Behoede my

Toe ek so standerd 7 rond was het my ma hulle n kêffie (winkel sonder self service) gehad op Kirkwood, buite die dorp. Regte plaas winkeltjie wat bietjie donker was en na gis en parafien geruik het. Daar was n groot toonbank met hout rakke agter waarop suiker, meel, eiers en ander produkte was… Ook boksies met klein botteltjies medisyne wat sleg ruik.

Ek het baie daarvan gehou om in die winkel te werk… Daar was blikkies coke en los lekkers wat ons verkoop het in sulke cones wat ons uit bladsye van ou huisgenote gemaak het.

Maar terug by die stink medisyne. So elke nou en dan het iemand gevra vir behoedmiddel. Siende dat ek op daardie stadium nog net n jaar of so bra gedra het en n vae idee gehad het van die dinge van die lewe het ek gedink hulle soek of die pil of kondome. Nou wat se tipe winkel dink hulle is die? Dan bloos ek maar mooi en sê nee jammer, ons het nie!

Dat ek nou op n meer gevorderde ouderdom moes uitvind waarvoor dit gebruik word! Diarree, maagpyn en naarheid.

Leg day

Gisteroggend net toe ek wakker word en dink aan my seer lyf en die stel oefeninge wat voorlê… Poef, sit die beurtkrag mannetjie die krag af! Nou nie dat mens juig oor die soort ding nie maar ek was stilletjies dankbaar. Is mos nog effens skemer hier teen 05:15 in die oggend en die waaier staan ook doodstil.

Vanoggend is n perd van n ander kleur. Mannetjie los die liggies en die waaier aan en ons lig maar die lyfies en maak reg vir die oggend se oefeninge.

Net daar moet ons toe die knieg buig voor “leg day”. Dit lyk misleidend maklik. Sitlê met een been gebuig. Die reguit been op-en-af eers en dan heen-en-weer, toontjies spoggerig gepunt na bo.

Dan kom die ding… Jy maak eers driehoekies in die lug en dan vierkante. My bene voel later soos loodpype en my driehoekies raak vraagtekens en my vierkantjies raak groot sirkels. Die sweet loop. Dan bietjie op jou sy asof jy gaan lepellê en gooi die beentjie op en af, op en af. Ter afsluiting gou gou n plank-minuut/week van my lewe.

Lekker man… Nou vir die ander been. Dis waar dinge begin moeilik raak. My lefthanded funkinezzz laat nie my brein toe om so alles te doen nie. Liefie hier neffens my teken die mooiste driehoekies en sirkeltjies terwyl dit lyk asof ek n swerm bye met my een been probeer afweer.

Indien ek dalk vandag iewers oor jou pad kom en voor jou skuifel hanteer my asseblief soos n kar met n groot rooi L op die agterruit, met geduld, begrip en deernis.

Planking

Hier sit ek nou… Op, moeg, gedaan!

Vanoggend besluit die man van die huis dat ons vir die eerste keer in n lang tyd met die gewigte moet oefen. Jinne julle! Ek dink die stof wat opgegaar het maak die goed ekstra swaar.

Dit is reps en sets en asemhaling… My wange staan bol en my kuif hang pap.

So gaan ons deur die lysie en aan die einde moet ons “plank”. Ek dink mens kry sekondes, minute, ure, weke en dan kry jy n plank-minuut. Dit kan nie n gewone minuut van net 60 sekondes wees nie.

Ons staan op-ons-plekke-gereed en dan is daar n stadige stophorlosie wat die tyd aftel terwyl Spotify n deuntjie speel.

Ons staan potternjorts omhoog vir wat voel soos 15 minute maar die stophorlosie tel net 15 sekondes af. My bobene voel of hulle “pop” soos the Hulk s’n en ek voel effens groen ook.

Spotify speel ewe cheeky Eye of the Tiger maar ek wil meew soos n klein katjie!

