n Bitter pil om te sluk

Ek is oortuig daarvan dat die een wat die gesegde “Dis n bitter pil om te sluk” uitgedink het op Prednizone was.

Na elke stropie, pilletjie en doepa wat ek self kon uitdink vir my 100-dae hoes en snuffels is ek einde ten laaste gister dokter toe.

Die man met die masjien neem fotos van alle kante van my longe, klink hy werk vir Police File, dis net kliek-kliek-kliek.

Dokter kyk die prentjies, loer in my keelgat af en luister vir dit wat hy nie op die mugshots kan sien nie. Daar is geen bromkaatjies nie, niks. Dalk net die laaste stukkies van n kiem wat rondkuier in my binneste.

Enigeen wat my ken sal weet ek stap rondom n berg om kortisoon te vermy maar die keer is dit nou my lot, saam met n asmapompie.

Vanoggend moet ek die eerste van die ongewilde wit pilletjies drink en ek maak gereed. Die is mos nie n pilletjie wat jy net sluk nie. Jy het omtrent n stroom water nodig. Nie omdat hulle moeilik afgaan nie, die goed is bitterder as gal. Ek het sover gegaan as om n marmelade toastie voor die tyd te eet as offer aan my ingewande vir wat gaan volg.

Ek probeer die pilletjies in my mond gooi en n skoot water so vinnig moontlik agterna met die gedagte dat my tong dalk kontak met die pilletjies kan misloop.

Ek het in my jong dae nie genoeg geoefen met shooters nie want my reaksie is te stadig. Mensig, my oë traan en my neus loop na die spul maar dis in. Nou moet ons maar wag en kyk of die beloning soete stilte en n salige nagrus gaan wees.

I was never ready for this…

Ek ken iemand wat altyd sê “I was never ready for that” wanneer iets gebeur wat swaar/snaaks is.

Ek het al geskryf oor een van my hart-se-punte, Genade (Charlie).

Saterdagoggend nou twee weke gelede stap ek net by die werk in toe my foon lui. Dit is tannie Margaret (Charlie se ouma). Sy soek dringend n ambulans by hulle op Visrivier. Genade is van die vorige dag af knieserig en hulle het sedert die nag probeer deurkom, sonder sukses.

Ek kom gelukkig vinnig deur en gee die nodige inligting. Ek bel terug en sê vir die tannie die ambulans mense gaan haar kontak. Na n ruk laat weet die tannie niemand het nog gebel nie, dit gaan slegter en hulle gaan maar met privaat vervoer die stuk pad inkom dorp toe.

Dis n redelike deurmekaar oggend. Tussen begrafnisse het ons nog n sterfgeval by n huis en ek moet die hospitaal bel… die sekuriteitswag antwoord die foon, almal in OPD is besig met n noodgeval, ek moet weer bel. Ek kan al n eier kook van ongeduld maar wag 15 minute en bel weer. Die suster antwoord, ek doen my navraag en net voor ons aflui vra ek of die tannie van Visrivier daar uitgekom het met die siek kindjie… sy vra of ek die mense ken ek en verduidelik my band met die mense. Die suster antwoord “toe jy vroeër gebel het was ons almal met hom besig. Hy het dit nie gemaak nie”.

Daar was seker 4 keer in my amper 18 jaar by die werk wat ek gehuil het. Trane hier en daar is normaal, maar hierdie was snot-en-trane skouers ruk en snik van huil.

Hierdie week het ons n kissie bestel en reëlings getref. Vandag was die begrafnis. “I was never ready for this!”

Genade, jou “dorp ma” gaan jou kuiertjies en die skaam glimlag en onnutsige attitude mis!

In sy kort lewetjie op aarde was Genade vir ons n bron van liefde en vreugde.

n Hoes en n poep…

In afrikaans het ons n sêding wanneer iemand jou afjak… “hy het op my battery gepiepie”. Nie dat die sêding eintlik sin maak nie. Wanneer laas het iemand jou battery behoorlik sopnat gepieps? Jou afgeskakel dat jou kakebeen grond tref?

