Geweeg… en te lig bevind

More is die begin van lente… en soos bere wat uit hibbernasie kom begin ons outomaties dinge doen om ons winter blubber te verminder… drink n glasie water, eet n appel, die tipe dinge.

So paar jaar gelede het ons n slim badkamerskaal gekoop. Jy kan n profile opstel met jou ouderdom, lengte en geslag.

Wanneer jy dan opklim word jy nie net geweeg nie maar ook gejudge… daar is n formule – lengte x hoogte x breedte ÷ die hoeveelheid blokkies sjokolade wat jy laaste geeët het. Dan kry jy jou vet persentasie. BMI.

Nou kyk, as n man hou van sy biltong met daai randjie blinkgeel vetjie, dan sal hy nogal vir my kyk. Die ou wat green juice vir brekvis drink gaan my nie eers met die hand groet nie.

Verlede week was die eerste weegsessie. Wat dit nog ouliker maak is dat jy die inligting weekliks op die health app op jou foon kan stoor. Dan kry jy funky grafieke wat jou vordering dophou, opwaarts of afwaarts. Die oulike ding van n foon is… dat as die grafiek jou nie aanstaan nie kan jy net die foon onderstebo draai… “for more handy health tips, follow me…”

Verlede week het die skaal perfek gewerk, my en Jaco se syfers gegee. Vanoggend staan man van die huis op en verklaar dis weegdag. Hy klim op, kry sy goed en tik dit in op sy foon.

My beurt… hy verander die skaal na my profiel en ek wip op. Ek word geweeg maar my fat % gooi die skaal n ERROR. Ek klim af, reset en klim op. Dieselfde storie. Ons gaan stort en toe probeer ek weer die skaal. Die ding weier volstrek. Jaco klim op en dan is alles reg. Verander die profile na female en hy steek vas. Hy gaan sover om net my profile net te verander na male… en wanneer jy opklim kry hy n resultaat.

Toe slaan dit my… ek het ook my “monthly” tracker op my foon. Die 2 apps gesels met mekaar. Die skaal weet die derde week van die maand vertel jy nie vir n vrou sy is vet nie.

Weduwee wees…

Saterdagoggend gaan werk ek. Liefie gaan leer die kinners karate doen (een outjie wil net leer om n ander tannie se kind goed te skop)… na n uur se karate doen hulle bietjie zumba saam met Dehan. Niks ongewoon nie.

Liefie kom by my werk aan, spierwit in die gesig en sopnat gesweet. Hy voel niks lekker nie. Nou kyk, my werk is nou nie n plek waar jy kom staan sleg voel nie. Na n cupcake en n koppie hot chocolate hardloop sy hart nog steeds soos n resiesperd.

Ek stuur vir hom na die nurse toe dat sy kan kyk wat aangaan.

Sy stuur hom dokter toe. Hartklop 192… 45 minute na hy opbou oefen het. Ek skrik so, ek kan nie opkas of lone doen nie.

Sondagoggend toe ons (of eerder ek) min of meer tot bedaring gekom het kyk ek hom in die oog en sê Liefie!!! Kyk hier, nè, ek is nie weduwee materiaal nie.

Weet hy hoe werk dit as n vrou voor 50 n weduwee word? So na 6 maande begin al wat hubaar en beskikbaar is van die dorp se manne by jou deur opdaag.

Hulle bied aan om jou garage deur en tuinhekkie te olie, jou kar te diens, ens. Hulle groet tot die hond. En jy moet koffie en verskonings aanbied vir n vale.

Want sien, na 6 maande is die papiere van die boedel sekerlik naby aan in orde… en n gevry na n boedel is n ongemaklike besigheid. Ek het nou nie krag om gewillige mans van my stomme lyf af te probeer hou nie.

Liefie het maar die max heart rate op sy fitbit bietjie laer gestel.

My suster het my wyse raad gegee… wanneer die eerste koffiebeker begin afkoel van die eerste besoeker moet ek net saggies sug en sê die man het my toe mos met min gelos… ek moes laasmaand al my trouring verkoop om te kon krag koop.

Wag tot Piet kom

My kollegas het n sêding… Jy gaan wag tot Piet kom. Tot op hede het ek nog nie veel gewonder oor wie Piet is, wanneer hy gaan kom of van waar af nie… tot vanaand.

Jaco is op pad bootcamp toe maar kom terug om sy matjie te kom haal wat hy vergeet het en besluit toe om sommer die sak nartjies te vat wat hy vir die bure wil gee.

n Rukkie later bel Tiaan en vra ek moet hom gaan oplaai. Ek sien die kar staan buite geparkeer, dink by myself Jaco het vasgehaak by die bure. So staan en wag ek vir hom om terug te kom.

20 Minute later besluit ek om maar n draai te loop want Jaco kom nie aan nie. Ek is oortuig daarvan hy het vasgehaak by die bure en homself uit sy oefensessie gesels.

Tiaan bel my half verward en sê pa het met sy eie vervoer gery… ek het nooit besef dat ek op en af stap op die spasie waar sy voertuig altyd staan nie. Ek sou wraggies daar staan en wag het tot Piet kom… of Jaco terugkom van bootcamp af.

Ken enigiemand vir Piet? Wanneer kom hy gewoonlik? En van waar af?

Keuses…

Ek sit en bekyk die covid storm so, nie die siekte self nie, net die res… om te spuit of nie te spuit nie… die kant toe en daai kant toe is elke party vuur en vlam oor hulle “reg” om te doen wat hulle keuse is. En daar is niks mee verkeerd nie.

Met sosiale media is alles net baie meer in die oopte en “public” as vroeer.

Nou imagine moreoggend word julle wakker met die volgende op my wall…

Whoohoo, depo shot done. Nou kan pappa maar kom, vir my stamp hy nie om nie…. kompleet met n selfie van my en die kliniek suster… of n foto van my 3 maande voorraad van die pilletjies.

Jare lank doen ons wat ons moet, of ons laat dit na, om onsself te beskerm. Ons judge mekaar nie oor goed soos voorbehoedmiddels, of selfs iets soos dieetpille nie… maar daar buite is mense wat nou al vir n tweede keer siek is met covid, mense wat al meer as een familielid verloor het as gevolg van n siekte wat ontken word, of afgemaak word, of… of…

Dit sal soveel makliker wees as ons net mekaar se keuses respekteer. As jy trots jou vaccine foto wil post doen dit, ek is bly vir jou. As jy nie wil spuit nie, good for you, ek is bly vir jou.
As jy ivermektine in n shotglasie vat, well done.

Om mekaar se keuses uitmekaar te trek en mekaar te veroordeel gaan nie die virus keer nie.

Die ou wat glo dat die virus elke keer voor n nuwe “wave” deur vliegtuie in die lug gespuit word…my maat, ek dink my moet ligter teue vat van die kouse wat jy rook… maar dis jou opinie.

Not so normal new normal

Ek verlang na die goeie ou dae… wat sommer nog 2 jaar terug was,
Dae van onbevange lag
sonder n lap oor jou gesig.
Ek verlang na spontane onbeplande Vrydagaand kuiers en coffee shop geselsies,
Ek mis die in-die-middel van n kruidenierswinkel gang klets in n bondel,
Ek verlang na bank-ry geselsies en die voorreg om babas op te tel en te troetel,
Ek mis dit om skoolkinders te sien oefen op sportvelde in die middae,
Naweek kuiers saam met vriende, die opgewondenheid van n rugby kaartjie by n stadion… al gaan vergaap ek my aan die toeskouers want ek ken niks van rugby nie, oorvol winkelsentrums in Desember, matriekafskeid rokke gaan kyk by die venue se ingang… kerk bazaar en sondae se tee onder die bome.

Ek hou nie van die lam magtelose gevoel wat ek kry wanneer ek n foto op fb of whattsap sien met RIP/RIV, ons gaan jou mis boodskappies nie, ek hou nie meer van Donna Taggard liedjies nie.
Dit voel of mense-lewens uitgevee word soos somme op n swartbord.