Na die langste minuut in die menslike geskiedenis kan ons ontspan en net daar draai my lyf vanself in n fetus posisie!

Ek sal maar moreoggend eers die gewigte afstof en kyk of dit help.

As die skoen pas

Gisteroggend is ons by die mall. Nie my gunsteling mall nie, die ander groot verwarrende een. Wanneer ek instap voel dit asof ek binne in n byekorf beland het.

Ons stap nog aan na deur toe toe is dit hordes mense, karre, toeters, musiek van iewers af doef-doef-doef. My siel begin liggies vibreer.

Ons stap in en dis net mense oral… stroewe gesigte, lippe getuit, leepoog. Dis nie kersfees of maandeinde nie, dis die derde week van die maand, mens draai selfs die snytjie brood twee maal om voor jy hom liggies smeer. Maar hier is almal nou.

Ons soek vir jongste n paar skoene. Baie spesifieke skoene, size 11 of 12. Stap by die sportwinkel in, no luck. Vra vir n verkoopsdame waar ons nog kan kyk. Ek moet net eers wag tot sy klaar gegaaaaap het. Ons moet by die deur uit en dan draai – die lippe sê links en die vinger wys regs. Dan sal ons n kleiner tak van dieselfde sportwinkel kry. Reg oorkant ons grootste koswinkel in geel en rooi getooi.

Ons stap uit en draai toe regs en stap 3 km in die doolhof. My fitbit vibreer en klap hande met n boodskap wat flits “great workout”… 2 maal!!! Ek sweet bietjie.

Net toe ons wil moed opgee kry ons die 2de kleiner tak van die sportwinkel. Met die instap vang my oog die ingang van n ander klerewinkel en my kakebeen slaan die teëlvloer. Dis die winkel skuins oorkant sportwinkel 1. As ons net links in plaas van regs gedraai het sou ons net 200m geloop het. By die winkel ook no joy. Nommer 11 of 12 skoene is skaars. Ek vra of die dame vir my kan bel en uitvind by die winkel se tak in die 2 ander malls. Sy kyk vir my asof ek n onwelvoeglike voorstel gemaak het en ons loop maar.

Later beland ons toe wel by my gunsteling mall, die een met die breë gange. Die mense hier stap stadiger en glimlag selfs nou en dan. Hier kry ons ook geen skoene nie maar die verkoopsdame bied aan om vir ons te soek. Kom terug, jammer geen skoene in die grootte in die hele Ooskaap nie.

Ons moet maar online probeer.
Sy kyk wel vir jongste op en af met n glinster in die oog…

Vreemde tye

Ek word elke oggend gedurende die lockdown wakker in stilte. Aangesien ons werk affekteer alles my op n kleiner skaal. Wanneer ek werk toe ry is daar selde meer as een of twee ander voertuie op die pad dorp toe. Die stilte is vreemd. Geen taxis en mense te voet op pad werk toe nie. Geen bekendes wat ek kan groet en voor waai nie.

Dit is asof die ritmes verander het en alles stadiger en genadiger is. Met die herfs wat in aanloop is voel alles ook sagter. Die weer begin verander en die lug se blou en son se skyn is ook sagter. Mens hoor die duiwe se gekoer.

Ryk, arm, oud en jonk… Almal se lewens is anders in die onseker tyd. Dis asof die “pause” knoppie n bietjie gedruk is op ons lewenswandel.

Ek kry moed vir die mensdom as ek sien en hoor hoe daar uitgereik word na die wat arm, oud en swak is. Daar is nog omgee, ons het nou net meer tyd om dit te wys.

Onwillekeurig wonder ek wat gaan gebeur wanneer die “play” knoppie gedruk word en die wêreld weer in beweging kom. Gaan ons die stadiger genadiger ritme onthou? Gaan ons diegene na wie ons nou verlang gaan besoek? Gaan ons die koffie date nakom saam met die vriendin by wie ons net nie altyd uitkom nie? Gaan ons nog huiswerk doen saam met ons kinders, onder die boom sit en koffie drink saam met ons mans? Of….

