Boomskraap maar nie broekskeur nie

Ek sit op die kantstoep van die huis met n koppie tee en hoor die toeskouers en kinders by die Voorbereidingskool se sport wedstryde, agter my rug in die straat ry voertuie verby. Daar is n ligte windjie en die son skyn op my gesig.

Die huis kort aandag maar Eskom sê eers later. Nou sit ek, sonder haas en dringendheid en vat die tydjie af. Die rustigheid is lekker.

Vier weke gelede was my gemoed heel anders. Angstigheid, ongelukkigheid en ontevredenheid het hoogty gevier.

Tussen 2016 en nou het n reeks negatiewe goed soos branders oor my gerol – my ma, oupa, stiefpa en broer is oorlede in die bestek van vier jaar. Elkeen van die begrafnisse het sy eie stres gehad, n massiewe huis wat opgepak moes word.

Covid het ons almal se lewens kom omkeer, werkskrisisse is vol in die blom… net daaroor alleen kan ek n boek skryf.

Met elke krisis wankel mens bietjie, stof jouself af en gaan aan. Elke gebeurlikheid vryf net bietjie van jou menswees-vernis af…. skaterlag en pret word net n ligte laggie, word net n glimlag, word n frons. Kuiers word moeite, alles word moeite. Mens word “moody” en probeer jouself in n beter gemoed in “regruk”.

So elke nou en dan gaan jou liggaam se “check engine” liggie aan – bloeddruk skiet op, hartklop hol weg, jy slaap sleg en suig rescue pilletjies soos sweeties. Dan kalmeer jy weer en druk deur.

Skielik, op n dag vat dit net een mediumgrootte krisis om die mat heeltemal onder jou uit te ruk en jou gemoed bloedneus te bliksem.

Die uiteinde is dat jy so huil (vir iemand wat nie n huiler is nie) dat jy by die dokter gaan draai – 1 week blaaskans, n hart uitpraatsessie, n pilletjie vir ingeval en n opvolg afspraak. Die opvolg afspraak eindig in nog n week se rus op dokters orders, die keer sonder n pilletjie.

Die twee weke is niksdoen tyd, leestyd, slaap tot 8 uur in die oggend tyd, saam met my man rondry tyd…. en dink tyd. Ek is oor die algemeen meer van n doener as n denker.

Die uiteindelike les is…. maak jouself los van goed wat sleg is vir jou gemoed, maak jou los van dinge wat in elk geval buite jou beheer is. Raak selfsugtig en sit die selfoon se klank af wanneer jy oorweldig voel. Wanneer n mens panic elke keer as jou selfoon lui is jy op n slegte plek! As dit nie joune is om oor te worry nie, moenie!

Meet jou porsies tyd baie versigtig af en deel dit oordeelkundig uit. Moenie so aan ander se oeste werk dat jou eie landerye karig bly nie. Dis oraait om partykeer aan jouself te dink.

Dit was geen magic oplossing nie. Die paniek en worry ry mens nog wanneer jy dit n halwe kans gee. Swaai daardie oomblikke so spoedig moontlik om – moet dit nie n rusplek in jou kop gee nie.