Ek mis die dae wat n “wave” was wanneer iemand verby my huis ry en groet wanneer ek buite staan. Daar is niks meer positief aan + nie.

Gaan ons eendag ons maskers kan weggooi of verbrand soos die tannies destyds gedoen het met goedkoop bras? Mekaar weer vol in die gesig kyk… Gaan ons ons mense weer teen ons kan druk tot ons kreun? Meer happy birthday boodskappies as simpatie versies stuur?

Sal ons wêreld eendag weer heel wees? Sal ons die “new normal” kan uitvee soos somme op n swartbord? Want daar is niks normaal aan die huidige nie.

Beste medisyne

Ek het al die week al deeglik genoeg gekreun en geween oor my siekbed. Ek gaan nie weer nie.

Gisteroggend besluit ek 4 dae se teedrink en home remedies werk nie, ek voel al slegter. Ek sal maar n afspraak by die dokter maak.

Ek trek my selfbejammering pajamas uit, skrop my karkas, kam my hare en sit af spreekkamer toe.

My pajamas is n groot kruis in my lewe. Sodra ek begin siek voel gaan krap ek die oudste, mees uitgerekte sweetpakbroek en verbleikte t-hemp uit die onderste hoekie van die kas uit, ruik die ene motbolle. Dan voel my klere in sync met my siek-bui. Geen mens kan mos ordentlik vrot voel in silk en frills nie.

Die dokter is so n jolige ou, mens voel al beter nog voor hy na jou gekyk het. Jy hoor hom uit sy maag lag, dan is hy in die gang, altyd met n groot glimlag op die gesig.

Ek beduie mooi vir hom wat ek nou al alles probeer het wat nie gewerk het nie. Ek kry medikasie en n gawe inspuiting.

Vanoggend ontwaak ek en voel soos n mens. Vir die eerste keer die week.

Die storie sit my toe aan die dink. Veral met die wêreld se huidige situasie in my agterkop.

As ek siek voel sien ek n dokter, kry pille en voel beter. Ek wonder nie of daar bul sperm in my hoesstroop is en of die apteker dalk vir die dokter kickbacks gee nie. Ek vra wel vir die dokter oor newe effekte en vertrou dan sy professionele opinie. Hy is immers die pro.

Nou wonder ek net hoe lank dit nog sal vat voor Pheizer of iemand pille maak wat help vir domgeid.

Kômmin flu

Kyk, op dag 3 van n kômmin flu siekbed is ek nou reg om die covid jab saam met ivermectin te vat met n skeut jaegermeister by… ek gee nie om of dit per mond of in setpil vorm is nie. Vir good luck sal ek hom agterna jaag met n skyfie suurlemoen en n strooisel sout.

Ek weet nie of die kieme mekaar op instegram volg of email of facebook chomme is of wat nie. Ek was lanklaas in my lewe so goor. Dit terwyl my koors en suurstofvlakke normaal is.

Griep het duidelik besluit hy moet sy best game bring sodat hy nou nie na n sissie lyk teen die nuwe kiem nie. Tot n lekker simptoom ingegooi, pasella – nagmerries. My drome is op hulle beste nogal entertaining maar die nagperdjies is n ander saak.

My arme man hou kombuis skoon en dra tee en medisyne aan.

Siekbed klaagliedere

Ek en Tiaan is man & woman down, teen die planke by die huis… griep. Ons het al twee oor die naweek begin goor voel en teen sondagaand toe rev die storie ons in die rooi.

Weet nie wie het by wie aangesteek nie. Ek is so opgejack op aanvullings dat ek verlede winter nie eers die snuffels gekry het nie.

Ons blaf n duet wat weergalm teen die gang mure. Die arme honde kry nie n innings met blaf nie. Hulle gaan slaap maar in die sonnetjie. Ons koppe klop, bors brand… goor.

