Eerste indrukke is blywend

n Hele klompie jare terug vat ek Jaco vir die eerste keer huis toe om my mense te ontmoet.

Ons het n varkhond tefie en n hondjie van onseker oorsprong. As ek nou daaraan dink was dit die produk van n yorkie-poedel romanse wat geblom het. Basjan….

Diereliefhebber wat Jaco is moet hy toe ook vir Jeannie groet.

Daarna sit ons mooi netjies in die sitkamer. Die mooie jong man wat ek kom voorstel, hare gekam, hemp ingesteek… Netjies.

Vanuit nêrens daal Basjan op Jaco neer en begin met groot ywer en spoed kennis maak met n verdwaasde Jaco se been.

Die res van ons tot stilte geskok! So versteen soos ou Cerebos sout wat nat geraak het. Iemand het Basjan aan sy nek gegryp en by die agterdeur uitgegooi. Die moeite was verniet. Basjan het die resies terug sitkamer toe gewen en n nuwe rekord opgestel. In sy aantog trek sy ruggie al krom en begin sy oortjies flap. Hy “latch” behoorlik aan Jaco se been.

Basjan moes vir die res van die kuier in die badkamer toegemaak word.

Wat ons van vergeet het was dat Jeannie, die varkhond tefie, vatbaar vir manlike aandag was en sy n romantiese aroma moes oorgedra het.

Dit was die begin van n hegte vriendskap tussen Jaco en Basjan brakkie.