My huwelik en n pot ertjiesop

Gisteraand het ons n heerlike sop & sjerrie aand gehad wat deur ons kerk gereël is.

Man van die huis het met groot geesdrif aangebied om n pot sop te maak. Ertjiesop… baie lekker! Net toe ek van die werk af kom moet die sop by die saal afgegee word.

Die dilemma – word die sop net so in die slowcooker vervoer of gaan ons die sop oorgooi in die dieper stoompot? Na n diekant-daaikant bespreking en die in agneem van die noodsaaklike warm hou van die sop word daar besluit om die sop in die slowcooker te hou.

Na n vorige onderonsie met my linkshandige onhandigheid het die slowcooker een van sy ore verloor. Tydens daardie veldslag het die glasblad wat bo oor die gasstoof kom ook sy Moses teëgekom en in amper soveel stukkies as die name op die onlangse verkiesingsbladsye gespat… onredbaar. Ek het weke later nog oral stukkies shatterproof glas gevind wat soos diamantjies lyk.

So word ek sitgemaak aan die passasierskant van gewillige Kaspaas met die skinkbord met die slowcooker wat tot amper bo vol warm sop is. My enigste werkie is nou om seker te maak die sop bly veilig in die pot terwyl manlief die immer gewillige Kaspaas deur die slaggat besaaide pad tot by die saal navigeer. Dit klink veel eenvoudiger as wat dit is. Net by die oprit uit, die hek is nog nie eers toe nie en ons het ons eerste uitdaging. Skielik en sonder waarskuwing is dit spitsverkeer in Proteastraat en ons moet botstil wag. Ons kom in beweging en nog voor ons by die stopstraat kan uitkom moet manlief 849 klein slaggate mis.

My senuwees… die sop lyk soos hoogwater/springgety iets. Ek werk al aan die verduideliking vir wanneer die dokter vra hoe ek derde graadse brandwonde in my skoot opgedoen het en hoekom daar n mengelmoes van ertjie en wortelstukkies betrokke is.

Eerste rat en skaars regsgeswenk en die sop maak branders. Ek besluit om my bene te probeer inspan as stabiliseersers, met min sukses. Ek begin so onder my asem (wat in elk geval aan die min kant is) sjit-sjit-sjit! Maar mens mag nie oor/voor/as gevolg van kerk sop swets nie en ek doen net my bes.

Na wat soos n ewigheid voel stop ons sommer teen verkeer in voor die saal en liefie masjeer die saal binne met sy offer. Met die uitstap loop ons ons vas in nog n sopkoker egpaar op pad met hulle pot sop.

Ons deel ons lot met mekaar en ek sê ek was so bang die sop val oor my en dan moet dit afgelek word. Die tannie lag en sê dis die soort ding wat sal maak dat haar man aspris mors!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *