My kollegas het n sêding… Jy gaan wag tot Piet kom. Tot op hede het ek nog nie veel gewonder oor wie Piet is, wanneer hy gaan kom of van waar af nie… tot vanaand.
Jaco is op pad bootcamp toe maar kom terug om sy matjie te kom haal wat hy vergeet het en besluit toe om sommer die sak nartjies te vat wat hy vir die bure wil gee.
n Rukkie later bel Tiaan en vra ek moet hom gaan oplaai. Ek sien die kar staan buite geparkeer, dink by myself Jaco het vasgehaak by die bure. So staan en wag ek vir hom om terug te kom.
20 Minute later besluit ek om maar n draai te loop want Jaco kom nie aan nie. Ek is oortuig daarvan hy het vasgehaak by die bure en homself uit sy oefensessie gesels.
Tiaan bel my half verward en sê pa het met sy eie vervoer gery… ek het nooit besef dat ek op en af stap op die spasie waar sy voertuig altyd staan nie. Ek sou wraggies daar staan en wag het tot Piet kom… of Jaco terugkom van bootcamp af.
Ken enigiemand vir Piet? Wanneer kom hy gewoonlik? En van waar af?