Moer n boer

My stiefpa was n redelike rou engelsman toe hy by ons spulletjie aankom. Hy het darem gou mens geword.

Wanneer ons afrikaanse kultuur hom laat frons het – gewoonlik maar oor sêgoed en musieksmaak – het hy altyd gelag en gesê “o f@k, julle boertjies is plat”.

Ek weet nie wat hy van ons huidige kykgenot sou gedink het nie – ons sit met groot vreugde en kyk “Moer n boer”. Ouens met byname soos “Kombuislig” en “Stofvark” is aan bewind hier. Die een wenner sê tydens sy onderhoud na die tyd…”Julle almal wat getwyfel het kan loop k@k!!!”

Hierdie manne choke mekaar – ek kan sommer sien hulle bulle loop in n mooi reguit ry en die werkers is almal nugter op n Maandag.

Jonathan is kommentator en hy stuur die wenners af met n “gaan kry vir jou n brandewyn”.

Die enigste ding wat vanaand die baster engelsman se goedkeuring sou wegdra is die knoffelmossels wat ek vir aandete gehad het.

Nou wag ek net om te skree “Go Tier!!!” Terwyl ek met my hand of plakkie op die koffietafel slaan soos daai tannie met die woeste perm en die growwe Stuyvesant stem in die 80’s toe Gerrie “Seerhandjies” Coetzee geboks het!

Die maatstaf van verlies

Vloeistowwe kan mens meet in ml en L. Meel kan mens meet in g en Kg. Klank en spoed kan gemeet word. Hoe meet mens verlies?

Gisteroggend was net nog n doodgewone Saterdag aan die begin van die lente. Die son het geskyn en alles was rustig…. Tot die klank van die nooddienste se sirenes deur die lug gekerf het en daarna n verdwaasde stilte oor die dorp laat hang het, swaar soos n drupnat kombers. Eers was dit net nog n ongeluk op die N10, die soveelste een die jaar.

Baie gou kon mens gesigte by die name voeg… in n dorp so groot soos Cradock ken almal mekaar, al is dit soms net bolangs – groet in die verbygaan in winkels, loop mekaar raak by die bank of kerk. Die oorledenes almal welbekendes van die dorp… party hier gebore en voor ons oë grootgeword.

Pragtige mense, vrolik en blinkoog met n liefde vir die lewe, hulle families en vriende. Vol planne vir die toekoms, lewenslustig.

Vanoggend vroeg staan ek in die kombuis en wag vir die ketel om te kook. Die dorp is toegevou in die vroegoggend stilte. Dit voel asof die dorp asem ophou – soos wanneer mens se wind uitgeslaan is en jy weet dat elke asemteug jou ribbes gaan laat pyn.

Want ons weet… more wanneer die week roetine begin gaan n sitplek in n klaskamer leeg wees, iemand se kantoorstoel gaan leeg bly…

Verlies is soos branders of klankgolwe wat bly beweeg, rippels op n dam se oppervlak na n klip gedagteloos gegooi is en die gladde oplervlak versteur het. Verlies het nie n tasbare maatstaf nie maar mens-harte herken dit en voel dit saam met diegene wat treur. Al kan geen woorde troos nie dra ons flenters van mekaar se pyn.

Ek staan so en een van my ma se gunsteling liedjies kom in my gedagtes op…. Stop die wêreld, ek het seergekry… en ek wens mens kan die aarde se as net vir n oomblik met jou hand briek soos ons ons bmx fietse se wiel kon draai-draai-draai en dan skielik met jou hand stop wanneer die fiets na n pap wiel se regmaak wiele boontoe gestaan het. Dit voel dat as die wêreld net n oomblik kon stil staan die verslae treurende families sou kon asemskep voor hulle n nuwe fase van hulle lewens aanpak waarin niks ooit weer soos die dae voor gister kan wees nie.

Rus sag… in ewige vrede. 💕