Gaan ons terugspring op die hamster wieletjie en begin trap, trap, trap… Al hoe vinniger om op te maak en in te haal waar ons agter geraak het in die stadiger tyd.

Doktersbesoek

Na n rukkie se oordink en oorweeg is ek vanoggend dokter toe. Ek hou nie van dokter toe gaan nie. Hulle weeg mens partykeer en hulle neem jou bloeddruk, en deesdae sommer jou koors ook. Die lesings en metings kan maak dat hulle so half afkeurend na jou kyk… En dis sommer nog net die nurse. Dan draf sy soos n regte ou pliggie vooruit en gaan klik die inligting by die dokter. Wanneer jy by die dokter se deur instap kom sy uitgestap en gee jou so regte wêla kapêla kyk!

Die dokter groet, smile, vra hoe dit gaan (terwyl jy betaal sodat hy dit vir jou kan sê) en sê “soooo, die bloeddruk…” en dan loer hy vir jou. Oeps dok, vanoggend die ou pienk pilletjie vergeet. Dan kom ons by die rede vir my onwillige besoek. Die seer op my enkel, wat ek al gedokter het met alkes behalwe beesmis en die bure se kat se eerste oggendpieps. Kortisoon salfie, antiseptiese salfie, “sensitive female” salfie en n sink en kasterolie salfie. Net wanneer ek dink ek wen die geveg raak die ding van voor af buite beheer en verloor ek die oorlog. Lyk soos n kruis tussen vrotpootjie en bek-en-klou.

Wanneer jy op die dun bedjie gaan sit en jou eina vir die dokter wys, hy terugtree, oor sy kop vryf en lyk asof hy nou enige oomblik soos n mekêniek deur sy tande gaan fluit en vir jou vertel iets is @%& toe… Het jy waarskynlik n week te laat n afspraak gemaak.

Is nie ernstig nie, net n ekseem wat kort kort opvlam en juk vir die vale wat maak dat ek krap soos n straatbrak. Bose kringloop.

Dokter vra baie casually hoeveel ek weeg en ek gee hom n ballpark figure. Ek wil hom nou nie verwar met komma-die-of-daai nie. Ek is baie versigtig om my oë reguit vorentoe te laat kyk. As jou oë soos n stukkende slaappop s’n begin rol dink mense glo jy jok.

Ek kry n voorskrif vir pilletjies, sulke klein wittes. Ek moet vir 5 dae lank elke oggend 20 van hulle drink… Op een slag (seker my straf oor ek die 1 pienketjie vergeet het), dan vir nog 5 dae 15 en so raak dit minder. Mense, ek sal elke oggend n halfuur vroeër moet opstaan vir die pil drinkery!

Dan ook nog n seep op die voorskrif. Kry die seep by die apteek… R35!!!! Vir n koekie seep. Ek ruik daaraan. Dit ruik soos die uitveërs waarop daar “KPA” gedruk was wat ons elke jaar in die skool gekry het saam met die liniaal, hb potlood en skoolboeke. Hy ruik na NIKS!!!

Ek het die eina nou gewas met die sepie, die salfie aangesmeer en nou moet ek n wekker stel sodat ek moreoggend 20 pilletjies kan sluk. Wish me luck.

Die kooperasie

Gisteroggend beland ek midde in die diepste binnekring van die manlike spesie. Plek waar vroumense liggies trap en saggies praat… Wanneer hulle moet en dan ook net vra, woord vir woord, wat die man van die huis hulle gestuur het om te gaan vra. Nie n plek wat n vrou aandurf en tussen rakke dwaal en rondkyk nie, tensy jy n boertannie is wat met jou eie 4 x 4 dorp toe ry en per geleentheid die waentjie sleep. Maar nie plek vir ons dorpmeisies om net binne te vaar nie.

