Met n knippie sout

Sout van die aarde…. sewe sakke sout saam opeet… selfs sout in die wonde vryf. Sout het van altyd af n belangrike rol in ons lewens.Gisteraand sit ek snoesig en salig onder my bersie toe liefie se voetspore mik in die rigting van die kombuis. Ek sit vaak vaak n bestelling in vir n koppietjie tee. Koffie drink ek nou al mooi sonder suiker maar met tee moet ietsie net die bitter vir my breek.

Uit die kombuis, hier deur my vaak newels syfer n vraag “is die bruin korrels in die bakkie suiker?” Ek weet net van een bakkie bruin korrels en ek beaam dat dit suiker is. Ek kry te koud om te gaan seker maak.Die koppie verskyn hier op ooghoogte en ek steek huiwerig my hande onder die bersie uit en vat die warm koppie vas. Versigtig vir brand vat ek die eerste (gelukkig klein) teugie uit die beker…

Ons het op skool geleer van n versadigde oplossing… hierdie is die naaste wat ek aan n akkurate beskrywing kan kom. Daar is n chemiese aksie/reaksie toe my mond toegaan agter die teugie vloeistof. Die vloeistof verander oombliklik in n gel-agtige storie.Ek sit in een oogknip die beker neer, gooi die bersie op die grond, spring bo oor, snel kombuis toe en ruk die agterdeur oop…. spoeg met n boog wat-ookal in my mond is op die stoep uit, bo oor die honde se waterbak.

Ek eet vinnig n sny brood met bovril, ek is nou wawyd wakker. Ek gaan kyk na die bose brousel wat in my koppie beland het…. braaisout wat ek lank gelede in n glas potjie gegooi het. Ek maak toe sommer vir my n koppie koffie. Ek dobbel nie weer met korrels nie.

Baie lank gelede het ek eenkeer vir kuiergaste koffie gemaak. Toe my ma die eerste sluk vat het sy so gespoeg… teen daardie tyd was die gaste halfpad klaar gedrink. Sy wil toe weet of hulle koffie reg is. Nee, sê die tannie, haar koffie het snaaks geproe maar sy wou maar niks sê nie. Daar was toe growwe sout in die suikerpot. Ek het eers gisteraand besef presies HOE goed gemanierd die gaste was.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *