord.

Ek mis die dae wat n “wave” was wanneer iemand verby my huis ry en groet wanneer ek buite staan. Daar is niks meer positief aan + nie.

Gaan ons eendag ons maskers kan weggooi of verbrand soos die tannies destyds gedoen het met goedkoop bras? Mekaar weer vol in die gesig kyk… Gaan ons ons mense weer teen ons kan druk tot ons kreun? Meer happy birthday boodskappies as simpatie versies stuur?

Sal ons wêreld eendag weer heel wees? Sal ons die “new normal” kan uitvee soos somme op n swartbord? Want daar is niks normaal aan die huidige nie.

Beste medisyne

Ek het al die week al deeglik genoeg gekreun en geween oor my siekbed. Ek gaan nie weer nie.

Gisteroggend besluit ek 4 dae se teedrink en home remedies werk nie, ek voel al slegter. Ek sal maar n afspraak by die dokter maak.

Ek trek my selfbejammering pajamas uit, skrop my karkas, kam my hare en sit af spreekkamer toe.

My pajamas is n groot kruis in my lewe. Sodra ek begin siek voel gaan krap ek die oudste, mees uitgerekte sweetpakbroek en verbleikte t-hemp uit die onderste hoekie van die kas uit, ruik die ene motbolle. Dan voel my klere in sync met my siek-bui. Geen mens kan mos ordentlik vrot voel in silk en frills nie.

Die dokter is so n jolige ou, mens voel al beter nog voor hy na jou gekyk het. Jy hoor hom uit sy maag lag, dan is hy in die gang, altyd met n groot glimlag op die gesig.

Ek beduie mooi vir hom wat ek nou al alles probeer het wat nie gewerk het nie. Ek kry medikasie en n gawe inspuiting.

Vanoggend ontwaak ek en voel soos n mens. Vir die eerste keer die week.

Die storie sit my toe aan die dink. Veral met die wêreld se huidige situasie in my agterkop.

As ek siek voel sien ek n dokter, kry pille en voel beter. Ek wonder nie of daar bul sperm in my hoesstroop is en of die apteker dalk vir die dokter kickbacks gee nie. Ek vra wel vir die dokter oor newe effekte en vertrou dan sy professionele opinie. Hy is immers die pro.

Nou wonder ek net hoe lank dit nog sal vat voor Pheizer of iemand pille maak wat help vir domgeid.

Kômmin flu

Kyk, op dag 3 van n kômmin flu siekbed is ek nou reg om die covid jab saam met ivermectin te vat met n skeut jaegermeister by… ek gee nie om of dit per mond of in setpil vorm is nie. Vir good luck sal ek hom agterna jaag met n skyfie suurlemoen en n strooisel sout.

Ek weet nie of die kieme mekaar op instegram volg of email of facebook chomme is of wat nie. Ek was lanklaas in my lewe so goor. Dit terwyl my koors en suurstofvlakke normaal is.

Griep het duidelik besluit hy moet sy best game bring sodat hy nou nie na n sissie lyk teen die nuwe kiem nie. Tot n lekker simptoom ingegooi, pasella – nagmerries. My drome is op hulle beste nogal entertaining maar die nagperdjies is n ander saak.

My arme man hou kombuis skoon en dra tee en medisyne aan.

Siekbed klaagliedere

Ek en Tiaan is man & woman down, teen die planke by die huis… griep. Ons het al twee oor die naweek begin goor voel en teen sondagaand toe rev die storie ons in die rooi.

Weet nie wie het by wie aangesteek nie. Ek is so opgejack op aanvullings dat ek verlede winter nie eers die snuffels gekry het nie.

Ons blaf n duet wat weergalm teen die gang mure. Die arme honde kry nie n innings met blaf nie. Hulle gaan slaap maar in die sonnetjie. Ons koppe klop, bors brand… goor.

Dit lyk soos griep, voel soos griep. Maar sê nou net… ek en hy werk heup aan heup met ander mense en ons wil nie onwetend iemand anders aansteek nie. Ons laat toets ons toe, net vir veiligheid. Ek kan een ding sê van ons span in die dorp. Hulle is professioneel en behulpsaam.

As ek terugkyk kon ek maar die toetse gelos het. Vir 2 siek mense is ons besonder vreetsaam.

Jaco het ons gisteroggend versorg – pap, koffie en medikasie vir ons tot by ons beddens gebring. Maar daarna is alles afdraend.

Ek weet nie hoeveel keer ons by mekaar verby is op pad kombuis toe nie. Brood en kaas met tee (9 uur), van sondag se wildspot en tee (10:30), nog tee, broodjie voor middag pille (12 uur), tee, boerewors en n broodjie (2 uur), nog tee, toe uiteindelik aandete en nog tee. Aand pille en voor slaaptyd nog tee.

Vanoggend 4 uur toe my keel brand… nog tee! Ten minste kry ons genoeg vloeostof in. Ek voel soos n teepot en my blaas soos n gieter!

Vanoggend teen 5 uur (ek het toe lekker geslaap na my 4 uur tee) kom ons uitslae negatief terug. Baie dankbaar vir die uitslag maar ek moet sê die gewag smokkel met n mens se kop. Wat as… wat as… die getob en gewonder is nogal erg.

Ek sit en muf nog soos ou brood hier op die bank, sal more werk aandurf, gemasker en geserp.

Pasop… Vir die hond!

Ons het 3 honde…. n jack russel en dan n bad ass pitbul en n semi-pitbul. Ons het gedink sy is n pitbul maar nou het sy jakkals trekke en snaakse maniertjies.

So n week of wat gelede sê Jaco ons moet n “pasop vir die hond” bordjie koop om op die hek op te sit.

Gisteraand is hier n ligte donderstorm. Die pitbul lê in die gang, doodbang vir die geraas, die jack russel lê verveeld rond en kou haar toonnaels.

Die krag gaan af, huis is donker. Later besluit ons om maar te gaan slaap. Minky, die jack russel mik kamer toe, sy slaap by haar pa se voete. Die ander twee trippel trippel rond en kom nie tot rus nie. Die bad ass honde… Is bang vir die donker!!! Jaco prakseer n plan met n lessenaar liggie en die selfone se battery bank.

So ja…. Pasop maar vir die honde!

Happy camping…

Bootcamp done…. Op n vakansiedag nogal! Ek voel sommer jeugdig.

Dis nou ons 2de week by bootcamp en n mens leer vinnig. Wanneer ons daar aankom en die gewigies en goed word uitgepak in n circuit… Dan is ons oraait.

Wanneer ons daar aanland en die vloer is suspiciously leeg en die instrukteur smile net terwyl hy sy hande saamvryf… Dan weet ons ons is in vir n ander soort suffering. Dis star jumps, push ups, sit ups, crunches en allerhande dinge. Dit is ook nooit 2 sessies dieselfde goed nie. Mens kry nie kans om verskonings uit te dink nie, dis net go-go-go!!!

Terwyl ons aan die gang is suffer ons regtig. Maar wanneer jy daar uitstap het jy n lam en tam happy lyf en n ligte gemoed.

Ek het gisteraand tou gespring. Soos in daai aksie wat die ander kinders pouses gedoen het in die laerskool. Ek het gewoonlik in die biblioteek of op n stoep met my boek gesit. My brein en my bene is soos n ou getroude couple wat stry gekry het, hulle praat nie lekker met mekaar nie. Na 2 keer se bene knoop en amper omval het ek die ritme gevind, soort van.

Nou ja, my lyf weet nog nie dat moreaand zumba strong is nie en my brein hou sulke goed as n surprise. Ons sal more sien hoe ek die trappe bestyg. Dalk kan ek n nuwe trend begin en sommer onder op die sypaadjie voor die gym zumba! Ek hou vol… Die gym kort n blink paal, brandweer of stripper, maak nie saak nie.

Bootcamp

Die ding van monkey-see-monkey-do kan mens regtig in n ding laat beland. Pappa moet regmaak vir n karate grading iewers in die volgende paar maande. Lockdown tyd was regtig nie goed vir my gemoed of ons oefen roetine nie. Die wieletjies het bietjie afgekom en ons is nie fisiek waar ons graag sou wou wees nie. Iemand stel voor dat pappa saam met zumba dalk ook bootcamp probeer.

Ek gaan saam na die aanvanklike geselsie, just for kicks. Die dame daar het n baie funky skaal, hy meet meer as net jou gewig, dis meer soos n skinderbek kristalbal tipe ding. Tot jou waterdrink gewoontes en spiermassa word gemeet en dat bepaal die skaal jou liggaam se ouderdom.

Soos die dinge partykeer gebeur het ek net my ogies uitgevee toe is ek ook gemeet, geweeg, te swaar bevind en die pienk skaaltjie skat my body age toe n jaar kort van die Sassa ry vir “oumens pay”. Ek het die gewig van n springbok rugbyspeler maar die lengte van n Durban July jockey plus VAT. What a cheek!!!

Nou hoe nou anders gemaak as om maar saam met pappa die stryd aan te pak. Wie wil nou 44 going on 59 wees? Nou loop die week so… zumba strong, bootcamp, bootcamp en weer n strong klas…

Vertel pappie baie casual vanaand vir my dat as ons nou mooi werk kan ons op n dinsdagaand sommer na bootcamp by nog n zumba fitness klas ook inhaak.

