Elke mens het gawes en talente en dan het elke mens daardie een ding wat hy nie kan doen nie…
My struikelblok in die lewe is bak, koek bak!
Terte, soos dit maar met terte gaan, is maklik. Maar koek bak is n ander ding. Daar is soveel bestanddele en stappe en scenarios wat mens kan pootjie.
Dit is egter nie te sê omdat mens iets nie kan doen nie, gaan jy dit nie wil doen nie. Waar n wil is is daar n weg.
So pak die koekbak lus my eendag. My liewe man, wat wel bewus is van sy tekortkominge raai my aan om net n koek te gaan koop. Ek is lus vir bak, nie koop nie.
Tannie Ina se bokskoek lyk na net die oplossing. Mens klits olie en eiers by. Hoe moeilik kan dit tog wees. Liefie, doemprofeet, vertel vir my ek gaan die ding flop!
Lang storie kort… Ek haal die spoggerigste egalig gerysde, perfekte sjokolade koek uit die oond uit. Manlief bly skepties… Te veel rugby gekyk, shame… Dis nie verby voor dit nie verby is nie.
Kinnerlik opgewonde draai ek al om die koek. Ek blaas dit omtrent koel… Nou wil ek die pragstuk versier… Met karamel en rooi kersies. Liefie eet nie versiersuiker nie.
Ek maak die blik karamel oop en dit is vir my effems dik, ek besluit om net so n “tjiertsie” melk by te gooi om dit meer smeerbaar te maak. My hand is so bietjie swaar op die melk (gelukkig bak ek nie vrugtekoek nie). Die karamel is nou so bietjie meer smeerbaar as tegnies nodig maar dis nou maar so.
Ek versier met n lied in my hart. Te pragtig. Ek moes op die plek n foto geneem het!!!
Ek verlaat die kombuis vir n oomblik en kom terug… Die louwarm sjokolade koek het die karamel opgesuig soos n droë spons badwater, die kersies het die stryd verloor en lê reg rondom die koek op die glasbord.
My man se kommentaar… “Ek het jou gesê jy gaan die koek flop!!”.