Na n rukkie se oordink en oorweeg is ek vanoggend dokter toe. Ek hou nie van dokter toe gaan nie. Hulle weeg mens partykeer en hulle neem jou bloeddruk, en deesdae sommer jou koors ook. Die lesings en metings kan maak dat hulle so half afkeurend na jou kyk… En dis sommer nog net die nurse. Dan draf sy soos n regte ou pliggie vooruit en gaan klik die inligting by die dokter. Wanneer jy by die dokter se deur instap kom sy uitgestap en gee jou so regte wêla kapêla kyk!
Die dokter groet, smile, vra hoe dit gaan (terwyl jy betaal sodat hy dit vir jou kan sê) en sê “soooo, die bloeddruk…” en dan loer hy vir jou. Oeps dok, vanoggend die ou pienk pilletjie vergeet. Dan kom ons by die rede vir my onwillige besoek. Die seer op my enkel, wat ek al gedokter het met alkes behalwe beesmis en die bure se kat se eerste oggendpieps. Kortisoon salfie, antiseptiese salfie, “sensitive female” salfie en n sink en kasterolie salfie. Net wanneer ek dink ek wen die geveg raak die ding van voor af buite beheer en verloor ek die oorlog. Lyk soos n kruis tussen vrotpootjie en bek-en-klou.
Wanneer jy op die dun bedjie gaan sit en jou eina vir die dokter wys, hy terugtree, oor sy kop vryf en lyk asof hy nou enige oomblik soos n mekêniek deur sy tande gaan fluit en vir jou vertel iets is @%& toe… Het jy waarskynlik n week te laat n afspraak gemaak.
Is nie ernstig nie, net n ekseem wat kort kort opvlam en juk vir die vale wat maak dat ek krap soos n straatbrak. Bose kringloop.
Dokter vra baie casually hoeveel ek weeg en ek gee hom n ballpark figure. Ek wil hom nou nie verwar met komma-die-of-daai nie. Ek is baie versigtig om my oë reguit vorentoe te laat kyk. As jou oë soos n stukkende slaappop s’n begin rol dink mense glo jy jok.
Ek kry n voorskrif vir pilletjies, sulke klein wittes. Ek moet vir 5 dae lank elke oggend 20 van hulle drink… Op een slag (seker my straf oor ek die 1 pienketjie vergeet het), dan vir nog 5 dae 15 en so raak dit minder. Mense, ek sal elke oggend n halfuur vroeër moet opstaan vir die pil drinkery!
Dan ook nog n seep op die voorskrif. Kry die seep by die apteek… R35!!!! Vir n koekie seep. Ek ruik daaraan. Dit ruik soos die uitveërs waarop daar “KPA” gedruk was wat ons elke jaar in die skool gekry het saam met die liniaal, hb potlood en skoolboeke. Hy ruik na NIKS!!!
Ek het die eina nou gewas met die sepie, die salfie aangesmeer en nou moet ek n wekker stel sodat ek moreoggend 20 pilletjies kan sluk. Wish me luck.