Man-oh-man… perimenopause

Wanneer n meisie so by haar 12 de of 13 de verjaarsdag uitkom begin die tannies met die vrae… jy word met n krom vinger nader gewink, die tante klop op die sitplek langs haar en jy gaan sit grootoog versigtig. Sy maak liggies keel skoon en fluister-vra “So… is jy al n grootmeisie?”

Jy frons eers want die tannie kan mos sien jy is al redelik lank op die been… en dan gaan die liggie bokant jou kop aan… Jy weet nie of jy moet bloos, hakkel of net in die stoel wegsmelt nie. Afhangende van jou persoonlike omstandighede gaan jy of instemmend knik of jy gaan verbouereerd jou kop ontkennend skud.

Al wat jy weet is dat daar verlede week drie donsveeragtige haartjies onder jou linker kieliebak ingetrek het en dat jou wit skoolbloes se knope skielik in n titaniese lewe-en-dood stryd gewikkel is om jou kuis geklee te hou.

Soos die tyd verbygaan leer jy om hierdie veranderinge en verwikkelinge te omarm en met genade tem jy die maandelikse hormoondraak soos die gediertetjies in “How to train your dragon” so goed as wat jy kan. Sommige maande is beter as ander. Met geluk kom jy en die mense rondom jou daardeur sonder enige permanente skade.

Jy raak gemaklik, geborge en leef in redelike vrede en harmonie met die getye van elke maand. Jy weet in jou onderbewussyn daar gaan n tyd kom van verandering. Die tannies is nou vreemd stil en afwesig. Dis soos daardie familie geheim waarvan amper almal weet maar niemand oor praat nie. Niemand het raad vir hierdie nuwe fase nie.

Stadig stadig en amper ongemerk bekruip dit jou. Elke nou en dan n klein simptoom, amper n kul-jou-hier-kul-jou daar situasie. Byna al wat mens weet van hierdie nuwe fase is natuurlik die nommer een verandering (en dis iets waarna menige vrou reikhalsend uitsien)… ek self het menige kere gesê wanneer ek hierdie mylpaal haal maak ek die straat toe en hou n spitbraai in die middel van die pad. Saam met dit weet ons van n warmgloed of iets – hoe intens dit sal wees weet ons nie.

Een oggend word jy wakker en besef (of jou geliefde lig jou in) dat jou sonskyn persoonlikheid oor die vorige aantal jaar geleidelik verflou het. Jy is nou net so semi vrolik op jou beste. Die lysie simptome is so vreemd en wyd verspreid… mens het meeste van dit toegeskryf aan werkstres, kinders grootmaak, huis versorg, familie krisisse – natuurlik gaan jy moeg wees, natuurlik sit jou klere anders ens ens.

Met die hulp van die internet en tegnologie kom jy agter waarmee jy te doen het… n hele nuwe spesie van hormoon gedrewe gedroggie!

Jy begin op jou vingers die simptome aftel… die kans is goed dat jy in die helfte van die oefening al die eerste drie goed op die lysie vergeet het, die lysie verloor het, na jou vingers gekyk en besef het dat jy al drie weke overdue is vir n manikuur… en wonder wanneer al die goed begin het?

Scary scary gedagte… teen die tyd wat jy die groter goed begin agterkom en “connect the dots” begin speel – is jy al sowat 5 – 8 jaar in die pad af op die reis. My geliefde het – toe ek my ongeloof uitspreek oor hoe lank die goed al aan die gang is – dit vergelyk daarmee om n padda in n pot vol koue water op n stoof te sit en dan die plaat stadig om te draai. Teen die tyd wat die padda besef die water is warm is dit te laat.

Stay tuned… vele vreugdes volg – hierdie is n novelle, nie n kortverhaal nie!