Sluipmoord en n spinnekop

Daar was laasnag n aanslag op my lewe…. baie dramaties! Gelukkig is ek nog hier om my verhaal te vertel.

Ek is in die greep van n somer verkoue. Gistermiddag net na werk vat ek n ligte nap-attizer om van my hoofpyn ontslae te raak. Dit het toe die effek dat ek verby my gewone slaaptyd nog kombuis skoonmaak en tee drink.

Jaco het meeste van sy dag daaraan spandeer om my te help met n probleem op my rekenaar. Terwyl ek toe in die kombuis woel gaan vat hy n pre-sleep powernap.

Ons onderskeie ruskansies, die verkoue medikasie en die feit dat die somer se eerste ligte hitte ons getref het werk alles saam om ons slaapskedule effens deurmekaar te krap.

Alles het tot gevolg dat ons 2 uur vanoggend se kant tee drink – en nee dis nie n kode woord vir enigiets anders nie! Tee is gedrink en ons kom weer tot ruste.

Iewers tussen indommel en wekker tyd slaap ek salig half op my sy/half op my maag… – skielik word ek uit my slaap geruk deur iemand wat my aan my agterkop beet het en my gesig met mening deur die matras probeer druk!

Baie verward probeer ek myself teësit en verdedig – ons het nog nie n karate blok vir die situasie geleer nie en ek sukkel nogal. Die volgende oomblik word die greep op my kop verlig en my aanvaller lag kliphard dat die hele bed skud.

My slaapnewels verdwyn en die “where’s my fudge” lyn verskyn tussen my oë. Ek sit regop, draai om en kyk in Jaco vas wat homself breek vir iets.

Sy verduideliking… hy was besig om in n droom n yslike spinnekop te probeer vermorsel…. that’s his story and he’s sticking to it!

Om n boer te groet

Sondagoggend het ons n uitroep na n plaas toe. Met die terugkom hoor ek die pad is nogal n ervaring. Die chrysler se pens het 2 keer gekrap – ons voertuie is nie juis beroemd vir hulle “hoogte bo grondpad” nie.

Soos die week verloop ontmoet ons die familie en begin reëlings tref.

Ons gaan die teraardebestelling in die plaas begraafplaas doen met n diens daarna in die kerk op die dorp. Die teraardebestelling is 8 uur in die oggend – op n plaas horlosie is dit amper al middel van die dag. Ons word mooi verduidelik… pa was nie iemand wat hom bemoei het met n laatkommery nie, so asseblief wees betyds.

Enigiemand wat doen wat ons doen sal weet – jy beplan vir alles en dan vir die onvoorsiene ook. Ek laat gistermiddag n sleepwa pak met 2 spaarwiele en enige “spanners” wat mens kan nodig kry – niemand gaan in hulle begrafnis klere op die grondpad rondseil as daar nood is nie. Die voertuig vertrek vanoggend 6 uur uit die dorp – op n dorphorlosie is dit nog amper in die nag!

Ek behartig ons deel van die werk by die kerk diens. Vir my is die lekker hiervan om die leë stil kerk te beleef voor enigiemand aankom. Die orrelis oefen, ek bewonder die mooie blomme, kerse en foto voor in die kerk. Die kerkklok lui 30 minute voor die diens begin en ek gaan staan op die kerktrappe en kyk uit oor die parkeerterrein en die dorp.

Soos die mense begin aankom moet ek glimlag. Kyk, daar is n paar goed wat ons op die platteland baie ernstig opneem – kerkbasaar, troue, doop en begrafnisse.

Jy weet jy is by n egte boere begrafnis as daar net 1 motor vir omtrent elke 6 bakkies is. Uit die bakkie klim enige figuur van kleinboet wat nog net 3 jaar by pa leer boer tot die ooms met die silwer kuiwe wat met een oog die lug kan opkorrel en sê of dit gaan reën en of die wolke laatmiddag Tarka se kant toe gewaai gaan word. Ooms met formele broeke en n sportbaadjie in donkerblou of swart – uitgevat, netjies van die kuif tot by die cologne. Gesonde sonbrand op die gesig.

Niemand stap stemmig in en gaan sit nie. Daar word eers blad geskud en gedruk en gesels. Borde en borde eetgoed verdwyn in die kerksaal in vir later. “Later” – die tee na die diens is n kultuur ervaring in eie reg!

Baie keer is die oorledene iemand wat ek glad nie ken nie of ken van sien in die dorp.

Wanneer die begrafnis boodskap gebring word deur n buurman, die voorbereiding van die graf deur nog n buurman gedoen word, die blomme en eetgoed deur vriendinne van die familie gedoen word en die werkers wat vir 40 jaar van sonop tot uitvaltyd skouer aan skouer met die oorledene gewerk het n kerkbank vol sit – dan voel mens liefde.

Die huldeblyke vertel van iemand wat nie net geboer het nie maar wat met ewe veel gemak in n pak klere op komitees kon dien en bemarking hanteer het as wat hy sy bakkie op die plaaspad laat loop het.

Na die laaste lied en amen verdaag die begrafnisgangers en word daar kerksaal toe beweeg vir die tee. “Tee” is n baie ligte woord vir die byeenkoms. Geen moeite is ontsien nie – fyn detail in die stoele en mat wat spesiaal neergesit is in die portaal, tafels wat versier is vir lekker gesels en opvang. Ek is oortuig daarvan dat die enigste plek waar n boer lekkerder kan kuier as n begrafnistee is OVK se stoep. Die saamkom is n tyd vir stories ruil, opvang en die onthou van n geliefde familielid of vriend se lewe, die vier van n lewe.

Meer as trots in my werk het ek die grootste respek vir dit wat ons doen – om vertrou te word met details van die laaste totsiens vir n geliefde is n voorreg en n eer.