Stof…. tot nadenke

Jaco doen partykeer dinge wat my baie aan my oorle man laat dink…. en hierdie is my eerste huwelik. Met die dat die ekonomie is wat dit is en alles behalwe salarisse vinniger styg as my bloeddruk wanneer ek my vererg doen ek meestal die huistake self. Tesame met n voltydse 6 dag werkweek.

Somer het arriveer in Cradock en die hitte maak my soms lighoofdig. Gister, ten spyte van my 2 middagslapies onder die dakwaaier, het ek wel tyd uit my dag geneem om die kombuis skoon te kry en die sitkamer reg te trek, oppervlaktes af te stof en met n klam lappie af te vee en te stofsuig.

Vanoggend na n salige koffiedrink sessie in die tuin stap ons die huis in en sal die man nou wraggies sy hand oor die sleeperblad van die tv kas trek en sy hand soos n spietkop omhoog hou sodat ek kan sien daar is stof! Nou kyk, ek is nie iemand wat maklik geweld pleeg nie. Dus het ek net stil gebly en resepte vir smaaklike begrafnis broodjie vulsels gaan google en gaan nou my swart romp aanpas… daai tipe houding regverdig nie die uitgawe van n nuwe uitrusting nie.

Met n knippie sout

Sout van die aarde…. sewe sakke sout saam opeet… selfs sout in die wonde vryf. Sout het van altyd af n belangrike rol in ons lewens.Gisteraand sit ek snoesig en salig onder my bersie toe liefie se voetspore mik in die rigting van die kombuis. Ek sit vaak vaak n bestelling in vir n koppietjie tee. Koffie drink ek nou al mooi sonder suiker maar met tee moet ietsie net die bitter vir my breek.

Uit die kombuis, hier deur my vaak newels syfer n vraag “is die bruin korrels in die bakkie suiker?” Ek weet net van een bakkie bruin korrels en ek beaam dat dit suiker is. Ek kry te koud om te gaan seker maak.Die koppie verskyn hier op ooghoogte en ek steek huiwerig my hande onder die bersie uit en vat die warm koppie vas. Versigtig vir brand vat ek die eerste (gelukkig klein) teugie uit die beker…

Ons het op skool geleer van n versadigde oplossing… hierdie is die naaste wat ek aan n akkurate beskrywing kan kom. Daar is n chemiese aksie/reaksie toe my mond toegaan agter die teugie vloeistof. Die vloeistof verander oombliklik in n gel-agtige storie.Ek sit in een oogknip die beker neer, gooi die bersie op die grond, spring bo oor, snel kombuis toe en ruk die agterdeur oop…. spoeg met n boog wat-ookal in my mond is op die stoep uit, bo oor die honde se waterbak.

Ek eet vinnig n sny brood met bovril, ek is nou wawyd wakker. Ek gaan kyk na die bose brousel wat in my koppie beland het…. braaisout wat ek lank gelede in n glas potjie gegooi het. Ek maak toe sommer vir my n koppie koffie. Ek dobbel nie weer met korrels nie.

Baie lank gelede het ek eenkeer vir kuiergaste koffie gemaak. Toe my ma die eerste sluk vat het sy so gespoeg… teen daardie tyd was die gaste halfpad klaar gedrink. Sy wil toe weet of hulle koffie reg is. Nee, sê die tannie, haar koffie het snaaks geproe maar sy wou maar niks sê nie. Daar was toe growwe sout in die suikerpot. Ek het eers gisteraand besef presies HOE goed gemanierd die gaste was.

Boomskraap maar nie broekskeur nie

Ek sit op die kantstoep van die huis met n koppie tee en hoor die toeskouers en kinders by die Voorbereidingskool se sport wedstryde, agter my rug in die straat ry voertuie verby. Daar is n ligte windjie en die son skyn op my gesig.

Die huis kort aandag maar Eskom sê eers later. Nou sit ek, sonder haas en dringendheid en vat die tydjie af. Die rustigheid is lekker.

Vier weke gelede was my gemoed heel anders. Angstigheid, ongelukkigheid en ontevredenheid het hoogty gevier.

Tussen 2016 en nou het n reeks negatiewe goed soos branders oor my gerol – my ma, oupa, stiefpa en broer is oorlede in die bestek van vier jaar. Elkeen van die begrafnisse het sy eie stres gehad, n massiewe huis wat opgepak moes word.

Covid het ons almal se lewens kom omkeer, werkskrisisse is vol in die blom… net daaroor alleen kan ek n boek skryf.

Met elke krisis wankel mens bietjie, stof jouself af en gaan aan. Elke gebeurlikheid vryf net bietjie van jou menswees-vernis af…. skaterlag en pret word net n ligte laggie, word net n glimlag, word n frons. Kuiers word moeite, alles word moeite. Mens word “moody” en probeer jouself in n beter gemoed in “regruk”.

So elke nou en dan gaan jou liggaam se “check engine” liggie aan – bloeddruk skiet op, hartklop hol weg, jy slaap sleg en suig rescue pilletjies soos sweeties. Dan kalmeer jy weer en druk deur.

Skielik, op n dag vat dit net een mediumgrootte krisis om die mat heeltemal onder jou uit te ruk en jou gemoed bloedneus te bliksem.

Die uiteinde is dat jy so huil (vir iemand wat nie n huiler is nie) dat jy by die dokter gaan draai – 1 week blaaskans, n hart uitpraatsessie, n pilletjie vir ingeval en n opvolg afspraak. Die opvolg afspraak eindig in nog n week se rus op dokters orders, die keer sonder n pilletjie.

Die twee weke is niksdoen tyd, leestyd, slaap tot 8 uur in die oggend tyd, saam met my man rondry tyd…. en dink tyd. Ek is oor die algemeen meer van n doener as n denker.

Die uiteindelike les is…. maak jouself los van goed wat sleg is vir jou gemoed, maak jou los van dinge wat in elk geval buite jou beheer is. Raak selfsugtig en sit die selfoon se klank af wanneer jy oorweldig voel. Wanneer n mens panic elke keer as jou selfoon lui is jy op n slegte plek! As dit nie joune is om oor te worry nie, moenie!

Meet jou porsies tyd baie versigtig af en deel dit oordeelkundig uit. Moenie so aan ander se oeste werk dat jou eie landerye karig bly nie. Dis oraait om partykeer aan jouself te dink.

Dit was geen magic oplossing nie. Die paniek en worry ry mens nog wanneer jy dit n halwe kans gee. Swaai daardie oomblikke so spoedig moontlik om – moet dit nie n rusplek in jou kop gee nie.

Die Kontrak

Dis nie algemeen bekend nie… maar daar was n prys op my kop… n “kontrak” uitgeneem op my lewe. Regte egte mafia moeilikheid.

Een bounty hunter het die uitdaging opgeneem. Sy was amper suksesvol! Dit was so hittete. Haar plan is gelukkig gefnuik.

Verlede naweek daal n moeder van n verkoue/griep op my neer. Dis n gehyg en gehoes, narigheid om te aanskou. Stem is kapoet, snuffel en snuif.

Saam met hierdie storie kom daar mos altyd die alewige kriewel in die keel wat mens gewoonlik in die kerk of publieke plekke beetkry met n ysterklou. Jy hoes tot dit voel jou ribbes kraak oop, jou oë traan en jou neus vloed, jou blaas ook as jy ouer as 39 is!

Om my ongemak en lyding te verleng is daar tans ook die grootste Halls suiglekker tekort in die geskiedenis van die mensdom. Mens voel later om sommer n klippie of iets te suig net om die kriewel af te weer.

Woensdag werk die liewe Jane by die kantoor. Toe sy gaan melk koop gee ek geld en vra vir n pakkie Halls, of enige ander suiglekkers wat ek kan byderhand hou vir die kriewel. Ek het nooit geweet Jane is n geheime agent nie. Aangeheg by my storie vind asseblief “Bewysstuk A”.

Uit alles waaruit sy kon kies is dit waarmee sy teruggekom het…. wie met nugter denke maak lekkers in ANYS geur?????

Maar soos die Ingelse sê van desperate times… suig moes ek maar suig. Die kriewel was te bang om terug te kom!

Navigeer my weer…

Die dag sal seker nie suksesvol afgesluit kan word as ek nie ten minste een keer ten volle myself was nie.

Ons is by die begin van die karate nationals in PE by die Boardwalk… ek gaan loop vinnig n draai voor ons begin. Regs deur die glasdeur, links by die badkamers en regs en n links tot waar ek wil wees. Doen my doene en was my hande en stap uit en vol selfvertroue maak ek die mooi wit deur aan my linkerkant oop…. en stap reg in n kas in met n baie groot rooi brandslang…. knip my oë stom verbaas en bars kliphard uit van die lag. Ek voel soos arme Alice in Wonderland!

Toe ek n kind was was daar nie diagnoses soos ADD en ADHD en sulke goed nie. Disleksie was selfs effe vreemd. Jy is gelabel as vestrooid, vreemd, “kop-in-die-wolke” en sommer deur die dinges. Ek het gereeld raas gekry oor n verlore boek, LO klere wat by die huis agtergebly het, ek het eerder my boek gelees as om huiswerk te doen.

Toe kry ek n pasmaat-kind vir wie ek notas binne in sy space case geplak het wat sê hy moet alles op sy lessenaar in sy tas pak voor hy huis toe kom en notas op en binne sy klerekas om hom te herinner aan goed wat moet skool toe gaan.

Nou lag ons vir mekaar se verstrooigeite… ek bêre die melk amper in die gangkas, hy sit die bottel heuning op sy spieelkas. Ten minste het hy nog nie in n kas geklim nie!

Huisskoonmaak is n avontuur. Ek gaan gooi n handdoek in die mandjie en sien op pad soontoe n koppie op die tafeltjie. Dan begin ek skottelgoed aandra, sien n spinnerak en gaan haal die stoffer. In die kas by die stoffer sien ek die stofsuier en sit die reg in die gang… geen een taak word op een slag voltooi nie. Wie wil nou fokus as elke dag net n reeks avonture kan wees?

Om te laai of nie te laai nie…

Deel van die pret om “grootmens kinders” te hê is dat die grense van mens se grappies wyd uitskuif… nou die aand gesels ek en die jongste oor alles en nog wat en ons kom by “vaping” uit.

Ek ken nie die goed regtig nie en noem dat ek nooit geweet het dat mens n vape moet laai (charge) nie. Hy sê “dit is n nuwe era en alles werk met tegnologie”.

Ek sê tong in die kies dat ek nou nie vape nie en nie earpods dra nie so ek gaan maar vir my n “adult toy” koop dat ek ook iets het wat ek kan charge…

Dankie tog vir video calls… die kind se gesig is n prentjie, hy rol sy oë, gooi sy hande oor sy gesig en dop amper agteroor en met n sug laat hoor hy “nee o donner, ek wil nie sulke goed hoor nie. Nee magtag ma, gaan charge jou selfoon!!”

Fênsie funksies

Ons is genooi om n funksie by te woon… ek is half versigtig vir “funksies”. Dit het die geneigdheid om stywe affêres te wees waar mens moet toemond smile en hakskoene dra. Hierdie funksie is in die vorm van n wynproe en veiling by Marlow.

Ek werk uit dat ek ten minste 5 van die mense gaan ken, die kaartjie sê mens kry n wynglas wat jy kan huis toe vat (dis nice van hulle!) En daar is nie n dress code nie (baie belangrik want ek het my semi formal koepon vir die kwartaal klaar gebruik by n begrafnis).

Ons gaan wyn proe… al wat ek van wyn weet is dat daar n wit soort, pienk soort en n rooi soort is, dat die rooi soort n moerse kopseer veroorsaak en dat wyn van Tops af kom.

Vanaand is toe die aand. Toe ons instap is daar kuierplekkies geskep met strooibale vir die mense wat nie by die tafels wil sit nie. Ons kry die beloofde glase… ek probeer van die Marlow manne omswaai om my glas n stel van 4/6 te maak maar is onsuksesvol! Ons kry nommers vir die veiling, net vir ingeval ons daarna voel om n kas of wat wyn te koop.

Daar is die lekkerste eetgoedjies… broodjies, geroosterde knoffel, patees, salami, frikadelletjies ens… die ma’s het behoorlik uitgehang.

Daar kom n wynmaker (n vrou nogal, ek is beindruk) wat vir ons vertel van die verskillende wyne, hoe dit gemaak word en ons kry proesels in ons glase. Daai rooi een het sommer op jou tong vir jou vertel dat n sluk of wat te veel jou kop sal draai soos n carouzel-perdjie op volspoed.

Dit is veiling tyd. Iemand stel n man voor saam met twee “spotters” aan sy linker en regterkant. Dis n getroude man, ek kon dit aan sy praat aflei. Hy trek daar los en praat die vinnige praat van n man wat nooit skuinsweg n woord inkry by die huis nie of op n drafstap op pad is badkamer toe en sy storie oor sy skouer wil klaar praat voor die badkamerdeur agter hom toeklap. Hy verkoop per bottel, per kas, enige manier moontlik!

Wat n prettige aand vol lag en lekker kuier! Marlow se gasvryheid is iets om te beleef.

Practice what you preach

Karate klas…. nee, ek weet ook nie hoekom ek dit doen nie! Maandagaand geoefen tot my tong uithang en toe op die sitkamerbank kom uitpass.

Die klas bestaan uit die 2 instrukteurs, 2 mans, n paar tieners, n paar tjokkers en ek.

Wanneer dit by oefen kom en daar partners gekies word kry ek flashbacks van standerd 5 LO klasse, ek het nie n maatjie nie! Siende dat die 1 instrukteur dan ook my eie persoonlike man is kry ek sy aandag van tyd tot tyd. Gisteraand is dit toe ook weer so.