Ek praat van DIE KOOPERASIE. Die stadsmeisies kan maar net vir my kalmeer, die naaste wat julle aan so plek kom is Outdoor warehouse. Dit is soos die Woollies van n kooperasie. So, julle sal nie verstaan nie.

Die nefies van die kooperasie is die hardeware winkel en enige plek wat motor onderdele verkoop… Effens meer gangbaar maar steeds vreemd.

Ewenwel, toe manlief voor die plek stop wip ek ook uit die kar uit. Niemand los vir Durby in die kar nie!  My oupa se bynaam vir my was ou Gat-saam… Maak nie saak waarheen nie, ek gaan saam.

Die binnekant is effens koel en by die ingang staan die cuteste miniatuur jojo tenk op display. Binnekant is dit net rakke en rakke met vreemde items en pompe, messe, kos rakke en daar is reuke wat ek nie kan uitmaak nie.

En daar is ook mans! Allerhande ouderdomme en sizes en elkeen weet PRESIES wat hy soek. Geen van die vaaloog verwarde tipes shopping wat hulle in klerewinkels en die mall se Dischem doen nie. Selfversekerd en op die punt. Maak nie saak waarvoor hulle vra nie, die verkoopsman knik kop en lui op. Mans hemel!!! Die plek het blykbaar alles van kar batterye tot skeermeslemmetjies.

Wat my opval van die mans is die groet… Dis byna nooit net hallo en hoe gaan dit nie. Dit is die gewone bladskud, die elmboog vashou en bladskud of die klop op die skouer. Indien die handskud hand iets dra sal die ander hand sommer gegee word, saam met n verskoning vir die besige hand. As daar n keps of hoed betrokke is word die afgehaal en teen die been gehou en dan teruggesit.

Hierdie groet ritueel word ook van jonk af van geslag tot geslag oorgedra. “Kom, skud die oom se hand” van kort nadat Boetie nie meer sy bottie saamdra nie.

Stop & Go

Gistermiddag na n groot gedeelte van die dag op die pad, met n klompie nodige stoppe “arrive” ons amper by destination… Nog net een stop – Fountains mall. Tiaan soek oorfone en ons moet gou melk koop.

Pa bel, ma voel nie lekker nie, ons moet gou by Clicks of Dischem in. Terwyl die manne besluit om by die kiosk te stop vir biltong stap ek solank Clicks toe.

Ek stap agter na die apteek gedeelte toe en vra vir die tienermeisie aangetrek in haar pa se doktersjas (mense, die geleerde mensies raak al jonger), vir die medikasie wat ons altyd vir n maagstormpie gebruik… Nee, sy ken nie die pille nie. Sy kyk op die rekenaar en sien dit waarvan ek praat bestaan wraggies.

Sy vat my daar na n rak toe met pille en doepas… Ek bekyk die spulletjie so en begin giggel. Arme sussie met haar pa se jas het net n blank uitdrukking op haar gesig.

Wat ek toe sien is dat die rak met die movicol en die rak met die immodium reg langs mekaar is. Met n rak met al die energie bruis goeters soos vitathion net neffens daar. Padwerke in isle 7… Die “stop” en “go” pille reg langs mekaar. Met energie doepas, net ingeval jy uit stoom hardloop, gerieflik byderhand.

Piet se losies

Ek is die friendly neighbourhood undertaker (eintlik een van n paar) op ons medium grootte dorpie. Vir 13 jaar al….

Ek is tans met verlof. Ek staan vrolik en oats pap kook en musiek luister vanoggend. Verlof ten spyt was daar al n werkverwante oproep vir die oggend, maar dis nie vreemd nie.

So lui die foon weer en truecaller identifiseer die beller as Mev. A – wie se naam ek nie erken nie. Hieronder volg ons gesprek

Ek: Hallo-met-n-vraagteken in my stem…

Mev. A: Hallo? Hallo, Bettie. Is dit nog reg as ons vanoggend so 10 uur vir Piet bring?

