Ons het n klient, n waardige wyse dame van 91… Ouma Martha. Sy is die matriarg van haar familie.
Ouma Martha se kleindogter raak swanger en hier teen die tyd dat sy 4 maande ver is hoor ons sy is in PE in n hospitaal in n koma. Die dokters wil die fetus aborteer maar ouma Martha en haar dogter weier volstrek.
Die tyd gaan verby, die baba word gebore en na n lang ruk kom die mamma terug huis toe. As n komplikasie van die koma en die geboorte is sy verlam.
Ons ontmoet die baba. Pragtige seuntjie. Sy ouma gaan kort kort met hom met die hospitaal bussie PE toe want hy het n hele rits gesondheidsprobleme en is gestremd… Probleme met sy ogies, n dreineringspypie vir die vog op sy brein, sy groei en vordering het n ver agterstand teen kinders van sy ouderdom.
Soms na n fisio afspraak of doktersbesoek kom die tannie by ons kantoor verby met hom. Ons sien hom groter word, stadig leer glimlag, tande sny. Ons raak heeltemal versot op die mannetjie en wanneer hy die kantoor binnekom staan alles eers stil sodat ons kan cuddles uitdeel.
Terwyl sy ma in n koma was moes ouma en oumagroot vir baba n naam gee. Uit alle moontlikhede uit noem hulle hom Genade… Hy is nie Moeite, Laspos of Komplikasie nie…. Hy is liefde, glimlaggies en cuddles oral waar hy gaan. Hy sal seker nooit in sy lewe n belangrike werk doen en ryk word nie… Hy verryk wel die mense om hom se lewens.