Ek is op soek na n mooi Afrikaanse woord vir “content” wees… tevrede klink nie heeltemal na wat ek soek nie.
Dis n gevoel, of eintlik n lewenswyse. Dis nie om tevrede te wees met te min nie, ook nie om ambisieloos te wees nie
… (my ma het n ding gehad oor ambisie. Ek het gereeld gehoor ek moet ambisie hê en hard werk om iewers te kom in die lewe, moenie slapgat of lui wees nie).
As jy strewe na n mercedes of n groot huis… wees tevrede met dit wat nou in jou situasie is, as jy n Uno ry, was hom sodat dit n skoon Uno is! Om elke keer die wiele te skop wanneer jy verbyloop gaan dit nie in n mercedes verander nie. Dis jou vervoermiddel na die werk toe wat jy nodig het om te spaar vir jou mercedes.
Ons het partykeer meer as een krisis van een of ander aard wat energie benodig… as die yskas breek, breek die strykyster en sommer die grassnyer, of wat ookal.
Tog, as ons vroegoggend op die stoep koffie drink en dink en droom oor die braaiplek se dak wat eendag moet opgesit word en die erfporsie- kar wat se enjin nog n dertiende tjek of twee gaan insluk voor die oop pad kan wink, kyk ek na die gras wat begin groen word en die honde wat baljaar en my mede koffiedrinker-saamdromer en dink… ek het klaar so baie. Dan voel ek “content”.