Karate klas…. nee, ek weet ook nie hoekom ek dit doen nie! Maandagaand geoefen tot my tong uithang en toe op die sitkamerbank kom uitpass.
Die klas bestaan uit die 2 instrukteurs, 2 mans, n paar tieners, n paar tjokkers en ek.
Wanneer dit by oefen kom en daar partners gekies word kry ek flashbacks van standerd 5 LO klasse, ek het nie n maatjie nie! Siende dat die 1 instrukteur dan ook my eie persoonlike man is kry ek sy aandag van tyd tot tyd. Gisteraand is dit toe ook weer so.
Hy wys my (weer n keer) hoe my hande en voete moet wees, baie soos ek kleintyd my poppe se arms en bene rangskik het. Nou is dit keer-en-slaan, keer-en-slaan. Mens kan die oefenfiets en drafskoene bêre en net oefen om iemand te klap. Na 2 minute brand die bene en my asem is weg.
Met die moegword saam sak mens se arms bietjie. Soos my arms sak styg my moed en dit voel of ek tussen die blokke dalk n hou sal kan inkry mits ek sneeky genoeg is.
Die oomblik toe ek vorentoe hop met my vuisie reg kom daar van nêrens af n hou en beland teen my regteroor… mense, die man is vinnig! Ek skrik so groot ek wil sommer my kamer gaan skoonmaak en huiswerk doen. Hier binne my kop sing dit soos n swerm bye.
Hop-hop-keer weer en toe my arms sak sê die man vir my ek gaan my tande verloor… ek lag net en sê “jou verlies, jy gaan n haathbek moet thoen!”
Ek kan ook nou nie die hele klas lank die teacher’s pet wees nie en die man gaan gooi n ogie oor van die ander. Dit gee my kans om my asem terug te kry en ek sien uit die hoek van my oog iets wat meer soos n “kry jou pouse agter die kleedkamer” geveggie begin lyk as karate oefening en ek stap nader. My mawees skop in en ek stop die 2 kapokkies. Die een het die ander een teen die oog geslaan… toe het die een die ander een geskop… Ek sê toe “hy sal jou nie raak slaan as jy vinnig genoeg keer nie” en daar gaan n lig op en my oor sing van voor af! Practice what you preach, sus! Ek probeer maar weer volgende week.