Hoop…

Kromskouer sleepvoet mense… mense wat al te lank hoor en glo dat hulle niks werd en tot niks goed in staat is nie. Uitgedor droog, leeg getap en uitgewring van sukkel en swaar kry. Tot op die buitenste rante van die samelewing verban en daar laat staan. Baie mense om ons leef so dof-oog outomaties omdat dit al is wat hulle gegun word deur andere of daartoe gedwing is deur omstandighede of menslike swakhede. Ander glo dat hulle bestem is vir so min of nooit meer sal kan hê nie.

Soms vat dit net een gebaar, n mooi woord, n drukkie of opregte kompliment om mense se skouers te laat regop trek, n nuwe doelgerigtheid in iemand se stap te sit of die moedeloosheid bietjie te lig vir hoop om in te skyn.

** bogenoemde is sommer net gedagtes, is op niemand gemik nie en geen breinselle of troeteldiere is beseer in die gang van die denke nie!

In herinnering aan n legende

Elke kind het grootmense na wie hulle opkyk wanneer hulle klein is, mense wat hulle fassineer en hulle vorm. In my lewe was daar n paar sulke mense, en veral vrouens. Vandag, n jaar gelede, is een van die laaste van my kinder ikone oorlede. Tannie Ann Jansen van Nieuwenhuizen.

Ons het mekaar baie lank laas gesien. n Paar provinsies tussen ons. Maar die kinder herinneringe is so baie, en elkeen sit n glimlag op my gesig. Sy het die waarheid reguit gepraat sonder om linte om te bind. Skerp humorsin en tong en n nog skerper verstand.

Ek onthou haar in Kirkwood, langs ouma Ellie se kombuistafel, drink haar koffie of tee (kan nie meer die voorkeur onthou nie) uit n deurskynende glas bierbeker. Een van daai met n bikini meisie op.

Ouma Ellie was op n tyd in die hospitaal en almal trek saam in Harrodstraat. Ek beland in n karavaan saam met tannie Ann en nog n tannie. Die vrolikste siekewaak ooit. Ek het my so aan die twee verluister dat ek een aand die aandete pot misgeloop het.

Een aand in Glenconnor se huis maak hulle patats in die oond gaar, tannie Ann is op haar stukke en ek lag dat ek sukkel om asem te haal. Ek was op daardie stadium so 12 jaar oud en het omtrent sit en tande tel. Kort kort kyk sy my net en sê “van lekker lag kom lekker huil!”. Die volgende dag is dit toe ook so, ek word wakker met n hengse hoofpyn en maagpyn. Vir baie lank het ek gedink die tannie is heldersiende… Ek het glad nie die skuld op die patats gepak nie.

So kan ek seker n kis vol stories uitpak. Dit was n voorreg om tannie Ann te kon ken. 💖

Die lewenssiklus van wasgoed

Die nederige wasgoedmandjie… Plastiek of bamboes, bedrieglik… op die oog af onskadelik.

Dit begin so onskuldig… Amper flirterig. Eers n sokkie, dan nog een, n frokkie en n broekie, miskien n bloes of n baadjie. Wanneer jy weer sien is die mandjie vol en loop jou gemoed oor. Het jy dan nie net nou die dag die mandjies leeg gemaak nie?

Voor jy jou kom kry word die mandjies waskamer toe gevat en begin die siklus.

Partykeer is die klere in die mandjie, ander kere is dit n jagtog van formaat. Onder die bed, langs die bad, in n hoekie vergete in n kamer.

Sorteer, sorteer. Witgoed eenkant, fyn goedjies op n hopie, sokkies saam, handdoeke op n hoop. Molshopies word berge. Papies rustend bymekaar.

Die wasmasjien wag oopbek gretig vir die bondels en bondels klere. Tjommel tjommel, gor-gor werk hy flink deur die bonte mengelmoes, van denim tot katoen, wit, blou en groen.

Terug in die mandjie en die papies vlinder fladder gou gou in die windjie op die draad. Salige briesie en sonskyn, goue strale wat streel.

Die geurige droeë vlinders fladder terug in die mandjie, snoesig en sag. Nou vir die finale stappie voor hulle n rusplek kry in die kas. Sorteer, vou en stryk.

Skielik is sokkies enkel alleen… Maats nêrens te vind. Eensaam, verlore en verdrietig. Die twee eensaamste goed in die hele wye wêreld is n enkel sokkie en n Tupperware deksel sonder n bakkie.

Die vlinder-lappies vind gou n plekkie in die kas, geurig, kleurvol en glad.

Siklus voltooi. Die beste 10 minute in enige vrou se lewe is wanneer die wasmandjie, wasgoeddraad en strykmandjie almal tegelyk leeg is. Soete oorwinning, dit gebeur so selde.