My f@k, Marelize…

Almal weet Marelize het hard geval met ‘n fiets….

Nie almal weet dat ek lank voor Marlize baie hard geval het met ‘n fiets nie. Ek weet nou nog nie wie van die bakkie bestuurder of Jeanette Schoeman daardie oggend op die Marlow pad die grootste geskrik het nie – ek is so vinnig grond toe ek het nie tyd gehad vir skrik nie.

Na aanleiding van daardie voorval 20 jaar gelede het ek nog nooit weer padfiets gery nie. Ek het ‘n baie mooi oefenfiets wat in die sitkamer staan wat ek opsaal. Vanoggend gaan draf liefie en ek bestyg my trusty steed…

Oefening is deesdae soos getuig in die hof… as jy beweer moet jy kan bewys en almal “track” alles. Die oefenfiets meet nogal spoed, afstand en hartklop – alles netjies op ‘n paneel hier voor mens. Jy kan tot vooraf op ‘n program besluit wat opdraende en afdraende afwissel. Ek het ‘n baie oulike horlosie wat alles van my hartklop tot my bui kan bepaal.

Ek kry my sit op die fiets, stel die program, sit die fiets aan die gang en trap ‘n hele entjie voor ek besef ek het vergeet om die horlosie te begin. Ek stop die fiets program, sit die horlosie aan die gang, sit Spotify aan vir inspirasie en begin trap.

Spotify het ook luisterlysies vir oefening sodat ek nou nie stadig op tannie Dolly se country ritme trap nie maar regtig sweet. Ek kies sommer die eerste luisterlysie en begin.Spotify besluit op ‘n liedjie genaamd “Talk dirty to me”… Ek moes dalk net by die liedjie se ritme gehou het en nie die woorde geluister het nie. Ek trap al hoe vinniger en vinniger om van die woorde af weg te kom. Ek weet nie of ek bloos van die woorde, van die inspanning van trap of dalk ‘n hotflush beleef nie. Nee vrekkit, dalk moet ek maar op Steve of tannie Dolly se ritme trap.

Ek verneem dat daar ‘n fliek gemaak gaan word oor Marelize se dilemma…. ek dink nie “Talk dirty to me” sal in pas in ‘n fliek se soundtrack nie – ek sal maar my storie vir myself hou!

Mistaken Identity

Vrydagaand maak liefie aandete. Ek het n bestelling ingesit vir n lekker hamburger. Ons besluit dat terwyl hy alles regkry om die burgers aanmekaar te slaan ek sal ry en vir ons chips en uieringe kry by Spur. Die lewe is te kort om mens se eie uieringe te maak.

Ek ry met die immer gewillige Kaspaas dorp toe. Met die terugkom bespeur ek daar ver voor die biblioteek n blou skynsels in die skemer… die manne in blou. Nou kyk, Kaspaas is gretig en gewillig maar nie sonder n krenk of twee nie. Sy een voorlig is op “dim” soos my linkeroog wanneer ek moeg is – net effens dowwer as die regter een.

Ek het een van twee keuses –

Ek ry met die een-dowwer-as-die-ander lig by die wetsmanne verby en kry moontlik n boete… of

Ek ry op “bright” by hulle verby en het die moontlikheid van n boete. My ma het n besondere talent gehad wat ek meer as een keer eerstehands ervaar het en ek weet dis goud – sy kon binne 0.3 sekondes voor die aangesig van n spietkop snot-en-trane huil en het dan skotvry of met n minimale boete daarvan afgekom. Ek het nie daardie talent geerf nie. Ek maak gewoonlik op my humorsin staat maar die week was lank en my humor is dun geskaaf. Ek werk vir myself uit dat daar n derde opsie is. Tussen my en die blou skynsel is n 4 rigting stop en ek draai links.

Ek sien uit die hoek van my oog dat daar van my regterkant af nog blou ligte in aantog is. In n dorp van Cradock se grootte is geen ompad n groot draai nie. My ompad vat my na regs en nog n regs tot by nog n 4 rigting stop waar ek moet links draai. Net toe ek daar aankom stop een van die voertuie met flitsende ligte aan my regterkant. Net toe ek links gedraai het moet ek weer regs want daar is padwerke wat my pad blok. Die volgende oomblik gaan daardie ligte in disco mode in en word vergesel deur klank… ek trek af, skakel die bakkie en ligte af en klim sommer uit en staan kiertsregop op aandag langs Kaspaas. Die man in uniform klim uit en skyn sy flitsie eers op my en toe ondersoekend op Kaspaas wat staan en lyk asof botter nie op sy bonnet sal smelt nie… die onskuld vanself. (In my gedagtes sing ek soos Wicus “Spietkop… kan ons nie maar vergeet en vergewe…”)

So in die aanstap en skyn skyn met die flitsie groet die man beleefd. Toe hy op die nommerplaat skyn staan hy so treetjie terug en lyk effens teleurgesteld. “Oooo, dis nie n Vrystaat registrasie nie…” nee jong, Kaspaas is n plaaslike bakkie. Phew!!! Een of ander bakkie wat van ver af in die donker soos Kaspaas lyk het die manne ontwyk… ek kon darem die huis haal voor die chippies koud was.