Pieter de Klerk Kruger…
Uit die aard van my werk is daar oomblikke wat n unieke voorreg is. My foon lui langs die bed, skuins na middernag. Mnr Kruger is oorlede… Dit is die laaste bietjie formeel aan n ervaring wat ek amper nie kan verwoord nie.
Die oomblik toe ek in die stil gang afstap voel die klak-klak van my skoene onvanpas en ek los hulle by die deur. Die nag personeel staan regop in die gang, stil eerbiedig.
Van die eerste oomblik is die reëlings uniek… hout kis met tou handvatsels, veldblomme vervang die formele kisruiker. Teraardebestelling voor die diens in die kerk. Geen pamflet met gediggies en hartseer liedjies nie. Ons hou nie begrafnis nie, ons vier n lewe van n besonderse liefdevolle en wyse mens.
Maandagoggend staan ons by die oop graf met die gewone toestel en groen matte. Die vriende kom aangestap in n groepie in die oggendstilte, net die wind en koer-koer uit die bome, wind wat suis en voertuie wat verbygaan op die teerpad.
Soos die mense byeenkom sit iemand hier en daar n los blommetjie op die kis.
Toe ek weer na die kis kyk sien ek oom Pieter se alombekende breë leer armband op die kis en ek onthou…. ek onthou oom Pieter met n mandjie in die hand in die straat, op pad Dit en Dat toe… die oopstoot van Dit en Dat se deur en oom Pieter se groet. Hy het altyd my naam so perfek korrek uitgespreek. Opregte vreugde wanneer ons mekaar iewers raakloop. Oom Pieter en Carien op hulle gereelde stapsessies.
Toe Annatha by die graf gaan staan begin die kerkklok lui-lui-lui. Almal staan in die oopte en wag. Die boodskap is persoonlik, eerlik, uit die hart.
Met die reëlings se maak het ons die gewone roosblare by die graf aangevul met voëltjiesaad, op die ingewing van die oomblik. Toe ek vra of ons musiek moet speel by die graf was Carien se antwoord dat die voëltjies die musiek sal verskaf. Die mengsel van blare, saad en blommetjies los laaste groetboodskappies op die gladde kisdeksel, tot weersiens eendag….rus sag.
Die diens in die kerk is n ervaring van die mooiste musiek en boodskappe uit oom Pieter se eie goed deurleefde bybel.
Daar is nog soveel wat ek sou kon byvoeg en deel maar dit was so persoonlik, intiem… dit sal voel na skinder.
Die oggend voor die begrafnis sukkel ek met my klere… wissel 3 maal. Die gewone swart broek, formele bloes en skoene werk net nie. Dit voel die hele tyd of ek dress up speel want dis nie hoe oom Pieter my geken het nie.
Dit was die tweede keer wat ek begrafnis hou in n denim en plat skoene. Die vorige keer was my eie ma se diens. Partykeer moet mens net jouself wees, sonder pretensie.