Noodkopies

Vanmiddag gaan doen ek my deel om die ekonomie n hupstoot te gee… Teen my sin! Maar dis n kies nou en suffer later storie en nood is nood.

Ek begin by broeke soek. Iets gemaklik wat ek kan werk toe dra. Rakke vol, pragtig… Toe sien ek die etiket… JEGGINGS. Wat in die lewe is dit, wie het dit uitgedink en vir wie was hy kwaad? Hoekom is die uitvinder nog nie geskiet of gevang nie?

Dames van n sekere ouderdom en postuur is nie veronderstel om materiaal te dra wat aan jou onderlyf klou soos n skreeuende 2 jarige wat n tantrum gooi nie.

Volgende rak… Lyk beter. Losserige sagte denim materiaal, maar toe sien ek DIT. Rek om die enkel. Die broek gaan pofferig sit soos n huggies nappy wat n uur terug al uitgetrek moes gewees het. Daarna is dit net afdraend… Skinny, nou-pyp nommertjies en broeke wat lyk of dit met n nailgun bygekom is.

Per genade kry ek 2 normale denim kniebroeke in my grootte wat as n nagedagte iewers gehang is.

Kaalbors kan mens nie deur die lewe gaan nie en ek begin soek na lappe om my beskeie te kry. Weereens pas die ontwerpe en groottes nie bymekaar nie. Die kante van die toppies is opge”scrunch” sodat die voorkante n buidelsak vorm waarin mens n week se snacks kan wegsteek. Moulose toppies, nie geskik vir my mamma-arms nie.

Aan die einde van my moed stap ek na die onderklere rakke toe. Tussen die gatgarings, french cut en seunsagtige nommertjies kry ek die regte soort en grootte… Wie betaal R259 vir 3 lappies materiaal wat helfte van die tyd besig is om onnodig aandag te soek in vreemde plekke en nooit die son sien skyn nie. Ten einde laaste is die marteling verby en kan ek met n sug op n sitplek neersak, heelwat armer en verstom oor wat mense om hulleself sal drapeer in die naam van mode!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *