Wysheid vs Kennis

As jy wil slim word en jou kennis verbreed, lees n paar boeke, doen n kursus of gaan universiteit toe.

As jy op soek is na wysheid…. Gaan sit en gesels met n 10 jarige. 10 jariges is oerwys. 20 jariges is alwetend.

Ek het n hart-se-punt… 10 jaar oud en slimmer as slim. Ek ken hom vandat hy 5 jaar oud was. Die eerste keer wat ek hom ontmoet het het hy grootoog op sy ma se heup gesit. Ek het aangebied om hom te koop vir R5. Hy het my reg in die gesig gekyk en n spoggerige middelvinger in my rigting gewys! Van daardie oomblik het hy my in sy sak.

Saterdag oggend is hy ook by die kantoor. Soos gewoonlik tjoepstil en op sy plek in n hoekie, besig om speletjies te speel op die selfoon. Na n rukkie kom hy in my kantoor in, en begin gesels. Ek is besig met n werk se opkas werk.

Elmbogies op die lessenaar, ken op die palms gestut… Ek kan sien die outjie is lus vir stories vertel, en ek het n baie gewillige oor.

Die syfers in die boek verloor my aandag. Hy begin gesels oor sy perd wat by sy oupagrootjie bly. Die perd is dragtig.

Toe, die juweel van wysheid… Oupa het n laatlam seun, ons noem hom Jannie. Jannie is nie reg nie shame, maar hy kry pay.

Jannie het n meisie gehad… Ek mag nie haar regte naam gebruik nie, dis nie n polities korrekte naam nie, al het my ma dit as n troetelnaam vir my gebruik vir jare… Ons noem haar maar Missy.

Nou, Jannie het met Missy Bok uitgegaan… Maar nie meer nie, want sien, sy het vol love bites terug gekom van die plaas af! En dit nogal nadat Jannie al vir Missy aan oupa gaan voorstel het! Jinne, skandes!

Missy klink vir my na n Bok vir sports! Jannie het darem nou glo n ander girl.

Wat is weird?

Die definisie van die woord “weird” is very strange and unusual, not natural.

Iemand bel my gedurende die week met ‘n versoek en sê… “I wanted to phone earlier and ask but I did not want you to think that I am weird.” Dit wat sy vra is nie iets wat ek self sou doen of selfs goedkeur nie. Ek dink vir ‘n oomblik voor ek antwoord en baie lank nadat ons klaar gepraat het. Hoekom sal dit saak maak wat ek, wat ‘n totale vreemdeling is en waarskynlik nooit weer met haar te doen gaan kry nie, van haar dink. Hoekom is ons tog so bang of ander mense gaan dink ons is vreemd?

Wie bepaal wat is weird en wat nie? Ons is almal individue met verskillende agtergronde en verwysingsraamwerke. Dit wat vir my totaal en al natuurlik is is vir die volgende persoon vreemd of selfs grillerig. Ek loop graag kaalvoet, sonder ‘n druppel make up en lag uit my maag uit. Vir die volgende persoon is dit totaal en al onvanpas en onvroulik… Wie is reg… ek of die persoon wat elke oomblik van die dag ‘n perfek opgetooide dame is?

Selfs mense wat in dieselfde huis grootgeword het kan as grootmense totaal verskillend wees. Dit is seker die misterie van menswees. Ons is tog nie geskape om as perfekte afbeeldings van mekaar op aarde te wandel en eendimensioneel te wees nie. Ons is nie koekiedrukker skepsels nie.

Ek lees ‘n rukkie terug ‘n huldeblyk van ‘n dogter aan haar pa. Sy skryf “you always managed to walk to the beat of your own drum.” Dit is iets om na te strewe. Om jou eie “kenwysie”te hê, jou eie unieke ritme. Daar is sosiale reëls waarbinne ‘n mens moet bly, maar nie tot so ‘n mate dat jy jou eie menswees verloor nie. Elke keer wanneer iemand dink ek is weird, grinnik ek en sien dit as ‘n kompliment… want iets het uitgestaan, iets is raakgesien.

Wees weird, sing kliphard vals, waai vir vreemde mense as jy daarna voel, dra sonneblomgeel en bloedrooi saam, dit gee mense iets om te onthou. Jou weird-geite maak dalk net iemand se dag beter.