Deel 2 van my covid sage…
Gister se post van net ek en my… My eie gevoelens. Maar ek is nie die heldin in die storie nie, ver daarvandaan! Ek is net een skakel in n ketting van mense wat een doel voor oë het en dit is om ons gemeenskap te dien en versorg.
My helde is die ouens wat dag en nag op roep is en enige tyd uitgaan, oorledenes versorg, PPE dra op die warmste dae en begrafnisse uitvoer. Dit is die arme mense in wie se ore ek kerm, vir wie ek dieselfde stories oor en oor vertel. Vir wie ek die beste sanitizer, handskoene en maskers koop wat ek my hande op kan lê omdat ek my bekommer oor hulle.
Besigheid is besigheid en dit beteken in enige bedryf kompetisie. Ons het baie gou, en eintlik lank voor covid al, gesien dat elkeen nie op sy eie molshoop kan regeer nie. As my kollega van n ander ondernemer n plekkie in ons bergingsfasiliteit nodig het help ons. As iemand PPE pakke of handskoene benodig help ons mekaar, hande vat en kyk na mekaar. Bemoedig mekaar op swaar dae. Gee mekaar raad wanneer ons onseker voel. Wanneer ek in die grond in moeg gevoel het het ek geweet daar is ander mense wat net soos ek voel.
Die bietjie positief wat ons hier wegvat is medemenslikheid. Selfs in n moeilike Desember was alles nie negatief en chaos nie. Saam het ons daardeur gekom en indien daar weer n tsunami oor ons pad kom sal ons maar net weer ruggraat styf span en voortbeur.