Vanaand was dan ons 2de bootcamp klas. Die instructor het hierdie LO dinge in die vloot aangebied. Nou kyk, van vloot weet ek niks, ek kan nie eers swem nie. Ek het vanaand n paar keer gevoel of ek sommer op droe grond verdrink. Wanneer ek voel of ek nou net nie meer een treetjie kan verder nie se Riaan net nog n bietjie verder. Ek weet nou dat ek 20 push ups kan doen, al gaan dit swaar.

Aan die einde van die klas word ons gestrek soos ou rekke en toe trek die man daar n oversize koekroller sonder handvatsels nader en werk die kinks uit ons kapoet spiere uit. Ek moet bieg dat alhoewel ek tot op die been toe moeg voel, dit n baie lekker moeg is.

Gratis geskenke

Vandag bel ons dierbare vriende van Platinum Life my man. Hulle het sy bestaande polis opgradeer en hy kwalifiseer vir n gratis geskenk. Hy kan kies uit iets vir homself of ietsie vir sy vrou.

Oulike man wat hy is vra hy watter geskenkie hulle vir sy vrou sal stuur… Oorbelle. Hy se toe vir die man dat sy vrou nie oorbelle of make up dra nie.

Onmiddelik het hy die volle simpatie van die hele Platinum Life call centre en die flinkdinker vra vir manlief of daar dan nie n ANDER spesiale dame in sy lewe is vir wie hy die oorbelle sal wil gee nie…

Duidelik het die agent besluit dat n man wat getroud is met n vrou wat nie make up of oorbelle dra nie beslis n side chick iewers moet he. n Man kan nie met so n clean canvas saamleef nie, hy verdien n bietjie kleur in sy lewe!

Liefie het maar gegaan vir die veilige opsie… n Braaistel.

Vrot pampoene en eensame skoene

Julle almal het dit al gesien… Daardie enkele tekkie, skoen of flipflop eensaam en verlate langs die pad. Ek het altyd gewonder oor die misterie hiervan. Tot ek dit beleef het.

Ek het mos nou die monster scooter met n 125cc brul 🐯🐯🐯 wat my hope pret verskaf. Die dingetjie is baie nuttig ook in my daaglikse doen en late.

So paar weke gelede gaan dit wild en wakker en ek moet haastig n pakkie gaan afgee. Met my oog op die horlosie sien ek ek het net 10 minute voor die plek waarheen ek die pakkie moet vat gaan toemaak. Ek gryp vir pakkie, n masker, helmet en sleutels. Spring op scooter en woerts om Moederkerk en waar ek moet regs afdraai oor die dubbelbaan na Shoprite se kant toe is dit soos altyd n klomp voertuie wat heen en weer.

Van Adami se kant af in my rigting sien ek een van daardie tipper trokke aankom en ek weet die minute tik verby…. n dapper stapper begin oor die zebra streep stap en breek die trok se spoed. Net daar vat ek die gaping, gooi een been uit vir balans en ek vat daai draai soos n pro. Ek is sommer skaam trots oor hoe lekker dit was…. en toe voel ek die wind tussen my kaal tone deur suis en daaar agter op die wit streep in die middel van JA Calata straat lê my pers en swart name-brand-nogal flipflop wat aan die uitskop voet was.

Terug kan ek nie draai nie. Ek besluit toe om eers vir pakkie af te gee. Met een skoen kan ek nie hink nie. Ek pluk die oorblywende flipflop af en gooi dit in die bagasieruim van scooter. Kaalvoet en kop omhoog loop ek die gebou binne, minuut of wat te spaar en lewer vir pakkie af.

Met die uitkom besluit ek om om die blok te ry en die flipflop te gaan haal. Probeer dit toe en in my geestesoog kan ek al sien hoe ek spoed verminder, vir flipflop met my tone vasknyp en aan ry… Ek kan nie daar in die middel van die pad stop nie daar is eenvoudig te veel verkeer. Mens speel nie in die verkeer nie. Met die naderkom sien ek my teiken nog net daar in die middel van die pad op die streep lê. My spoed en koordinasie werk nie soos in my gedagtes nie en ek keer kaalvoet terug kantoor toe.

Met die huistoe ry gaan kyk ek weer maar die flipflop is weg. By die huis gekom gooi ek maar die oorblywende een in die asdrom. Maandagaand na werk, dit was vullisdag, kom ek by die huis aan en daar op die sypaadjie lê n enkele eensame pers en swart flipflop.

Met n suggie tel ek dit op om weg te gooi terwyl ek saggies by myself sing… Dis n vrot pampoen en n stukkende skoen….