Noodkopies

Vanmiddag gaan doen ek my deel om die ekonomie n hupstoot te gee… Teen my sin! Maar dis n kies nou en suffer later storie en nood is nood.

Ek begin by broeke soek. Iets gemaklik wat ek kan werk toe dra. Rakke vol, pragtig… Toe sien ek die etiket… JEGGINGS. Wat in die lewe is dit, wie het dit uitgedink en vir wie was hy kwaad? Hoekom is die uitvinder nog nie geskiet of gevang nie?

Dames van n sekere ouderdom en postuur is nie veronderstel om materiaal te dra wat aan jou onderlyf klou soos n skreeuende 2 jarige wat n tantrum gooi nie.

Volgende rak… Lyk beter. Losserige sagte denim materiaal, maar toe sien ek DIT. Rek om die enkel. Die broek gaan pofferig sit soos n huggies nappy wat n uur terug al uitgetrek moes gewees het. Daarna is dit net afdraend… Skinny, nou-pyp nommertjies en broeke wat lyk of dit met n nailgun bygekom is.

Per genade kry ek 2 normale denim kniebroeke in my grootte wat as n nagedagte iewers gehang is.

Kaalbors kan mens nie deur die lewe gaan nie en ek begin soek na lappe om my beskeie te kry. Weereens pas die ontwerpe en groottes nie bymekaar nie. Die kante van die toppies is opge”scrunch” sodat die voorkante n buidelsak vorm waarin mens n week se snacks kan wegsteek. Moulose toppies, nie geskik vir my mamma-arms nie.

Aan die einde van my moed stap ek na die onderklere rakke toe. Tussen die gatgarings, french cut en seunsagtige nommertjies kry ek die regte soort en grootte… Wie betaal R259 vir 3 lappies materiaal wat helfte van die tyd besig is om onnodig aandag te soek in vreemde plekke en nooit die son sien skyn nie. Ten einde laaste is die marteling verby en kan ek met n sug op n sitplek neersak, heelwat armer en verstom oor wat mense om hulleself sal drapeer in die naam van mode!

Covid deel 2

Deel 2 van my covid sage…

Gister se post van net ek en my… My eie gevoelens. Maar ek is nie die heldin in die storie nie, ver daarvandaan! Ek is net een skakel in n ketting van mense wat een doel voor oë het en dit is om ons gemeenskap te dien en versorg.

My helde is die ouens wat dag en nag op roep is en enige tyd uitgaan, oorledenes versorg, PPE dra op die warmste dae en begrafnisse uitvoer. Dit is die arme mense in wie se ore ek kerm, vir wie ek dieselfde stories oor en oor vertel. Vir wie ek die beste sanitizer, handskoene en maskers koop wat ek my hande op kan lê omdat ek my bekommer oor hulle.

Besigheid is besigheid en dit beteken in enige bedryf kompetisie. Ons het baie gou, en eintlik lank voor covid al, gesien dat elkeen nie op sy eie molshoop kan regeer nie. As my kollega van n ander ondernemer n plekkie in ons bergingsfasiliteit nodig het help ons. As iemand PPE pakke of handskoene benodig help ons mekaar, hande vat en kyk na mekaar. Bemoedig mekaar op swaar dae. Gee mekaar raad wanneer ons onseker voel. Wanneer ek in die grond in moeg gevoel het het ek geweet daar is ander mense wat net soos ek voel.

Die bietjie positief wat ons hier wegvat is medemenslikheid. Selfs in n moeilike Desember was alles nie negatief en chaos nie. Saam het ons daardeur gekom en indien daar weer n tsunami oor ons pad kom sal ons maar net weer ruggraat styf span en voortbeur.

Covid… Deel 1

Buckle up… Die gaan n lang een wees. Ek mag dit dalk in hoofstukke moet doen… As jy nou die tipe mens is wat nie van lang posts hou nie gaan jy die een moet oorslaan.

Nege maande saam met covid… Toe die president aan die einde van Maart “21 days lockdown” afkondig het ek in my gewone positiewe uitkyk gedink ons gaan almal vir 21 dae by die huis moet bly, en ek gaan n paar dae in elke vertrek van die huis springclean. En dan… Gaan ons almal terug werk toe en die lewe gaan soos ouds voortgaan.

Van levels 1 tot 5 en drank- en sigaretberbod het ek niks geweet nie. Ek was van nature een van daardie pyn-in-die-patat positiewe Sannie Sonskyn nommertjies wat glo die son skyn more weer en dan lyk alles beter… Dit was die laaste week van Maart.

Toe gooi die president daardie “essential worker” kaart, dis baie soos die +4 kaart in Uno.

Ek staan elke oggend op, sit my masker op, was my hande en gaan werk. Dwarsdeur die winter gaan ons aan, al wat verander is die aankoop van bodybags en wit PPE suits… Baie onvleiend, ek het een aangepas en ek lyk soos Mev. Michelin in die ding. Dis net omdat ek die helfte korter en dubbel so breed soos my manlike kollegas is.

Ons kry die eerste paar weke glad nie covid + mense nie en ons het die eerste persoon gaan haal, onwetend. Ons is eers later in kennis gestel dat die persoon positief getoets het.

Onseker en katvoet begin ons covid begrafnisse doen. Kerke is toe, geen troosdiens toegelaat nie, teraardebestellings slegs by die graf, mense beperk. Skielik vra mense dat jy NIE die begrafnis bywoon nie. Byna geen van die vertroostende gebare word toegelaat nie. Ons verskaffers kan nie blomme verskaf nie, ons moet baie kreatief raak met kisruikers.

Met die eerste golf/brander doen ons nie baie meer begrafnisse nie, ek skep moed, drink ekstra vitamines om my gestel sterk te hou en gaan aan. Die ergste vir my is om nie meer my kliente teen my te kan vasdruk wanneer hulle emosies oorspoel nie. Dit is onmoontlik vir n “hugger” soos ek om iemand anders met 2 meter social distance tussen ons te troos.

Die levels tel stadig terug van 5 na later 3… En so aan.

Fast forward na November/Desember… Dis nie n golf of n brander nie, dis n flippen tsunami! Dit voel soos n damwal wat om my gebreek het. Die name van mense wat ek baie lank en baie goed ken word skielik name op doodsertifikate. Elke keer sluk ek die knop in my keel, knyp my oë teen die trane en reël nog n begrafnis. Ek en die familie kan nie tegelyk huil nie… Ek moet kalm bly. Almal is nie covid + nie, maar die reëls bind ons nog steeds in n mate wat getalle aan betref.

Een besonder brutal week gaan daar nie een dag verby sonder dat ons hospitaal toe gaan om iemand uit n isolasie saal te gaan haal nie. Elke keer kom die oproep, snaaks genoeg, na middagete. Teen dag 3 kry ons n knop op die maag wanneer dit middag word.

Desember, kersfees, nuwejaarsdag gaan in n warrelwind verby. Ek check, check, double check alles wat ek doen sodat ek nie foute maak nie. Ek voel skuldig oor die druk wat ek op almal om my sit om alles klaar te kry, reg te kry, vlot te laat verloop. Ek is kortaf, ek is ongeskik, ek verskree plek-plek grafgrawers. Aan die einde van n dag sit ek voor die tv en slaap.

Mense sê vir my ek verstaan nie hoe dit is om n familielid so te moet begrawe nie… My broer het op 29 April 40 geword, geen surprise party nie, lockdown, op 20 Julie is hy oorlede, nie covid related nie, net verskriklik onverwags. Sy troosdiens was n kort boodskap en n gebed, langs die lykswa.

Elke keer wat ek n post lees wat sê dat covid nie bestaaan nie, dat dit deur aliens/selfoonseine veroorsaak is en die entstof die duiwel se brousel is wil ek kots of iemand bliksem.

Wanneer, en of dit ooit sal verbygaan weet ek nie. Dat die laaste 9 maande n blywende indruk op my lewe gemaak het is verseker. Ek voel dat elke mens vir hom of haarself moet besluit oor wat die beste persoonlike keuse sal wees.