Janu-worry inkopies

Dis mos nou daardie laaste week van die eerste maand van die nuwe jaar – alom bekend as 1 – 97 Januarie. Vrydagoggend merk ek op dat my roll on sy einde bereik en maak n gedagte-nota om te gaan koop. Hierdie tipe nota het die manier om te verdwyn.

Gistermiddag beland ons in Spar, met my gedagtenotas en n leë waterbottel. Jaco gee die waterbottel in ons beweeg deur die winkel om die goedjies op ons lysies bymekaar te kry.Die roll-on nota is nog in die lysie – soos n stadige rekenaar wat van tyd tot tyd eers buffer. Ek staan en kyk tussen die koeldranke vir n sugarfree enigiets wat koud is toe hier neffens my twee gesiggies verskyn. Een van die makkers vermis n ogie. “Gaan jy vir my brood koop?” vra die een met n growwe stemmetjie en die gesiggie op n plooi getrek. Ek skat hom so 10 jaar oud. Cheeky verby en my hart smelt.

Met n (hopelik) kwaai stem vra ek “en hoe sê mens?” “Asseblief tannie” koor die twee saam. Ek sê hulle kan solank gaan wag, ek sal kyk wat ek kan doen. So met die omdraai en wegstap roep die een oor sy skouer “en polony!” Ek begin werk aan hierdie nuwe inkopielysie en ons gaan betaal. Terug by die huis begin ek met aandete en met die omdraaislag soek ek die kan water…. die staan geduldig en wag op Spar se toonbank. Jaco is maar gedwee terug Spar toe.

Vanoggend maak ek reg vir kerk en word gekonfronteer met n oop spasie waar my roll on botteltjie gewoonlik staan. Op die hoekie staan n ander botteltjie – Tiaan het huis opgepas en sy een botteltjie agtergelos. Nood is nood en niemand gaan mos weet nie, dit word 40 grade en ek wil net nie sweet en benoud ruik nie. Uitklimslag by die kerk en toe ek my arms oplig weet ek skielik nie of ek moet grassny, n kar se olie aftap of n boerboel broekie wil gaan koop nie…