Nuwelinge doen nuwe dinge…

Sooo… Zumba Strong, nê!!! Maandagaand het ons nie die klas gemaak nie. Wat beteken dat ons vanaand Strong virgins was, blinkoog en vol verwagting maar met zero ondervinding of kennis. Ek koop sommer water en energade, vir ingeval.

Ons stap in die klas in en Dehan sê ons moet sommer bietjie strek en die spiere los maak. Ek buk en kyk vir my tekkies se punte, 2 keer… en toe vat die aandag afleibaarheid my en ek begin gesels met almal om my en hou hulle ook weg van strek oefeninge af.

Die musiek begin en ons beweeg. Gesellig, lekker ritme en spoed. Die bewegings is nie moeilik nie en die repetisies maak dat mens die patroon vinnig snap en dan lekker kan bybly.

Ons hop, skip en jump en wanneer Dehan lostrek met daardie hoogskoppe van hom is dit nie lank nie dan is driekwart van die klas op n ander level en dan begin die vloer bewe. Nota aan Pep Stores se personeel – Nee, niemand het ingebreek nie, hang asb maar net die hangers terug waar dit afgeval het, ons vra om verskoning.

Met my laaste doktersbesoek het die dokter vir my n gawe pilletjie gegee wat baie werk soos daai manier wat hulle voertuie tot n sekere spoed beperk, al trap jy die petrol plat, die topspoed bly 80 km/h. Die pilletjie werk fantasties, tot die 2de liedjie van die aand begin speel. Nee wat, dan ruk die hart los en galop soos n perd in groen velde.

Die klas is met n spoed hopeloos te vinnig verby. Nie dat ek energie gehad het vir nog n bietjie spring nie. Ek voel plekke wat gewerk het wat baie lank laas gewerk het. Bobene, maag en skouers. Ek is seker daarvan dat ek more n koddige sluifelstappie aan my gaan hê.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *