Uitspraak en konteks

n Hele klompie jare gelede kuier ons een Desember vakansie in Nelspruit by my skoonsuster en haar man. Hy was in die vervoer bedryf en een middag vat hy ons saam na die werf waar die trokke geparkeer staan.

Terwyl hy en die ander mans tussen die voertuie rond beweeg sit ek en ons oudste in die bakkie. Groot nuwe bakkie met al wat n meghêfter is. Seuna was so graad 2 rond en het net mooi met selfvertroue begin lees… Afrikaans en so hier en daar engels… Karoo kinders en engels is nie altyd ewe goeie pasmaats nie.

Skielik en totaal uit die bloute vra hy vir my “Mamma, wat is erection?”… Ek snak en spoeg soos n generator wat laag hardloop op petrol, my neus begin sommer loop en my een oog spring.

Ek dag ons is nog jarrre weg van die gesprek af en dat dit Pappa se job is, siende dat hulle identies aanmekaar gesit is. Pappa stap egter doer ver saam met die mans tussen voertuie so groot soos my penarie rond.

Op n manier behou ek teenwoordigheid van gees en vra versigtig “Waar het jy dit gehoor, Boeta?”

“Ek het dit hier op die kant van die deur se handvatsel by die knoppie gelees…”. Ek skuif nader om ook te kan lees en daar staan SONY ERICSON Bluetooth.

Phew! Genadiglik het ek gevra voor ek n baie lang baie onnodige verduideliking vir die bloedjie gegee het… Wat tot nuwe ongemaklike vrae sou gelei het.

Wys mens net – uitspraak en konteks is baie belangrik wanneer mens lees, veral in engels!