Net daar slaan ek n lugleegte! Wie is Piet? Waarvandaan word hy gebring? Hoekom bring hulle hom? O hel, wat het ek vergeet??? Is daar n besigtiging vir iemand buite die dorp?

Ek: Eskuus tannie? (ek is n platteland kind, ons tannie as die stem soos tannie klink).

Mev. A: Ons wil vir Piet bring. Is dit nog reg?

Ek: Is tannie van Cradock? Ek is van Cradock Begrafnisdiens…

Ek hoor hoe hap die tannie skoon lug…

Mev. A: ja, ek is plaaslik. Die is die nommer wat iemand my gegee het vir die kennels. Ek wil Piet aflaai voor ons vandag ry met vakansie…

Ek: Sjoe tannie, ek dink nie Piet sal lekker by my loseer nie!

Teen die tyd lag ek al kliphard… Ek dink in prentjies en sien alllerhande opsies vir die arme Piet se losies!!!

Mev. A: O gaats, nee. Ek dink ook nie so nie. Ok dankie dan, sien jou… Hopelik nie gou nie!

Ek hoop Piet word mooi versorg by die kennels!

Unmentionables…

So elke dan en wan moet n vrou die netelige takie aanpak. Niks lekker nie, maar doen moet dit gedoen word. Die aankoop van die ondergoedjies.

So pak Liewe Lulu toe maar die Saterdagoggend die mall aan. Onthou nou, Lulu se jaarmetertjie het n paar jaar terug by 40 verby geloop. Soos mans se stemme dieper word met die tyd word dames se heupe soms wyer soos die jare aanstap. Baie soos n boom se jaarringe.

Lulu is dan ook by die stadium van die “thin strings barely attached to anything” verby. Die ondergoedjies is nou al soos haar versekering… Omvattend.

Tweede winkel… Jackpot. Regte grootte, regte tipe, nie te pynlik nie, maar steeds duur. Lulu kies en betaal. Alles verloop goed tot daar waar sy deur die sekuriteits-megêfter loop en die ding begin skree soos n honger baba.

Die wag by die deur se nek skiet kiertsregop en hy sien al hoe hy vanaand vir sy pêlle vertel van die aksie wat hy geslaan het. Maar, sy opleiding het geleer hy moet eers investigate. Hy voel voel versigtig aan die sak en bekyk die betaal strokie. Sy skouers sak effens toe hy in sy geestesoog sien hoe die belofte van aksie soos mis verdwyn. Hy wuif vir Lulu met n koninklike wuif deur die masjien. Net sodat die gedoente weer begin gil.

Hierdie keer is daar geen sagte gevoel-voel nie. Die inhoud van die sak word op n klein tafeltjie uitgedop, die 5-pack-not-so-small omvattende ondergoedjies word uitgehaal en net daar in die oop deur, ten aanskoue van die moeg-moedelose ooms in plakkies en kortbroeke wat sit en wag vir mammas wat Desember aankope doen, oopgemaak en volgrootte uitgeskud. Die ooms rol hulle oë dakwaarts en kug.

Konstabel Abel dop elke onderdingetjie binnekant buitetoe. Lulu sweet, hyg en bloos. By nommer 4 kry hy waarna hy soek…. Klein silwer stukkie pakker wat as ekstra teenvoeter vir grypdiewe in die klere weggesteek word. Die kassier het die groot grys metaalverklikker thingie uit die pakkie verwyder maar in die Desember dolheid vergeet van die ekstra plakkers.

Die 5-pak word sonder seremonie in die inkopiesak teruggesit, skouers opgetrek met so n “I am only doing my job” uitdrukking op die gesig. Hy lyk effens suur oor die aksie wat nie gebeur het nie.

Lulu hoop net die materiaal is kwaliteit sodat die aksie nie gou herhaal hoef te word nie…. Sy stap kop omhoog by die ooms in die plakkies verby, want Liewe Lulu is nie bang nie, sy weet hulle vrouens moet tog dieselfde inkopies gaan doen.