Navigeer my weer…

Die dag sal seker nie suksesvol afgesluit kan word as ek nie ten minste een keer ten volle myself was nie.

Ons is by die begin van die karate nationals in PE by die Boardwalk… ek gaan loop vinnig n draai voor ons begin. Regs deur die glasdeur, links by die badkamers en regs en n links tot waar ek wil wees. Doen my doene en was my hande en stap uit en vol selfvertroue maak ek die mooi wit deur aan my linkerkant oop…. en stap reg in n kas in met n baie groot rooi brandslang…. knip my oë stom verbaas en bars kliphard uit van die lag. Ek voel soos arme Alice in Wonderland!

Toe ek n kind was was daar nie diagnoses soos ADD en ADHD en sulke goed nie. Disleksie was selfs effe vreemd. Jy is gelabel as vestrooid, vreemd, “kop-in-die-wolke” en sommer deur die dinges. Ek het gereeld raas gekry oor n verlore boek, LO klere wat by die huis agtergebly het, ek het eerder my boek gelees as om huiswerk te doen.

Toe kry ek n pasmaat-kind vir wie ek notas binne in sy space case geplak het wat sê hy moet alles op sy lessenaar in sy tas pak voor hy huis toe kom en notas op en binne sy klerekas om hom te herinner aan goed wat moet skool toe gaan.

Nou lag ons vir mekaar se verstrooigeite… ek bêre die melk amper in die gangkas, hy sit die bottel heuning op sy spieelkas. Ten minste het hy nog nie in n kas geklim nie!

Huisskoonmaak is n avontuur. Ek gaan gooi n handdoek in die mandjie en sien op pad soontoe n koppie op die tafeltjie. Dan begin ek skottelgoed aandra, sien n spinnerak en gaan haal die stoffer. In die kas by die stoffer sien ek die stofsuier en sit die reg in die gang… geen een taak word op een slag voltooi nie. Wie wil nou fokus as elke dag net n reeks avonture kan wees?

Om te laai of nie te laai nie…

Deel van die pret om “grootmens kinders” te hê is dat die grense van mens se grappies wyd uitskuif… nou die aand gesels ek en die jongste oor alles en nog wat en ons kom by “vaping” uit.

Ek ken nie die goed regtig nie en noem dat ek nooit geweet het dat mens n vape moet laai (charge) nie. Hy sê “dit is n nuwe era en alles werk met tegnologie”.

Ek sê tong in die kies dat ek nou nie vape nie en nie earpods dra nie so ek gaan maar vir my n “adult toy” koop dat ek ook iets het wat ek kan charge…

Dankie tog vir video calls… die kind se gesig is n prentjie, hy rol sy oë, gooi sy hande oor sy gesig en dop amper agteroor en met n sug laat hoor hy “nee o donner, ek wil nie sulke goed hoor nie. Nee magtag ma, gaan charge jou selfoon!!”

Fênsie funksies

Ons is genooi om n funksie by te woon… ek is half versigtig vir “funksies”. Dit het die geneigdheid om stywe affêres te wees waar mens moet toemond smile en hakskoene dra. Hierdie funksie is in die vorm van n wynproe en veiling by Marlow.

Ek werk uit dat ek ten minste 5 van die mense gaan ken, die kaartjie sê mens kry n wynglas wat jy kan huis toe vat (dis nice van hulle!) En daar is nie n dress code nie (baie belangrik want ek het my semi formal koepon vir die kwartaal klaar gebruik by n begrafnis).

Ons gaan wyn proe… al wat ek van wyn weet is dat daar n wit soort, pienk soort en n rooi soort is, dat die rooi soort n moerse kopseer veroorsaak en dat wyn van Tops af kom.

Vanaand is toe die aand. Toe ons instap is daar kuierplekkies geskep met strooibale vir die mense wat nie by die tafels wil sit nie. Ons kry die beloofde glase… ek probeer van die Marlow manne omswaai om my glas n stel van 4/6 te maak maar is onsuksesvol! Ons kry nommers vir die veiling, net vir ingeval ons daarna voel om n kas of wat wyn te koop.

Daar is die lekkerste eetgoedjies… broodjies, geroosterde knoffel, patees, salami, frikadelletjies ens… die ma’s het behoorlik uitgehang.

Daar kom n wynmaker (n vrou nogal, ek is beindruk) wat vir ons vertel van die verskillende wyne, hoe dit gemaak word en ons kry proesels in ons glase. Daai rooi een het sommer op jou tong vir jou vertel dat n sluk of wat te veel jou kop sal draai soos n carouzel-perdjie op volspoed.

Dit is veiling tyd. Iemand stel n man voor saam met twee “spotters” aan sy linker en regterkant. Dis n getroude man, ek kon dit aan sy praat aflei. Hy trek daar los en praat die vinnige praat van n man wat nooit skuinsweg n woord inkry by die huis nie of op n drafstap op pad is badkamer toe en sy storie oor sy skouer wil klaar praat voor die badkamerdeur agter hom toeklap. Hy verkoop per bottel, per kas, enige manier moontlik!

Wat n prettige aand vol lag en lekker kuier! Marlow se gasvryheid is iets om te beleef.