Menslike natuur…
goed of sleg?
Hier in die week vlieg daar so n kuifkop voëltjie by die kantoor se voordeur in. Inkom is baie maklik… om weer te kan uit is n ander storie. Die binnekant van ons gebou se plafon is baie hoog (ou gebou) met baie hoë vensters. Die arme outjie vlieg homself telkens amper disnis teen die ruite in sy soeke na die blou-blou lug wat wink.
Teen huistoegaan tyd vlieg hy nog steeds en bemors in die proses die kantoor met allerhande goed wat hy van die vensterbanke af laat val. Ons het geen ander keuse as om hom maar net te los en te hoop hy laat nie alarm deur die nag skree nie.
Ek kom die volgende oggend by die kantoor en die outjie sit baie beteuterd op die sypaadjie voor die kantoor. My kollega het hom kry sit op die fotostaatpapier – skoon kapoet gesukkel.
Ons hou n ogie oor hom, hopend dat hy sy kragte sal herwin terwyl hy in die oggendsonnetjie sit.
So uur later stap n jong outjie op die sypaadjie verby en merk die voëltjie op. Hy trek sy been terug en skop die arme weerlose dingetjie dat hy deur die lug trek en n ent verder grond vat. My kollega is boosaardig! Sy vertel my wat gebeur het en op die plek kook my bloed.
My eerste gedagte is dat ek die man mos sal byloop en “bodyslam” met my volle gewig!
Ek sit en wonder wat in die mannetjie se gedagtes hom daaraan laat dink het om so iets te doen? Het dit hom enige vreugde verskaf?
Terwyl ek nou so in my gedagtes die een sit en slegsê oor sy onnodige wreedheid kan ek nie help om te wonder wat my reaksie van my sê nie. Om iemand te wil bodyslam of sy kop bo van sy lyf af skop… is seker nie veel anders as om n voëltjie op n sypaadjie dood te skop nie.
Groot sondes… klein sondes… geen verskil! Die dooie voëltjie en my reaksie het my n rukkie besig gehou.