Inlywing

So paar dae voor die troue is ek in die geselskap van die hele uitgebreide nuwe skoonfamilie. Daar is baie van hulle!

Iewers in die middel van die gekuier word ek tv kamer toe geroep. Toe ek daar instap voel dit hulle sit almal vir my en kyk – voltallig tot op Tinkles, die moeilike poedel.
Ek was nog nie halfpad so mak soos nou nie. In die middel van die vertrek sit oupa op n stoel, kiertsregop met n kierie in sy hand.

Ek word voor oupa staangemaak en dit voel hy gluur vir my, dit is meer as kyk.
Dis kyk met oog, wenkbroue, alles. Nie n sweempie van n glimlag nie.

Oupa sê “herhaal agter my aan… O wha”. Nou wat de hel? O wha wat??? My brein werk oortyd en al wat by my mond uitkom is “huh”. Amper soos wind uit se geluid. Oupa kap ongeduldig en sê weer ek moet agter hom aan praat.

O wha… Tafu… Liam. Die sinnetjie word herhaal… Vinniger en vinniger – oupa in n sterk stem en ek piep agterna soos n n budgie met laringitis. Op n n sekere spoed (amper soos n langspeelplaat wat op die regte setting gespeel word) maak die chinese sinnetjie toe sin –

O what a fool I am!!!!

Teen daardie stadium was my blaas so vol my oë het oorgeloop en ek wou net huis toe gaan, na mamma toe! Enigiemand wat my lank gelede geken het sal weet dat die storie vir my n riller was!

Snaaks genoeg was die staaltjie die een wat my hart laat pyn het toe ek dit na oupa se begrafnis weer vir iemand vertel het. Want die man met die harde stem en kierie het bitter diep in my hart geklim. Hy kon regte stewige oupa-drukkies gee as hy mens groet en wanneer sy gehoorstukke dan begin raas het hy het laat hoor “daar kom die trein!”