Buggabug kaskenades

Wanneer laas het julle sonder brandstof gaan staan?

Ons nuutste kopie is n 1974 Volkswagen bugga bug, helder blou, groot brul in sy klein lyfie. Aangekoop vir ons jongste om mee kollege toe en terug te ry. Die bosparra is toe tydelik geruil vir ons voertuig terwyl Pappa die probleme van die karretjie uitsorteer.

Saterdag gaan ons gou dorp toe en halfpad tussen die huis en die winkel, in ons dorp is dit nie ver nie, gee bosparra n ruk en n spoeg en dood sonder seremonie…. Uhm, wanneer laas het iemand petrol in die gedroggie se pens gegooi?

Manlief beveel my agter die stuurwiel in, hy gaan stoot. Daad word by woord gevoeg, sy moue is opgerol en hy sit n draffie in. Tien meter verder kom een van ons vriende op sy motorfiets verby. Draai op die plek om en kom help stoot. Oor n spoedbobbel voor die skool verby kom n fris jong Marlow klong verby, los sy kar in sy meisie se hande en kom help draf-stap-stoot saam… Aflos styl. Kort kort moet die een eers terug draai om die motorfiets te loop haal.

Hulle stoot en wanneer ek n dwars straat met n afdraend tref vryloop die karretjie en ek probeer maksimum spoed kry sodat hulle minimum stootwerk hoef te doen.

Baie gou kry my verbeelding die oorhand en skater ek dat jy my twee blokke ver in die Saterdag-stil straat kan hoor. Ek sien in die truspieel drie drawwende manne agter die Volla aangedraf kom.

Die laaste entjie tot by die petrolpompe is afdraend en so kom ek met groot swier aange”free”, hygende manne agterna… Petroljoggie frons en vra “nou hoekom raas die karretjie nie vandag nie?”

Thelma & Louise

1 Julie 2016 is my ma oorlede na n vyf jaar lange stryd met kanker op n jong ouderdom van 57.

So paar jaar voor haar is haar gewese skoonsuster en boesemvriendin oorlede. ‘n Rukkie gelede noem tannie Thelma se dogter hulle grappig “Thelma & Louise” en ek dink terug aan die twee…

Toe ek so in standerd 6 was verloor my stiefpa sy werk. My ma was nie n vrou sonder planne nie en sy skraap geld bymekaar, sy en tannie Thelma vat die pad vir n dag lank in die geel pulsar karretjie en kom huis toe
vol giggels en n bultende pers sportsak.

Ons kinders, ek is die oudste van n groepie van 5 niggies en nefies, word met die dood gedreig as ons dit sou waag om net na die sak te kyk… Nevermind in die sak!

My ma en tannie Thelma hou toe in die buurte om ons partytjies soortgelyk aan “kosblik-en-sapbeker” partytjies…. Ons sou later uitvind in die berugde pers sportsak was fyne onderkleertjies en speelgoedjies vir dames…. Ons speurwerk het bestaan uit een watby die venster staan om te kyk wanneer die grootmense huis toe kom en een wat in die sak koekeloer.

Die grootste bron van vermaak was toe my ma hulle vir die ander tannies (ons was nie veronderstel om tande te tel nie) vertel van hulle ondervinding op die hoofweg in Johannesburg iewers. My ma agter die stuur, tannie Thelma wat hulle inkopies bestudeer in die passasier sitplek en n trokdrywer wat langs hulle verbykom, sien wat sy bekyk en homself omtrent verloor soos hy toet en waai!

My ma het ook op haar dag mediese versekering verkoop. 

Inlywing

So paar dae voor die troue is ek in die geselskap van die hele uitgebreide nuwe skoonfamilie. Daar is baie van hulle!

Iewers in die middel van die gekuier word ek tv kamer toe geroep. Toe ek daar instap voel dit hulle sit almal vir my en kyk – voltallig tot op Tinkles, die moeilike poedel.
Ek was nog nie halfpad so mak soos nou nie. In die middel van die vertrek sit oupa op n stoel, kiertsregop met n kierie in sy hand.

