Vanoggend gaan ek en Jaco Swart kersdiens toe. Die kerk is so mooi en rustig. Ons sit en kyk hoe die mense die kerk instap – een-een, paartjies en groter gesinne. So hier en daar n trotse ouma en oupa aan die voortou met kinders en kleinkinders agterna. Paar groepe is nogal fris in getal, die kleinkinders van dummy suig tot tiener stadium. Almal kuier by ouma en oupa in die Karoo.
So kort voor die diens wink iemand die koster en hy is op n drafstap uit en gou weer terug. Hy sit n mandjie bo op n stoel voor die preekstoel neer. Inhoud onbekend.
Dominee betree die preekstoel, die diens begin, ons sing n mooi kerslied.
Toe gebeur die ding… Dominee klim van die preekstoel af, kom staan onder en nooi AL die kinders om voor by hom te kom sit. Nou, julle almal het seker al die natuur dokumentêre programme gesien waar diere in groepe migreer na groener weivelde… Daai storie. Daar kom kinders uit alle rigtings!
Dominee vertel vir die kinders en vra vrae en so aan. Aan die einde van sy storie vat hy Rooikappie se mandjie voor die preekstoel en sê vir die kinders wat nie weet nie dat hy gewoonlik by n diens vir die gemeente kinders lekkers gee….
Ek grinnik, stamp aan my man en fluister “Vandag aanskou jy die vermeerdering van die fizzers… Die dominee het te min lekkers!”
Wyse man wat hy is het die dominee ter elfder ure vir oom Vossie gestuur om nog sweets te gaan koop. Toe die eerste handjie uit die mandjie kom, wat sal ek sien? n Pienk fizzer!!!!