Beste medisyne

Ek het al die week al deeglik genoeg gekreun en geween oor my siekbed. Ek gaan nie weer nie.

Gisteroggend besluit ek 4 dae se teedrink en home remedies werk nie, ek voel al slegter. Ek sal maar n afspraak by die dokter maak.

Ek trek my selfbejammering pajamas uit, skrop my karkas, kam my hare en sit af spreekkamer toe.

My pajamas is n groot kruis in my lewe. Sodra ek begin siek voel gaan krap ek die oudste, mees uitgerekte sweetpakbroek en verbleikte t-hemp uit die onderste hoekie van die kas uit, ruik die ene motbolle. Dan voel my klere in sync met my siek-bui. Geen mens kan mos ordentlik vrot voel in silk en frills nie.

Die dokter is so n jolige ou, mens voel al beter nog voor hy na jou gekyk het. Jy hoor hom uit sy maag lag, dan is hy in die gang, altyd met n groot glimlag op die gesig.

Ek beduie mooi vir hom wat ek nou al alles probeer het wat nie gewerk het nie. Ek kry medikasie en n gawe inspuiting.

Vanoggend ontwaak ek en voel soos n mens. Vir die eerste keer die week.

Die storie sit my toe aan die dink. Veral met die wêreld se huidige situasie in my agterkop.

As ek siek voel sien ek n dokter, kry pille en voel beter. Ek wonder nie of daar bul sperm in my hoesstroop is en of die apteker dalk vir die dokter kickbacks gee nie. Ek vra wel vir die dokter oor newe effekte en vertrou dan sy professionele opinie. Hy is immers die pro.

Nou wonder ek net hoe lank dit nog sal vat voor Pheizer of iemand pille maak wat help vir domgeid.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *