Saterdagoggend gaan werk ek. Liefie gaan leer die kinners karate doen (een outjie wil net leer om n ander tannie se kind goed te skop)… na n uur se karate doen hulle bietjie zumba saam met Dehan. Niks ongewoon nie.
Liefie kom by my werk aan, spierwit in die gesig en sopnat gesweet. Hy voel niks lekker nie. Nou kyk, my werk is nou nie n plek waar jy kom staan sleg voel nie. Na n cupcake en n koppie hot chocolate hardloop sy hart nog steeds soos n resiesperd.
Ek stuur vir hom na die nurse toe dat sy kan kyk wat aangaan.
Sy stuur hom dokter toe. Hartklop 192… 45 minute na hy opbou oefen het. Ek skrik so, ek kan nie opkas of lone doen nie.
Sondagoggend toe ons (of eerder ek) min of meer tot bedaring gekom het kyk ek hom in die oog en sê Liefie!!! Kyk hier, nè, ek is nie weduwee materiaal nie.
Weet hy hoe werk dit as n vrou voor 50 n weduwee word? So na 6 maande begin al wat hubaar en beskikbaar is van die dorp se manne by jou deur opdaag.
Hulle bied aan om jou garage deur en tuinhekkie te olie, jou kar te diens, ens. Hulle groet tot die hond. En jy moet koffie en verskonings aanbied vir n vale.
Want sien, na 6 maande is die papiere van die boedel sekerlik naby aan in orde… en n gevry na n boedel is n ongemaklike besigheid. Ek het nou nie krag om gewillige mans van my stomme lyf af te probeer hou nie.
Liefie het maar die max heart rate op sy fitbit bietjie laer gestel.
My suster het my wyse raad gegee… wanneer die eerste koffiebeker begin afkoel van die eerste besoeker moet ek net saggies sug en sê die man het my toe mos met min gelos… ek moes laasmaand al my trouring verkoop om te kon krag koop.