Gistermiddag na n groot gedeelte van die dag op die pad, met n klompie nodige stoppe “arrive” ons amper by destination… Nog net een stop – Fountains mall. Tiaan soek oorfone en ons moet gou melk koop.
Pa bel, ma voel nie lekker nie, ons moet gou by Clicks of Dischem in. Terwyl die manne besluit om by die kiosk te stop vir biltong stap ek solank Clicks toe.
Ek stap agter na die apteek gedeelte toe en vra vir die tienermeisie aangetrek in haar pa se doktersjas (mense, die geleerde mensies raak al jonger), vir die medikasie wat ons altyd vir n maagstormpie gebruik… Nee, sy ken nie die pille nie. Sy kyk op die rekenaar en sien dit waarvan ek praat bestaan wraggies.
Sy vat my daar na n rak toe met pille en doepas… Ek bekyk die spulletjie so en begin giggel. Arme sussie met haar pa se jas het net n blank uitdrukking op haar gesig.
Wat ek toe sien is dat die rak met die movicol en die rak met die immodium reg langs mekaar is. Met n rak met al die energie bruis goeters soos vitathion net neffens daar. Padwerke in isle 7… Die “stop” en “go” pille reg langs mekaar. Met energie doepas, net ingeval jy uit stoom hardloop, gerieflik byderhand.