Ek word voor oupa staangemaak en dit voel hy gluur vir my, dit is meer as kyk.
Dis kyk met oog, wenkbroue, alles. Nie n sweempie van n glimlag nie.

Oupa sê “herhaal agter my aan… O wha”. Nou wat de hel? O wha wat??? My brein werk oortyd en al wat by my mond uitkom is “huh”. Amper soos wind uit se geluid. Oupa kap ongeduldig en sê weer ek moet agter hom aan praat.

O wha… Tafu… Liam. Die sinnetjie word herhaal… Vinniger en vinniger – oupa in n sterk stem en ek piep agterna soos n n budgie met laringitis. Op n n sekere spoed (amper soos n langspeelplaat wat op die regte setting gespeel word) maak die chinese sinnetjie toe sin –

O what a fool I am!!!!

Teen daardie stadium was my blaas so vol my oë het oorgeloop en ek wou net huis toe gaan, na mamma toe! Enigiemand wat my lank gelede geken het sal weet dat die storie vir my n riller was!

Snaaks genoeg was die staaltjie die een wat my hart laat pyn het toe ek dit na oupa se begrafnis weer vir iemand vertel het. Want die man met die harde stem en kierie het bitter diep in my hart geklim. Hy kon regte stewige oupa-drukkies gee as hy mens groet en wanneer sy gehoorstukke dan begin raas het hy het laat hoor “daar kom die trein!”

Onder die konfyt

Verlede naweek kuier ons by die skoonfamilie – myne.

Ons slaap vir die eerste keer by n huis wat skoonsus hulle onlangs gekoop het.
Met almal se besige skedules land ons Vrydagaand redelik laat daar aan en hulle het ander verpligtinge, hulle het n huissleutel en n hek remote gelos so ons slaap daar, ons sal hulle wel Saterdag sien.

Saterdagoggend moet ons baie vroeg karate kompetisie toe in PE en met die dat ons nog nie die huis uitleg so goed ken nie en ek nie die tipe mens is wat in kaste krap nie moet liefie met kitskoffie by die karate venue tevrede wees.

Saterdagaand bespreek ons die besondere wyse waarop die kaste in die kombuis ontwerp en uitgelê is. Die gesprek beland by die oggend-sonder-koffie…
Skoonma sê ek moes net onder die konfyt gekyk het…. Chaos! Almal skater!

Die konfyt storie loop terug na 22 jaar terug toe ek n vars bruid was van n polisieman wat moes nagskof werk terwyl die winter begin byt. Wanneer liefie nagskof werk het ek by skoonma en skoonpa gaan slaap.

Die aand voor nagskof, ek het my pligte nog ernstig opgeneem, wil ek n fles koffie maak. Ek vra toe vir my skoonma, wat ek soms nog per ongeluk tannie noem,
waar ek n warmwaterfles kan kry. “Onder die konfyt in die kombuis”…. Bleddie vae antwoord as jy in ag neem dat hulle in n massiewe kleindorpie pastorie bly en
die kombuis uit drie gedeeltes bestaan – spens, kombuis-kombuis en n waskamer.
Twee van die drie gedeeltes het ingeboude kombuiskaste en bo op al daardie kaste staan die konfytpotte ingeryg soos skoolkinders in die rye na pouse.

Ek gaan al daai kaste deur… Slaaibakke, glase, wyn glase, kastrolle, skoonmaakmiddels, you-name-it. Net geen fles nie.

Ek gooi tou op en stap tv kamer toe om te rapporteer. “Ek het by die yskaste gekyk,
in die kombuis gekyk, oral waar konfyt is, daar is geen fles nie.

Aangesien my skoonma nie die soort vrou is wat haar oë vir ander mense rol nie het sy net haar kop geskud en mooi verduidelik dat dit in die kassie onder die ketel op die rak onder die marmite potjies en gebruikte potjies konfyt is.

Nou nog as ek verwoed soek na iets sal my man net sê “kyk onder die konfyt!”

Lost in translation

Lost in translation…. staan ons in n supermark om koeldrank te koop. Twee jong fris afrikaanse klonge staan by die sigaret toonbank en die een vra “het julle die Car magazine?” Jy sien hoe gaan die vrou agter die toonbank in “disapproval” mode in! Die dun wenkbroue wriemel soos wurmpies en die mond tuit pure suurlemoen. Met ysblokkies wat rinkel in haar stem vra sy uit n hoogte “what kaal magazine are you looking for?” This is a family store, sir! Jong man se kakebeen slaat daai toonbank en sy gesig is n prentjie van verdwasing. Ek het lanklaas onbedaarlik gegiggel! Gelukkig kom boerseun se pel met die regte tydskrif tussen die rakke uit.

Voorsorg en voorbehoed

Die dinge wat my ore aanhoor…. en met voorbaat verskoning aan enige mans wat hier lees.

Hierdie eerste paar dae van die maand is die besigste tyd, en dan beland ek voor by die toonbank. Wat n lekker plek, dit kan rof raak, soms vind ek dit amusant en partykeer baie leersaam.

Vanmiddag na ete kom daar so stroompie kliente op een slag in, almal vrouens en dit klink sommer soos n vyeboom vol spreeus! Vir die res van wat hier geskryf word kan ek nie krediet of verantwoordelikheid aanvaar nie.

Om een of ander rede draai die gesprek na babas en een dame laat hoor “ek het vir die kliniek gevra om my sommer drie maal die naald te gee want vir n baby sien ek nie weer kans nie. En my enjin kan nie afgesit word nie!” Jammer dolla, ek dink nie n trippel dosis depo is die antwoord nie! Die kliniek het ook nie van die voorstel gehou nie.

Uit n ander oord hoor ek “ek like nie die naald nie. Dit vat al mens se gevoelens weg. Die mansmens kan vir jou bevoel en vryf soos hy wil… as die gevoel weg is is dit weg!”

Uhm? My kop sak al laer, ek kry al hoe warmer en skryf al hoe vinniger.

“Nee man, na so drie maande kom die gevoelens alles terug” – nog n ingeligte een. Nommer twee laat waai “as ek die gevoelens soek soek ek dit nou, nie oor drie maande nie!”

Party dae kan mens net dankbaar wees vir huistoegaan tyd!

Groot sondes en kleintjes

Vanoggend werk ek in die kantoor en dis maandeinde vol…. Almal tjirp en gesels en die tannie lag en groet. Klink soos n bazaar! Dis die plek waar ek die meeste wysheid bekom… Op n stadium loop die gesprek in die rigting van drank en skielik is kerk en nagmaal ook in die geroesemoes. Vra die een oom of hulle al opgelet het dat die dominee se nagmaal beker is groter as die gemeente s’n! Laat hoor n tannie uit n hoekie “ek verstaan dit glad nie, ek het baie meer sondes as hy! Ek is al oor die 60 en ek rook en drink, en ek vry nog!”

Onwillige noodsaaklikhede

16 Desember elke jaar het ons n daguitstappie PE toe. Die manne in die huis trippel dan gewoonlik al so vir n week lank opgewonde rond want die nuwe (lyk my daar is elke jaar n nuwe een) Star Wars fliek kom uit…. Dit word ge- “Imax”.

Ek gebruik die kans altyd om deur die skool se skryfbehoefte lys vir die volgende jaar te werk. Eers was dit twee lysies en na ouboet klaar is het die inkopies halfveer.

Met kleinboet wat toe ook klaar is met skool einde verlede jaar is ek skielik doelloos dwalende die oomblik toe die fliekdeure agter hulle toegaan.

Boekwinkels deurgestap (sjoe, boeke is darem duur!). Daarna vir kleinboet n paar goedjies gekoop vir die woonstelletjie. Nog steeds Imax hulle.

Kom die gedagte by my op dat die man van die huis nog laas gesê het hy kort nuwe onderklere. Bestyg ek die roltrap na bo waar die klerewinkels flink besigheid doen.

Koop eers vier “special” t-hemde vir ouboet en kleinboet. Kom voor die onderklere rak te staan en KRISIS!!!! Daar is net Jockeys met vreeslike breë rekke en dan boxer shorts. Al om-en-om die rak soek ek… Niks.

Roep die jong verkoopsman met die lang kuif en dun broekspype en nog dunner skoenpunte nader. Deesdae se jong manne word mos nie boude ge-issue nie. Is groot fris skouers en arms, dan n paar dun dun heupies en sulke lang maer beenjies en g’n niks om die agterkante van n denim vol te maak nie!

Nou kyk, my man se boude was die eerste wat ek van hom raakgesien het, niks van daai mooi persoonlikheid nonsens nie, en na 22 jaar kan daai boude in n mooi denim my nog steeds sidetrack… Soos julle hier kan sien!

Vra ek vir die jongeling ek soek onderbroeke. Dowwe kyk… O, ok hy verstaan nie afrikaans nie. Uhm underpants? Hy wys vinger na die rak. Nee boetie, die oom dra regte propperse onderbroekies met n dun rek. Na my beste engels tweedetaal verduideliking snap hy, die gesiggie verhelder en hy sê “oh, old uncle onnies”!

Hy raai toe n ander winkel aan en die neusie kreukel so effens omdat ek potensiële skroplappe-vol-gate in sy brand name shop durf soek!

Goeie dade…

Is n goeie gebaar nog n goeie gebaar as die uitvoer daarvan jou tien jaar ouer maak? En as jy geen woord, of eers n tjirpie van dank kry nie?

Ek kan mos aan geen vreemde dier – lewendig of dood – raak nie! Gril my dood!

Kom vanaand in die kombuis en hier fladder duif se kind in die vensterbank rond. Soos sulke goed werk…. is ek alkeen by die huis! Die honde gaan mal by die aanskou van die vreemdheid en die duif fladder fladder verskrik.

Soos altyd as ek n probleem teekom, ignoreer ek dit eers. Toe praat ek met die duif… “kyk net op man, die opening is by jou kop”. Niks! Toe bekruip ek hom met n vadoek…. slegte plan! Bleddie duif het sensors of flippen radar of sien my in die venster aankom.

Ek stap buitetoe om te kyk of daar nie n siel in die straat verbystap wat kan help nie. Straat is skielik Sondagmiddag-stil!

Probeer hom kalmeer met n stukkie brood… ga!!! Is n banting duif, brood word met minagting vloer toe geskop! Gluur my kraal-oog aan!

Vervang die vadoek met n handdoek… vorder n bietjie maar onderskat vir duif se kind. Eerste probeerslag sit ek met die helfte van die stertvere in my hand.

Derde poging het ek hom toegewikkel in die handdoek en buitetoe. Toe my hande oopgaan vlieg hy woerts warts die sonsondergang is, stertvere windskeef…. en die honde kyk my dikbek aan!

Fietsryers

Fietsryers…… kan soos volg opgedeel word –

die “Pro’s” – hulle is die manne wat ken van. Die regte toerusting en ‘n plan vir elke pap wiel. Hulle ken van “pace” en “slip ry” en daai. Jy ken hulle sommer so aan hulle special skoene en weerkaatsende fietsrybroekies. Hulle horlosies kan in ‘n cardio unit diens doen want hy monitor ALLES. Hierdie is ‘n ernstige saak. Opdraende is waar die ouens se “skill” inkom.

Die “hobbyists” – dis diegene wat redelike oraait fietse het en dit doen vir die lekker en nie heeltemal so kompeterend is nie. Alhoewel dit nogal belangrik is om ‘n goeie average te handhaaf. Hulle droom van horlosies wat alles kan monitor. Hulle ry in groepe en skerts en lag. Opdraende is oraait en hulle voel “chuffed” as hulle die bopunt van die opdraend haal sonder om te blaas.

Dan kom ons by diegene wat lyk soos die oom wat ek vanoggend op pad werk toe raakgeloop het…. (terloops ek val in die oom se groep). Die persone ry in enigiets wat los en gemaklik sit. Rat-verhoudings beteken niks. Hulle droom van horlosies wat tyd wen sodat die uur se oefening vinniger verby gaan. Jy kan hierdie groepie veral op die opdraend herken… Die kop is laag gesak en die skouers hang – dit BEUR teen die opdraend op teen slak spoed. As daar ‘n kar van voor af kom word die kop gelig en die gesig is vasgevang in ‘n “Ag moer, help my net” uitdrukking!!!