Navigeer my weer…

Die dag sal seker nie suksesvol afgesluit kan word as ek nie ten minste een keer ten volle myself was nie.

Ons is by die begin van die karate nationals in PE by die Boardwalk… ek gaan loop vinnig n draai voor ons begin. Regs deur die glasdeur, links by die badkamers en regs en n links tot waar ek wil wees. Doen my doene en was my hande en stap uit en vol selfvertroue maak ek die mooi wit deur aan my linkerkant oop…. en stap reg in n kas in met n baie groot rooi brandslang…. knip my oë stom verbaas en bars kliphard uit van die lag. Ek voel soos arme Alice in Wonderland!

Toe ek n kind was was daar nie diagnoses soos ADD en ADHD en sulke goed nie. Disleksie was selfs effe vreemd. Jy is gelabel as vestrooid, vreemd, “kop-in-die-wolke” en sommer deur die dinges. Ek het gereeld raas gekry oor n verlore boek, LO klere wat by die huis agtergebly het, ek het eerder my boek gelees as om huiswerk te doen.

Toe kry ek n pasmaat-kind vir wie ek notas binne in sy space case geplak het wat sê hy moet alles op sy lessenaar in sy tas pak voor hy huis toe kom en notas op en binne sy klerekas om hom te herinner aan goed wat moet skool toe gaan.

Nou lag ons vir mekaar se verstrooigeite… ek bêre die melk amper in die gangkas, hy sit die bottel heuning op sy spieelkas. Ten minste het hy nog nie in n kas geklim nie!

Huisskoonmaak is n avontuur. Ek gaan gooi n handdoek in die mandjie en sien op pad soontoe n koppie op die tafeltjie. Dan begin ek skottelgoed aandra, sien n spinnerak en gaan haal die stoffer. In die kas by die stoffer sien ek die stofsuier en sit die reg in die gang… geen een taak word op een slag voltooi nie. Wie wil nou fokus as elke dag net n reeks avonture kan wees?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *