Fênsie funksies

Ons is genooi om n funksie by te woon… ek is half versigtig vir “funksies”. Dit het die geneigdheid om stywe affêres te wees waar mens moet toemond smile en hakskoene dra. Hierdie funksie is in die vorm van n wynproe en veiling by Marlow.

Ek werk uit dat ek ten minste 5 van die mense gaan ken, die kaartjie sê mens kry n wynglas wat jy kan huis toe vat (dis nice van hulle!) En daar is nie n dress code nie (baie belangrik want ek het my semi formal koepon vir die kwartaal klaar gebruik by n begrafnis).

Ons gaan wyn proe… al wat ek van wyn weet is dat daar n wit soort, pienk soort en n rooi soort is, dat die rooi soort n moerse kopseer veroorsaak en dat wyn van Tops af kom.

Vanaand is toe die aand. Toe ons instap is daar kuierplekkies geskep met strooibale vir die mense wat nie by die tafels wil sit nie. Ons kry die beloofde glase… ek probeer van die Marlow manne omswaai om my glas n stel van 4/6 te maak maar is onsuksesvol! Ons kry nommers vir die veiling, net vir ingeval ons daarna voel om n kas of wat wyn te koop.

Daar is die lekkerste eetgoedjies… broodjies, geroosterde knoffel, patees, salami, frikadelletjies ens… die ma’s het behoorlik uitgehang.

Daar kom n wynmaker (n vrou nogal, ek is beindruk) wat vir ons vertel van die verskillende wyne, hoe dit gemaak word en ons kry proesels in ons glase. Daai rooi een het sommer op jou tong vir jou vertel dat n sluk of wat te veel jou kop sal draai soos n carouzel-perdjie op volspoed.

Dit is veiling tyd. Iemand stel n man voor saam met twee “spotters” aan sy linker en regterkant. Dis n getroude man, ek kon dit aan sy praat aflei. Hy trek daar los en praat die vinnige praat van n man wat nooit skuinsweg n woord inkry by die huis nie of op n drafstap op pad is badkamer toe en sy storie oor sy skouer wil klaar praat voor die badkamerdeur agter hom toeklap. Hy verkoop per bottel, per kas, enige manier moontlik!

Wat n prettige aand vol lag en lekker kuier! Marlow se gasvryheid is iets om te beleef.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *