Klein bietjie wyn…

Hierdie winter is vir my besonder koud! Oggend temperature van sommer -4. Dis asof die winter aspris is.

My wyse man gaan koop vir ons n bottel soeterige wyn. Jerepico… Dit proe kerklik – soos nagmaalwyn en so nou en dan in die aande teug ons bietjie bietjie daaraan. Koud is dit koud en na week 2 sien ons die bottel se bodem.

Ek is n self erkende wyn amateur. Ek is nogal geheg aan n lekker glas gin en as ek moet wyn drink moet dit n soeterige smaak hê.

Droë wyn proe soos stof en laat my kiewe skeef trek. Volgens die mense wat die bottel etikette maak smaak alles na bessies, sjokolade en vanilla.

Ek gaan dorp toe en besluit om die leë bottel te vervang. Ek stap die winkel in en na twee treë begin ek frons. Die rakke is geskuif en ek kry nie wat ek soek nie.

Die hulpvaardige verkoopsdame wys my in die rigting van n boks met 2 bottels… en mens kry n gratis (baie mooi) wynglas. Wie is ek nou op my neus op te trek vir n gratis glas.

Ek vat die boks en nog n bottel wat sy aanbeveel. Heel in my noppies gaan ek huis toe met my 3 bottels en n gratis glas.

By die huis aangekom bekyk ons die bottels… Shiraz, Pinotage en nog n bottel sonder n titel. Geen een daarvan soet wyn nie! Met my laaste bietjie hoop maak ek elke bottel oop en ruik daaraan… een ruik soos stof, een ruik soos n kopseer wat plek soek om uit te broei en een ruik sommer na sadness!

My liewe man weet meer van wyn as ek en vertel vir my dat een van die soorte wyn gemaak word van druiwe wat “swaar” gekry het… droogte en ongunstige toestande.

Goeie mens wat ek is besluit ek om die bottel eerste te red. Hoe gouer die bottel leeg is hoe gouer kan die voggies ophou suffer soos ant Stienie van Agter elke man. Die enigste probleem is dat die swaarkry oordraagbaar is. Sodra mens te veel daarvan inhet voel jou ooglede en ledemate baie swaar.

n Bitter pil om te sluk

Ek is oortuig daarvan dat die een wat die gesegde “Dis n bitter pil om te sluk” uitgedink het op Prednizone was.

Na elke stropie, pilletjie en doepa wat ek self kon uitdink vir my 100-dae hoes en snuffels is ek einde ten laaste gister dokter toe.

Die man met die masjien neem fotos van alle kante van my longe, klink hy werk vir Police File, dis net kliek-kliek-kliek.

Dokter kyk die prentjies, loer in my keelgat af en luister vir dit wat hy nie op die mugshots kan sien nie. Daar is geen bromkaatjies nie, niks. Dalk net die laaste stukkies van n kiem wat rondkuier in my binneste.

Enigeen wat my ken sal weet ek stap rondom n berg om kortisoon te vermy maar die keer is dit nou my lot, saam met n asmapompie.

Vanoggend moet ek die eerste van die ongewilde wit pilletjies drink en ek maak gereed. Die is mos nie n pilletjie wat jy net sluk nie. Jy het omtrent n stroom water nodig. Nie omdat hulle moeilik afgaan nie, die goed is bitterder as gal. Ek het sover gegaan as om n marmelade toastie voor die tyd te eet as offer aan my ingewande vir wat gaan volg.

Ek probeer die pilletjies in my mond gooi en n skoot water so vinnig moontlik agterna met die gedagte dat my tong dalk kontak met die pilletjies kan misloop.

Ek het in my jong dae nie genoeg geoefen met shooters nie want my reaksie is te stadig. Mensig, my oë traan en my neus loop na die spul maar dis in. Nou moet ons maar wag en kyk of die beloning soete stilte en n salige nagrus gaan wees.

I was never ready for this…

Ek ken iemand wat altyd sê “I was never ready for that” wanneer iets gebeur wat swaar/snaaks is.

Ek het al geskryf oor een van my hart-se-punte, Genade (Charlie).

Saterdagoggend nou twee weke gelede stap ek net by die werk in toe my foon lui. Dit is tannie Margaret (Charlie se ouma). Sy soek dringend n ambulans by hulle op Visrivier. Genade is van die vorige dag af knieserig en hulle het sedert die nag probeer deurkom, sonder sukses.

Ek kom gelukkig vinnig deur en gee die nodige inligting. Ek bel terug en sê vir die tannie die ambulans mense gaan haar kontak. Na n ruk laat weet die tannie niemand het nog gebel nie, dit gaan slegter en hulle gaan maar met privaat vervoer die stuk pad inkom dorp toe.

Dis n redelike deurmekaar oggend. Tussen begrafnisse het ons nog n sterfgeval by n huis en ek moet die hospitaal bel… die sekuriteitswag antwoord die foon, almal in OPD is besig met n noodgeval, ek moet weer bel. Ek kan al n eier kook van ongeduld maar wag 15 minute en bel weer. Die suster antwoord, ek doen my navraag en net voor ons aflui vra ek of die tannie van Visrivier daar uitgekom het met die siek kindjie… sy vra of ek die mense ken ek en verduidelik my band met die mense. Die suster antwoord “toe jy vroeër gebel het was ons almal met hom besig. Hy het dit nie gemaak nie”.

Daar was seker 4 keer in my amper 18 jaar by die werk wat ek gehuil het. Trane hier en daar is normaal, maar hierdie was snot-en-trane skouers ruk en snik van huil.

Hierdie week het ons n kissie bestel en reëlings getref. Vandag was die begrafnis. “I was never ready for this!”

Genade, jou “dorp ma” gaan jou kuiertjies en die skaam glimlag en onnutsige attitude mis!

In sy kort lewetjie op aarde was Genade vir ons n bron van liefde en vreugde.

n Hoes en n poep…

In afrikaans het ons n sêding wanneer iemand jou afjak… “hy het op my battery gepiepie”. Nie dat die sêding eintlik sin maak nie. Wanneer laas het iemand jou battery behoorlik sopnat gepieps? Jou afgeskakel dat jou kakebeen grond tref?

Ek sukkel om van die griep/verkoue ontslae te raak. Al wat nog eintlik oorgebly het is die 100 dae hoes besigheid. Mens se keel krap en as jy weer sien hoes jy tot die trane rol en jy tamatie-rooi in die gesig is. Dis koud, ek het n trui met n rolnek aan, lekker snoesig. Elke dan en wan gee ek n hoesie. Om nie almal om my nat te hoes nie lig ek met elke hoesbui die gerieflike rolnek so oor my gesig dat net my oë uitsteek.

Ons beland in die ry by die betaalpunt. Een ry links van ons staan n ma met 3 kindertjies in haar waentjie. Die hoes vat my weer n slag… die een dogtertjie kyk my aan met n frons. Engelgesiggie met sulke strawberry blonde haartjies en n roosknop mondjie, te pragtig. Toe die hoes bedaar en ek my wange afvee en my asem probeer kry kry sy so n afkeurende trek op die gesiggie, die wenkbroue frons nog stewig, die mondjie tuit en sy spoeg behoorlik die woord uit “SIES!!!”

Nou kyk, ek weet op my ouderdom kom daar partykeer saam met die krag van die hoes n bietjie fout met die knypers en dan glip daar n ligte donderweertjie iewers suid uit. Maar ek is seker dit het nie nou gebeur nie… of het dit? Ek het niks gehoor nie…

Ek giggel, Jaco lag sommer kliphard en die kind se ma wil haar doodskaam. Sy stoot die waentjie effens vorentoe om n skans van suiglekkers en kougom tussen my en die klein snip te bewerkstellig. Vir die volgende 10 minute het ek my hoes met n ysterhand probeer inhou!

My huwelik en n pot ertjiesop

Gisteraand het ons n heerlike sop & sjerrie aand gehad wat deur ons kerk gereël is.

Man van die huis het met groot geesdrif aangebied om n pot sop te maak. Ertjiesop… baie lekker! Net toe ek van die werk af kom moet die sop by die saal afgegee word.

Die dilemma – word die sop net so in die slowcooker vervoer of gaan ons die sop oorgooi in die dieper stoompot? Na n diekant-daaikant bespreking en die in agneem van die noodsaaklike warm hou van die sop word daar besluit om die sop in die slowcooker te hou.

Na n vorige onderonsie met my linkshandige onhandigheid het die slowcooker een van sy ore verloor. Tydens daardie veldslag het die glasblad wat bo oor die gasstoof kom ook sy Moses teëgekom en in amper soveel stukkies as die name op die onlangse verkiesingsbladsye gespat… onredbaar. Ek het weke later nog oral stukkies shatterproof glas gevind wat soos diamantjies lyk.

So word ek sitgemaak aan die passasierskant van gewillige Kaspaas met die skinkbord met die slowcooker wat tot amper bo vol warm sop is. My enigste werkie is nou om seker te maak die sop bly veilig in die pot terwyl manlief die immer gewillige Kaspaas deur die slaggat besaaide pad tot by die saal navigeer. Dit klink veel eenvoudiger as wat dit is. Net by die oprit uit, die hek is nog nie eers toe nie en ons het ons eerste uitdaging. Skielik en sonder waarskuwing is dit spitsverkeer in Proteastraat en ons moet botstil wag. Ons kom in beweging en nog voor ons by die stopstraat kan uitkom moet manlief 849 klein slaggate mis.

My senuwees… die sop lyk soos hoogwater/springgety iets. Ek werk al aan die verduideliking vir wanneer die dokter vra hoe ek derde graadse brandwonde in my skoot opgedoen het en hoekom daar n mengelmoes van ertjie en wortelstukkies betrokke is.

Eerste rat en skaars regsgeswenk en die sop maak branders. Ek besluit om my bene te probeer inspan as stabiliseersers, met min sukses. Ek begin so onder my asem (wat in elk geval aan die min kant is) sjit-sjit-sjit! Maar mens mag nie oor/voor/as gevolg van kerk sop swets nie en ek doen net my bes.

Na wat soos n ewigheid voel stop ons sommer teen verkeer in voor die saal en liefie masjeer die saal binne met sy offer. Met die uitstap loop ons ons vas in nog n sopkoker egpaar op pad met hulle pot sop.

Ons deel ons lot met mekaar en ek sê ek was so bang die sop val oor my en dan moet dit afgelek word. Die tannie lag en sê dis die soort ding wat sal maak dat haar man aspris mors!

Die groot Board-West debakel van ’24

Heel onverwags is daar n werksrit PE-se-Baai toe vir gister (Saterdag). Dit gebeur byna nooit dat ons op n Saterdag moet krematorium toe nie en ek steek my hand op en bied aan om te gaan… met bymotiewe want dit beteken ek en my wederhelfte kan die dag so saam spandeer. Romanties van my, ek weet… ek probeer my bes!

Ek bespreek die rit en wat moet gebeur met liefie. Die volgende feite ter wille van agtergrond –

Ons gaan saterdagoggend baie vroeg krematorium toe moet ry.

Die familielid van die oorledene het in PE oorgeslaap en ontmoet ons by die ingang van die Boardwalk by die koffiewinkel aan die linkerkant (Vida cafe met die rooi naambord) om die askissie te ontvang.

Die familielid woon in die Kaap en ry na ons ontmoeting terug.

Ons bespreek ook ons middagete planne. Aangesien ons naby die see gaan wees wil ons graag die see sien, dus is Barney’s n opsie of die eetplekkie aan die regterkant soos mens die Boardwalk inloop want daar is lekker sitplek met n see uitsig.

Terwyl ons wag om terug te gaan krematorium toe gaan loer ons oral in by die sussies en skoonsussies in beide Uitenhage en Despatch.

Terwyl ons Uitenhage toe ry noem die wederhelf toe dat ons eintlik eers die askissie moes optel en dan van Uitenhage af kon ons sommer “so om” gery het. (Daar word so vaagweg met n krom voorvinger beduie.) Hy wonder nog of “so om” of “anderkant om” nou die beste roete sal wees. Net soos ons uit Despatch in Uitenhage se rigting ry wonder ek nogal hoekom hy die roete wat ek vir myself as “so om” identifiseer sou wou ry want daar staan tannies wat oranje vlaggies waai.

Ek bestuur byna nooit in groterige dorpe en stede nie – nie omdat ek nie kan nie maar omdat ek nie hoef nie. Ek is dus Saterdagoggend n passenger princess. Wanneer ek nie bestuur nie steur ek my glad nie aan roetes, paaie en afdraai paaie nie want dis nie my besigheid om dit op te let nie. Ek weet waarheen ek wil gaan,dis die bestuurder se probleem om my betyds en veilig daar te besorg.

Ons ry toe uit Despatch uit met n roete verby Dora Nginza hospitaal en Algo Park en swenk toe regs.

Ek is nogal heel verbaas in die feit dat daar nie n verkeerslig van n dag oud werk nie maar almal heel bedagsaam ry en die verkeer vloei… karre, busse, taxi’s en trokke maar dit gaan goed.

Regs gedraai en ons kry spoed. Ons gaan verby die bordjie wat sê “Livingstone Hospital” en verby die woonstelle aan linkerkant bo op die bult en woerts verby die afrit waar ek verwag ek ons links sou opdraai maar ek sit tjoepstil. Toe ek vir Baywest begin sien vra ek vir wederhelfte “Watter afdraai gaan jy dan vat?”.

Julle, ek dog nie man briek dood in die middel van die pad en hy kyk my aan asof ek my hare groen gekleur het… hoofletter bold vraagtekens tussen sy oë! “Hoe bedoel jy?”

Ek bedoel…. die klient wag by die Boardwalk se nuwe mall se ingang en jy is fluks op pad na enige ingang van Baywest mall!

Al wat hy uitkry is “Nou vir wat te de hel sê jy niks?” Oeps…

Op presies dieselfde oomblik besef ons dat ons hier met n misverstand van epiese proporsies te doen het… want elke merker wat noem van die Boardwalk bestaan iewers tussen die mure van Baywest ook!!!

Nadat ek nederig om verskoning gevra het vir enige andeel wat ek moontlik kon hê in die verwarring begin ek lag en vra vir hom of hy hom kan indink dat hierdie moes gebeur het as ons net 6 maande of n jaar getroud was? Dit kon n 3 dae lange oorlog ontketen het!

Skietfontein 2024

Een van die groot hoogtepunte by die karate is die jaarlikse oefensessie by oom Jannie en die tannie by Skietfontein buite Somerset Oos.

Lekkerder kan mens nie kuier nie. Ons vertel vir almal ons gaan karate toe maar eintlik gaan ons onsself blink eet aan oom Jannie se skaap-op-die-spit en mekaar gaan blou skiet met die paintball guns en iewers in die proses breek daar gewoonlik 2 oefensessies in die rivierloop uit.

Vir 13 jaar het ek as fotograaf/toeskouer/waterdraer saamgegaan. Hierdie jaar het ek n wit pakkie en tekkies aangetrek en deelgeneem. Mense!!! Ek was die laaste week op my senuwees oor die affêre want ek ken van die stap in die droeë rivier se dik sand tot by die oefenpunt en ek weet die son kan jou piets maar die keer kon ek nie laat lê en eers my boek lees of my op n klip gemaklik maak nie. Ek dra nooit maar nooit n pet/keps nie maar ek moes.

Kyk, my twee bene, Terrible en Horrible het n wil van hulle eie gehad. Ek het heerlike nuutskeppings van jare-oue katas gemaak. Ek hoop dat indien dit ooit in die amptelike silabus opgeneem word ek krediet sal kry. Saterdag se 3 ure het verby gevlieg en toe ek weer sien stap ons terug. Ek het verwag alles gaan oppak en ek gaan hinkepink teruggaan en in n fetus posisie opkrul vir die res van die aand. Soos altyd het ons ons totaal en al oorgegee aan die heerlike aandete wat die span gemaak het, tot n gebakte poeding. Magies vol, ogies toe.

Sondag oggend is ons in klein groepies opgedeel volgens belt kleur en het n instrukteur gekry. Met die ewige optimisme van die jeug en n sak vol geduld het ons sensei ons stap vir stap deur ons grading kata geneem en elke beweging oor en oor demonstreer tot ons dit regkry. As afsluiting het ons n kata heeltemal bo ons vuurmaakplek saam met die seniors gedoen… my bene het gekramp, my voete het gekramp, ek dink selfs my brein het gekramp! Maar dit was pret. Ons het gelag, ons het geleer en ons het alles om ons waardeer.

Streef na volmaakte karakter.

Wees getrou.

Volhard.

Respekteer ander.

Weerhou van geweldadige gedrag.

Ek het altyd gekyk, die jaar deelgeneem… wie weet, volgende jaar vat ek dalk aan n paintball gun! 🤣🤣 onthou net, ek skiet soos ek skop!

Oefening

Oefening is goed vir liggaam, siel en gemoed. Ek het n gewigtige cv met verskillende goed wat ek al probeer het…

Stap
Callenetics
Fietsry – ek het baie hard geval
Tae bo – die dvd is nog iewers
Zumba
Bootcamp
Die oefenkamer vol gewiggies en n oefenfiets
Karate

Vir iemand wat as kind probeer het om deur soveel as moontlik biblioteek boeke te gaan en n verskoning vir elke LO klas en atletiek oefening gehad het is die lys van goed nogal prysenswaardig.

Ek het al die bogenoemde al gedoen, ek sê geensins dat ek dit goed gedoen het nie, verstaan?

In ons huis kan oefen ook lei tot lag. Nou een oggend is ons te laat op en besluit om na werk gou te oefen. Net toe ons op ons beste en ek in my mees elegante “plank” posisie staan kom Tiaan van die werk af en kom kyk wat ons doen. Hy bekyk ons so en begin lag. Ek vra “wat nou?” Julle lyk soos 2 seekoeitjies wat in die water dryf… ongeskikte kind.

Na dese kan ek ook draf by die lysie voeg. Ons kerk hou op 15 Maart n 5 km “fun run”. Die beste hiervan, behalwe die eetgoed na die tyd, is dat dit n aflosresies is. Elkeen in die span hoef net 1 km af te lê. Dit klink soos baie pret.

Ek wou nog altyd draf soos party van die mense wat soggens by die huis verby draf wanneer ons koffie drink in die tuin. Hulle draf en draf en dit lyk of hulle nie moeg raak nie.

Ek sê vir Jaco ek het n artikel gesien wat mens riglyne gee oor hoe om so te oefen dan mens binne 5 weke reg kan wees om 5 km te hardloop. Hy kyk my met sy “ag shame” uitdrukking aan en sê dit is bedoel vir mense wat iewers op een of ander stadium van hulle lewe al n mate van fiksheid beleef het.

So draf ek toe, en verbasend word ek glad nie so moeg soos ek gedink het ek sal nie. Dis baie lekker. Die son op my gesig en die briesie oor my lyf, die geluid van die wind deur die blare van die bome langs die Marlow pad – ek draf… en draf… heerlik!

Skielik tik iemand aanhoudend teen my bobeen en ek skrik met n ruk wakker. Die “briesie” is toe al die tyd die waaier voor die bed. Ek hoop nie ek het die arme man in my slaapdeurdrenkte drafsessie raak geskop nie.

Dricus did it!!!

Mens bly mos nou nie onder n klip nie en die laaste week of wat is dit net Dricus dit en Dricus dat, soveel so dat ek op Google klim en gaan navors. My inligting wys dat die man die eerste Suid Afrikaner is wat die tipe titel buite n kroeg sal wen en….. dat hy in my beskeie opinie vrek mooi is!

Die groot Geveg begin glo 5 uur vanoggend. Ons is 5 uur wakker maar dis maar ons gewone opstaantyd.

Ek sê vir Jaco ek het gisteraand al die hoogtepunt van die storie gesien. Hy frons en vra waar? Op facebook… daar was n video clip waar Dricus baie entoesiasties ingedraf kom, sy sweetpakbroek afpluk en op die skaal wip. Hy was tevrede met die syfers en ek was beindruk met die lyf!

So is daar toe eers 4 ander gevegte, waaronder n geveg tussen twee dames.

Ek weet nie of hulle met daardie angry eyebrows gebore word en of dit Maybelline is nie maar dis nogal intimiderend! Die mouth guard laat hulle ekstra intens lyk. Die een vrou het 6 maande gelede n baba gehad. Haar maagspiere moet van bungee cords gemaak wees, dit strykplank plat met n sixpack wat nie uit n wit en rooi Tops sakkie kom nie. Die 2 is nogal indrukwekkend, ek wil nie aan die verkeerde kant van een van hulle humeure beland nie.