Dit lyk soos griep, voel soos griep. Maar sê nou net… ek en hy werk heup aan heup met ander mense en ons wil nie onwetend iemand anders aansteek nie. Ons laat toets ons toe, net vir veiligheid. Ek kan een ding sê van ons span in die dorp. Hulle is professioneel en behulpsaam.

As ek terugkyk kon ek maar die toetse gelos het. Vir 2 siek mense is ons besonder vreetsaam.

Jaco het ons gisteroggend versorg – pap, koffie en medikasie vir ons tot by ons beddens gebring. Maar daarna is alles afdraend.

Ek weet nie hoeveel keer ons by mekaar verby is op pad kombuis toe nie. Brood en kaas met tee (9 uur), van sondag se wildspot en tee (10:30), nog tee, broodjie voor middag pille (12 uur), tee, boerewors en n broodjie (2 uur), nog tee, toe uiteindelik aandete en nog tee. Aand pille en voor slaaptyd nog tee.

Vanoggend 4 uur toe my keel brand… nog tee! Ten minste kry ons genoeg vloeostof in. Ek voel soos n teepot en my blaas soos n gieter!

Vanoggend teen 5 uur (ek het toe lekker geslaap na my 4 uur tee) kom ons uitslae negatief terug. Baie dankbaar vir die uitslag maar ek moet sê die gewag smokkel met n mens se kop. Wat as… wat as… die getob en gewonder is nogal erg.

Ek sit en muf nog soos ou brood hier op die bank, sal more werk aandurf, gemasker en geserp.

Pasop… Vir die hond!

Ons het 3 honde…. n jack russel en dan n bad ass pitbul en n semi-pitbul. Ons het gedink sy is n pitbul maar nou het sy jakkals trekke en snaakse maniertjies.

So n week of wat gelede sê Jaco ons moet n “pasop vir die hond” bordjie koop om op die hek op te sit.

Gisteraand is hier n ligte donderstorm. Die pitbul lê in die gang, doodbang vir die geraas, die jack russel lê verveeld rond en kou haar toonnaels.

Die krag gaan af, huis is donker. Later besluit ons om maar te gaan slaap. Minky, die jack russel mik kamer toe, sy slaap by haar pa se voete. Die ander twee trippel trippel rond en kom nie tot rus nie. Die bad ass honde… Is bang vir die donker!!! Jaco prakseer n plan met n lessenaar liggie en die selfone se battery bank.

So ja…. Pasop maar vir die honde!

Happy camping…

Bootcamp done…. Op n vakansiedag nogal! Ek voel sommer jeugdig.

Dis nou ons 2de week by bootcamp en n mens leer vinnig. Wanneer ons daar aankom en die gewigies en goed word uitgepak in n circuit… Dan is ons oraait.

Wanneer ons daar aanland en die vloer is suspiciously leeg en die instrukteur smile net terwyl hy sy hande saamvryf… Dan weet ons ons is in vir n ander soort suffering. Dis star jumps, push ups, sit ups, crunches en allerhande dinge. Dit is ook nooit 2 sessies dieselfde goed nie. Mens kry nie kans om verskonings uit te dink nie, dis net go-go-go!!!

Terwyl ons aan die gang is suffer ons regtig. Maar wanneer jy daar uitstap het jy n lam en tam happy lyf en n ligte gemoed.

Ek het gisteraand tou gespring. Soos in daai aksie wat die ander kinders pouses gedoen het in die laerskool. Ek het gewoonlik in die biblioteek of op n stoep met my boek gesit. My brein en my bene is soos n ou getroude couple wat stry gekry het, hulle praat nie lekker met mekaar nie. Na 2 keer se bene knoop en amper omval het ek die ritme gevind, soort van.

Nou ja, my lyf weet nog nie dat moreaand zumba strong is nie en my brein hou sulke goed as n surprise. Ons sal more sien hoe ek die trappe bestyg. Dalk kan ek n nuwe trend begin en sommer onder op die sypaadjie voor die gym zumba! Ek hou vol… Die gym kort n blink paal, brandweer of stripper, maak nie saak nie.