Hy wys my (weer n keer) hoe my hande en voete moet wees, baie soos ek kleintyd my poppe se arms en bene rangskik het. Nou is dit keer-en-slaan, keer-en-slaan. Mens kan die oefenfiets en drafskoene bêre en net oefen om iemand te klap. Na 2 minute brand die bene en my asem is weg.

Met die moegword saam sak mens se arms bietjie. Soos my arms sak styg my moed en dit voel of ek tussen die blokke dalk n hou sal kan inkry mits ek sneeky genoeg is.

Die oomblik toe ek vorentoe hop met my vuisie reg kom daar van nêrens af n hou en beland teen my regteroor… mense, die man is vinnig! Ek skrik so groot ek wil sommer my kamer gaan skoonmaak en huiswerk doen. Hier binne my kop sing dit soos n swerm bye.

Hop-hop-keer weer en toe my arms sak sê die man vir my ek gaan my tande verloor… ek lag net en sê “jou verlies, jy gaan n haathbek moet thoen!”

Ek kan ook nou nie die hele klas lank die teacher’s pet wees nie en die man gaan gooi n ogie oor van die ander. Dit gee my kans om my asem terug te kry en ek sien uit die hoek van my oog iets wat meer soos n “kry jou pouse agter die kleedkamer” geveggie begin lyk as karate oefening en ek stap nader. My mawees skop in en ek stop die 2 kapokkies. Die een het die ander een teen die oog geslaan… toe het die een die ander een geskop… Ek sê toe “hy sal jou nie raak slaan as jy vinnig genoeg keer nie” en daar gaan n lig op en my oor sing van voor af! Practice what you preach, sus! Ek probeer maar weer volgende week.

Huweliksgeluk en brood…

Ek is nou al n hele ruk lank baie lus vir n bunny chow met n lekker souserige kerrie vulsel. Mens loop nie n regte egte bunny chow sommer op n straathoek raak nie. Regte kerrie is n talent wat nie in enigeen se voorskoot pante sit nie.

Die ander kwessie is dat ek sedert n slegte paar dae tydens kerstyd sover moontlik brood, rys, pasta en suiker vermy. n Bunny chow sonder brood is net sadness op n bord!Jaco roep my nounou en wys vir my n video van iemand wat n bunny chow maak. Hy was altyd oortuig daarvan gewees dat n bunny chow te veel brood bevat. Die video laat selfs sy mond water en hy vra of ek vir ons gaan bunny chows kry by n vroutjie in die dorp wat onlangs sulke goed begin verkoop het. Hy stel voor dat ons sommer een deel!!!

Nou hoor hier, kyk hier nê. Bunny chows is nie vir deel gemaak nie. Deel is vir milkshakes (nie chocolate milkshakes nie!) en graad 5 somme. As jy n bunny chow wil hê kry jou eie! Ek het sommer van sy skoot af geklim. Jinne, die man!

Realiteite, feite en geite

Daar is al 13 episodes van RHOPTA ook verby sonder dat ek een gekyk het. Die besprekings op facebook en lisametdierooihare se opsommings was vir my genoeg vermaak.

Sien ek toe hierdie week dat daar n seisoen in onse Qheberga aka PE se Baai ook gemaak gaan word. Daar is bewerings van ernstige catfights en blompotte wat gegooi word!

Hier gaan my verbeelding op hol en ek begin dink… wat daarvan as hulle hier op ons dorpie sou kom soek na The Real Makoti’s of Kaladokwe.

Imagine… Die D-R-A-M-A. Wie sal die powerpuff girls wees wat deelneem? Onthou die term “housewifes” word baie losweg hier gebruik. Dit verwys na byna enigiemand wat make up dra en in n huis bly.

In RHOPTA en die nuwe reeks in PE is dit prominente vroue in die samelewing wat hulle eie besighede het wat deelneem. Hulle gaan na boetieks en salonne toe en koop op Pappa se aandrang horlosies wat R360 000 kos. Hulle ry met sportmotors en jaag teen mekaar resies vir pret en maak geld bymekaar vir minderbevoorregdes. In een episode het hulle gaan ontspan in Zanzibar.

Ons sal 6 dames nodig hê met lang naels, hoë ambisies, vinnige karre en nog vinniger humeure. Twee moet baie bitsig wees, een met n borsmaat groter as haar IK, een sagte Suzy wat heeltyd probeer dat almal in vrede moet lewe. Een moet n inmengerige bitchy man hê.

Hulle moet kan tee en cocktails drink, op spykerhakkies loop en inkopies doen vir die eerste span. Ek weet nie lekker van die Zanzibar storie nie, dalk kan hulle sommer Gariepdam of Kwaggapark toe gaan.

Wie sal ons 6 wees? Ek kontak solank vir Rian van Heerden. Dalk kan ek n geldjie verdien…