In ag genome dat my enigste ervaring met hierdie tipe goed die volgende is:

  1. my eie kinders en man se karate kompetisies
  2. die 1980’s se boks gevegte wat op tv was…. (daardie waar die tannie in die voorste ry, gewoonlik met n bevange woeste perm wat op en af wip, met haar plakkie op die krytvloer slaan en skree “moerrrr hom!!!” )

was ek baie swak voorbereid vir wat sou kom. Net soos met enige geveg en geswoeg in die lewe het die beste raad van die omstanders gekom. Die arme vrou is verlep soos n lap maar tussen rondtes gooi haar een coach gevaarlike f-bombs rond. Kyk, ek sou hom met my laaste bietjie energie op sy toeter-bekkie geslaan het. Ok, maar sy betaal hom seker vir sy opinie.

Uiteindelik, nadat almal voor die tv’s sit en wag het asof ons op Shosholoza meyl se skedule werk, breek die oomblik aan.

Rondte 1 en 2 lyk redelik gelykop vir n leek soos ek. Tussen rondtes gaan hulle gou hoekie toe waar hulle karate water sluk, die bloed afgegee word en hulle van goed bedoelde raad bedien word. Wanneer Dricus se span met hom praat is daar een of ander klikbekkie wat alles na engels toe vertaal.

Net voor rondte 3 begin sê daai coach “luister nou mooi”… toe weet ek die tempo gaan verander want ons weet as n Suid Afrikaner dit sê moes jy netnou al geluister het!

n Volle 5 rondtes! Ek het later geskree “wurg hom net man”. My man reken dit is bietjie erg, hy het my gekyk en sy kop geskud. Ek het later rond gekyk vir my plakkies!

Geen KO (sadly) en geen submission. Ons moes maar op die scorecards vertrou. Mens se senuwees…. Victory!!!!! En eintlik wou ek net seker maak dat die man se mooi gesig nie geskend word nie.

Black Friday is dood…

Die hoofstraat is party dae n vreemde plek. Dit raak met tyd net vreemder.

Dag en nag staan die vragmotors dubbelrye geparkeer. So paar jaar gelede begin n meisie dwaal in die straat – jonk en mooi. Ek skat haar niks ouer as 25 nie. Niemand weet regtig verseker waar sy vandaan gekom het nie.

Sy raak n bekende gesig en haar bewegings bekommer n mens. Menige kere sien iemand haar te voet op pad terug dorp toe, koeldrankbotteltjie in die hand. Partykeer van Visrivier se kant af en ander keer op die PE pad.

Een aand sit ons op n restaurant stoep toe sy teen skemer die bult af stap terug dorp toe. Ek sê so half onnadenkend die storie kan net een uiteinde hê – sy gaan langs die pad weggegooi word.

Ek dink daaraan om haar te nader om te gesels maar wat praat ek nou wat nie judgerig en inmengerig of prekerig klink nie? Wat se raad kan ek gee?

Het swaarkry haar genoop om op straat te werk en die dwelmgebruik was die susmiddel vir haar gemoed? Of was haar werk n manier om die dwelmduiwel te voed?

Die uitdrukking op haar gesig is aan die begin bietjie verskrik, toe half verslae en later net leeg. Sy raak slonserig en verwaarloos. Ek hoor van kindertjies wat gebore is.

Daar was n boyfriend in die prentjie wat op n tyd iewers naby gewag het en dan het sy die “lone” oorhandig. Hy is glo vermoor, die kindertjies vir ander mense gegee om groot te maak. Binne haar beperkte vermoë het sy altyd gesorg om vir hulle ietsie soos n joghurt te koop.

Ons besef op n dag dat ons haar lanklaas gesien het en vrees die ergste. Toe vertel iemand dat hulle haar op n buurdorp gesien het.

Iewers met verloop van tyd het iemand haar die bynaam “Black Friday” gegee.

Verlede week hoor ek dat sy na bewering n ruk gelede iewers buite die dorp opgetel is – vermoor en weggegooi…. ek het toe nooit die moed bymekaar gemaak om met haar te gesels nie. Ek weet ook nie wat haar regte naam was nie. Waar sy vandaan gekom het nie.

Black Friday is dood en dit is goor dat haar dood voorspel kon word en niemand dit kon verhoed nie.

…. en ek het nie met jaar gepraat nie, uit vrees vir n afjak! Of dat sy sal dink ek sien neer op haar.

Ps…. ek het na ek die stuk geskryf het verneem Black Friday is “alive and well” Wie dan teen die pad opgetel is weet ek nie. Nog n jong lewe te vroeg uitgedoof… en daar is so min wat ons daaraan kan doen.