Not so normal new normal

Ek verlang na die goeie ou dae… wat sommer nog 2 jaar terug was,
Dae van onbevange lag
sonder n lap oor jou gesig.
Ek verlang na spontane onbeplande Vrydagaand kuiers en coffee shop geselsies,
Ek mis die in-die-middel van n kruidenierswinkel gang klets in n bondel,
Ek verlang na bank-ry geselsies en die voorreg om babas op te tel en te troetel,
Ek mis dit om skoolkinders te sien oefen op sportvelde in die middae,
Naweek kuiers saam met vriende, die opgewondenheid van n rugby kaartjie by n stadion… al gaan vergaap ek my aan die toeskouers want ek ken niks van rugby nie, oorvol winkelsentrums in Desember, matriekafskeid rokke gaan kyk by die venue se ingang… kerk bazaar en sondae se tee onder die bome.

Ek hou nie van die lam magtelose gevoel wat ek kry wanneer ek n foto op fb of whattsap sien met RIP/RIV, ons gaan jou mis boodskappies nie, ek hou nie meer van Donna Taggard liedjies nie.
Dit voel of mense-lewens uitgevee word soos somme op n swartbord.

Ek mis die dae wat n “wave” was wanneer iemand verby my huis ry en groet wanneer ek buite staan. Daar is niks meer positief aan + nie.

Gaan ons eendag ons maskers kan weggooi of verbrand soos die tannies destyds gedoen het met goedkoop bras? Mekaar weer vol in die gesig kyk… Gaan ons ons mense weer teen ons kan druk tot ons kreun? Meer happy birthday boodskappies as simpatie versies stuur?

Sal ons wêreld eendag weer heel wees? Sal ons die “new normal” kan uitvee soos somme op n swartbord? Want daar is niks normaal aan die huidige nie.

Beste medisyne

Ek het al die week al deeglik genoeg gekreun en geween oor my siekbed. Ek gaan nie weer nie.

Gisteroggend besluit ek 4 dae se teedrink en home remedies werk nie, ek voel al slegter. Ek sal maar n afspraak by die dokter maak.

Ek trek my selfbejammering pajamas uit, skrop my karkas, kam my hare en sit af spreekkamer toe.

My pajamas is n groot kruis in my lewe. Sodra ek begin siek voel gaan krap ek die oudste, mees uitgerekte sweetpakbroek en verbleikte t-hemp uit die onderste hoekie van die kas uit, ruik die ene motbolle. Dan voel my klere in sync met my siek-bui. Geen mens kan mos ordentlik vrot voel in silk en frills nie.

Die dokter is so n jolige ou, mens voel al beter nog voor hy na jou gekyk het. Jy hoor hom uit sy maag lag, dan is hy in die gang, altyd met n groot glimlag op die gesig.

Ek beduie mooi vir hom wat ek nou al alles probeer het wat nie gewerk het nie. Ek kry medikasie en n gawe inspuiting.

Vanoggend ontwaak ek en voel soos n mens. Vir die eerste keer die week.

Die storie sit my toe aan die dink. Veral met die wêreld se huidige situasie in my agterkop.

As ek siek voel sien ek n dokter, kry pille en voel beter. Ek wonder nie of daar bul sperm in my hoesstroop is en of die apteker dalk vir die dokter kickbacks gee nie. Ek vra wel vir die dokter oor newe effekte en vertrou dan sy professionele opinie. Hy is immers die pro.

Nou wonder ek net hoe lank dit nog sal vat voor Pheizer of iemand pille maak wat help vir domgeid.

Kômmin flu

Kyk, op dag 3 van n kômmin flu siekbed is ek nou reg om die covid jab saam met ivermectin te vat met n skeut jaegermeister by… ek gee nie om of dit per mond of in setpil vorm is nie. Vir good luck sal ek hom agterna jaag met n skyfie suurlemoen en n strooisel sout.

Ek weet nie of die kieme mekaar op instegram volg of email of facebook chomme is of wat nie. Ek was lanklaas in my lewe so goor. Dit terwyl my koors en suurstofvlakke normaal is.

Griep het duidelik besluit hy moet sy best game bring sodat hy nou nie na n sissie lyk teen die nuwe kiem nie. Tot n lekker simptoom ingegooi, pasella – nagmerries. My drome is op hulle beste nogal entertaining maar die nagperdjies is n ander saak.

My arme man hou kombuis skoon en dra tee en medisyne aan.

Siekbed klaagliedere

Ek en Tiaan is man & woman down, teen die planke by die huis… griep. Ons het al twee oor die naweek begin goor voel en teen sondagaand toe rev die storie ons in die rooi.

Weet nie wie het by wie aangesteek nie. Ek is so opgejack op aanvullings dat ek verlede winter nie eers die snuffels gekry het nie.

Ons blaf n duet wat weergalm teen die gang mure. Die arme honde kry nie n innings met blaf nie. Hulle gaan slaap maar in die sonnetjie. Ons koppe klop, bors brand… goor.

Dit lyk soos griep, voel soos griep. Maar sê nou net… ek en hy werk heup aan heup met ander mense en ons wil nie onwetend iemand anders aansteek nie. Ons laat toets ons toe, net vir veiligheid. Ek kan een ding sê van ons span in die dorp. Hulle is professioneel en behulpsaam.

As ek terugkyk kon ek maar die toetse gelos het. Vir 2 siek mense is ons besonder vreetsaam.

Jaco het ons gisteroggend versorg – pap, koffie en medikasie vir ons tot by ons beddens gebring. Maar daarna is alles afdraend.

Ek weet nie hoeveel keer ons by mekaar verby is op pad kombuis toe nie. Brood en kaas met tee (9 uur), van sondag se wildspot en tee (10:30), nog tee, broodjie voor middag pille (12 uur), tee, boerewors en n broodjie (2 uur), nog tee, toe uiteindelik aandete en nog tee. Aand pille en voor slaaptyd nog tee.

Vanoggend 4 uur toe my keel brand… nog tee! Ten minste kry ons genoeg vloeostof in. Ek voel soos n teepot en my blaas soos n gieter!

Vanoggend teen 5 uur (ek het toe lekker geslaap na my 4 uur tee) kom ons uitslae negatief terug. Baie dankbaar vir die uitslag maar ek moet sê die gewag smokkel met n mens se kop. Wat as… wat as… die getob en gewonder is nogal erg.

Ek sit en muf nog soos ou brood hier op die bank, sal more werk aandurf, gemasker en geserp.