Vloeistowwe kan mens meet in ml en L. Meel kan mens meet in g en Kg. Klank en spoed kan gemeet word. Hoe meet mens verlies?
Gisteroggend was net nog n doodgewone Saterdag aan die begin van die lente. Die son het geskyn en alles was rustig…. Tot die klank van die nooddienste se sirenes deur die lug gekerf het en daarna n verdwaasde stilte oor die dorp laat hang het, swaar soos n drupnat kombers. Eers was dit net nog n ongeluk op die N10, die soveelste een die jaar.
Baie gou kon mens gesigte by die name voeg… in n dorp so groot soos Cradock ken almal mekaar, al is dit soms net bolangs – groet in die verbygaan in winkels, loop mekaar raak by die bank of kerk. Die oorledenes almal welbekendes van die dorp… party hier gebore en voor ons oë grootgeword.
Pragtige mense, vrolik en blinkoog met n liefde vir die lewe, hulle families en vriende. Vol planne vir die toekoms, lewenslustig.
Vanoggend vroeg staan ek in die kombuis en wag vir die ketel om te kook. Die dorp is toegevou in die vroegoggend stilte. Dit voel asof die dorp asem ophou – soos wanneer mens se wind uitgeslaan is en jy weet dat elke asemteug jou ribbes gaan laat pyn.
Want ons weet… more wanneer die week roetine begin gaan n sitplek in n klaskamer leeg wees, iemand se kantoorstoel gaan leeg bly…
Verlies is soos branders of klankgolwe wat bly beweeg, rippels op n dam se oppervlak na n klip gedagteloos gegooi is en die gladde oplervlak versteur het. Verlies het nie n tasbare maatstaf nie maar mens-harte herken dit en voel dit saam met diegene wat treur. Al kan geen woorde troos nie dra ons flenters van mekaar se pyn.
Ek staan so en een van my ma se gunsteling liedjies kom in my gedagtes op…. Stop die wêreld, ek het seergekry… en ek wens mens kan die aarde se as net vir n oomblik met jou hand briek soos ons ons bmx fietse se wiel kon draai-draai-draai en dan skielik met jou hand stop wanneer die fiets na n pap wiel se regmaak wiele boontoe gestaan het. Dit voel dat as die wêreld net n oomblik kon stil staan die verslae treurende families sou kon asemskep voor hulle n nuwe fase van hulle lewens aanpak waarin niks ooit weer soos die dae voor gister kan wees nie.
Rus sag… in ewige vrede. 💕