Die definisie van die woord “weird” is very strange and unusual, not natural.
Iemand bel my gedurende die week met ‘n versoek en sê… “I wanted to phone earlier and ask but I did not want you to think that I am weird.” Dit wat sy vra is nie iets wat ek self sou doen of selfs goedkeur nie. Ek dink vir ‘n oomblik voor ek antwoord en baie lank nadat ons klaar gepraat het. Hoekom sal dit saak maak wat ek, wat ‘n totale vreemdeling is en waarskynlik nooit weer met haar te doen gaan kry nie, van haar dink. Hoekom is ons tog so bang of ander mense gaan dink ons is vreemd?
Wie bepaal wat is weird en wat nie? Ons is almal individue met verskillende agtergronde en verwysingsraamwerke. Dit wat vir my totaal en al natuurlik is is vir die volgende persoon vreemd of selfs grillerig. Ek loop graag kaalvoet, sonder ‘n druppel make up en lag uit my maag uit. Vir die volgende persoon is dit totaal en al onvanpas en onvroulik… Wie is reg… ek of die persoon wat elke oomblik van die dag ‘n perfek opgetooide dame is?
Selfs mense wat in dieselfde huis grootgeword het kan as grootmense totaal verskillend wees. Dit is seker die misterie van menswees. Ons is tog nie geskape om as perfekte afbeeldings van mekaar op aarde te wandel en eendimensioneel te wees nie. Ons is nie koekiedrukker skepsels nie.
Ek lees ‘n rukkie terug ‘n huldeblyk van ‘n dogter aan haar pa. Sy skryf “you always managed to walk to the beat of your own drum.” Dit is iets om na te strewe. Om jou eie “kenwysie”te hê, jou eie unieke ritme. Daar is sosiale reëls waarbinne ‘n mens moet bly, maar nie tot so ‘n mate dat jy jou eie menswees verloor nie. Elke keer wanneer iemand dink ek is weird, grinnik ek en sien dit as ‘n kompliment… want iets het uitgestaan, iets is raakgesien.
Wees weird, sing kliphard vals, waai vir vreemde mense as jy daarna voel, dra sonneblomgeel en bloedrooi saam, dit gee mense iets om te onthou. Jou weird-geite maak dalk net iemand se dag beter.