Ek sukkel om van die griep/verkoue ontslae te raak. Al wat nog eintlik oorgebly het is die 100 dae hoes besigheid. Mens se keel krap en as jy weer sien hoes jy tot die trane rol en jy tamatie-rooi in die gesig is. Dis koud, ek het n trui met n rolnek aan, lekker snoesig. Elke dan en wan gee ek n hoesie. Om nie almal om my nat te hoes nie lig ek met elke hoesbui die gerieflike rolnek so oor my gesig dat net my oë uitsteek.

Ons beland in die ry by die betaalpunt. Een ry links van ons staan n ma met 3 kindertjies in haar waentjie. Die hoes vat my weer n slag… die een dogtertjie kyk my aan met n frons. Engelgesiggie met sulke strawberry blonde haartjies en n roosknop mondjie, te pragtig. Toe die hoes bedaar en ek my wange afvee en my asem probeer kry kry sy so n afkeurende trek op die gesiggie, die wenkbroue frons nog stewig, die mondjie tuit en sy spoeg behoorlik die woord uit “SIES!!!”

Nou kyk, ek weet op my ouderdom kom daar partykeer saam met die krag van die hoes n bietjie fout met die knypers en dan glip daar n ligte donderweertjie iewers suid uit. Maar ek is seker dit het nie nou gebeur nie… of het dit? Ek het niks gehoor nie…

Ek giggel, Jaco lag sommer kliphard en die kind se ma wil haar doodskaam. Sy stoot die waentjie effens vorentoe om n skans van suiglekkers en kougom tussen my en die klein snip te bewerkstellig. Vir die volgende 10 minute het ek my hoes met n ysterhand probeer inhou!

My huwelik en n pot ertjiesop

Gisteraand het ons n heerlike sop & sjerrie aand gehad wat deur ons kerk gereël is.

Man van die huis het met groot geesdrif aangebied om n pot sop te maak. Ertjiesop… baie lekker! Net toe ek van die werk af kom moet die sop by die saal afgegee word.

Die dilemma – word die sop net so in die slowcooker vervoer of gaan ons die sop oorgooi in die dieper stoompot? Na n diekant-daaikant bespreking en die in agneem van die noodsaaklike warm hou van die sop word daar besluit om die sop in die slowcooker te hou.

Na n vorige onderonsie met my linkshandige onhandigheid het die slowcooker een van sy ore verloor. Tydens daardie veldslag het die glasblad wat bo oor die gasstoof kom ook sy Moses teëgekom en in amper soveel stukkies as die name op die onlangse verkiesingsbladsye gespat… onredbaar. Ek het weke later nog oral stukkies shatterproof glas gevind wat soos diamantjies lyk.

So word ek sitgemaak aan die passasierskant van gewillige Kaspaas met die skinkbord met die slowcooker wat tot amper bo vol warm sop is. My enigste werkie is nou om seker te maak die sop bly veilig in die pot terwyl manlief die immer gewillige Kaspaas deur die slaggat besaaide pad tot by die saal navigeer. Dit klink veel eenvoudiger as wat dit is. Net by die oprit uit, die hek is nog nie eers toe nie en ons het ons eerste uitdaging. Skielik en sonder waarskuwing is dit spitsverkeer in Proteastraat en ons moet botstil wag. Ons kom in beweging en nog voor ons by die stopstraat kan uitkom moet manlief 849 klein slaggate mis.

My senuwees… die sop lyk soos hoogwater/springgety iets. Ek werk al aan die verduideliking vir wanneer die dokter vra hoe ek derde graadse brandwonde in my skoot opgedoen het en hoekom daar n mengelmoes van ertjie en wortelstukkies betrokke is.

Eerste rat en skaars regsgeswenk en die sop maak branders. Ek besluit om my bene te probeer inspan as stabiliseersers, met min sukses. Ek begin so onder my asem (wat in elk geval aan die min kant is) sjit-sjit-sjit! Maar mens mag nie oor/voor/as gevolg van kerk sop swets nie en ek doen net my bes.

Na wat soos n ewigheid voel stop ons sommer teen verkeer in voor die saal en liefie masjeer die saal binne met sy offer. Met die uitstap loop ons ons vas in nog n sopkoker egpaar op pad met hulle pot sop.

Ons deel ons lot met mekaar en ek sê ek was so bang die sop val oor my en dan moet dit afgelek word. Die tannie lag en sê dis die soort ding wat sal maak dat haar man aspris mors!