Siekbed klaagliedere

Ek en Tiaan is man & woman down, teen die planke by die huis… griep. Ons het al twee oor die naweek begin goor voel en teen sondagaand toe rev die storie ons in die rooi.

Weet nie wie het by wie aangesteek nie. Ek is so opgejack op aanvullings dat ek verlede winter nie eers die snuffels gekry het nie.

Ons blaf n duet wat weergalm teen die gang mure. Die arme honde kry nie n innings met blaf nie. Hulle gaan slaap maar in die sonnetjie. Ons koppe klop, bors brand… goor.

Dit lyk soos griep, voel soos griep. Maar sê nou net… ek en hy werk heup aan heup met ander mense en ons wil nie onwetend iemand anders aansteek nie. Ons laat toets ons toe, net vir veiligheid. Ek kan een ding sê van ons span in die dorp. Hulle is professioneel en behulpsaam.

As ek terugkyk kon ek maar die toetse gelos het. Vir 2 siek mense is ons besonder vreetsaam.

Jaco het ons gisteroggend versorg – pap, koffie en medikasie vir ons tot by ons beddens gebring. Maar daarna is alles afdraend.

Ek weet nie hoeveel keer ons by mekaar verby is op pad kombuis toe nie. Brood en kaas met tee (9 uur), van sondag se wildspot en tee (10:30), nog tee, broodjie voor middag pille (12 uur), tee, boerewors en n broodjie (2 uur), nog tee, toe uiteindelik aandete en nog tee. Aand pille en voor slaaptyd nog tee.

Vanoggend 4 uur toe my keel brand… nog tee! Ten minste kry ons genoeg vloeostof in. Ek voel soos n teepot en my blaas soos n gieter!

Vanoggend teen 5 uur (ek het toe lekker geslaap na my 4 uur tee) kom ons uitslae negatief terug. Baie dankbaar vir die uitslag maar ek moet sê die gewag smokkel met n mens se kop. Wat as… wat as… die getob en gewonder is nogal erg.

Ek sit en muf nog soos ou brood hier op die bank, sal more werk aandurf, gemasker en geserp.

Pasop… Vir die hond!

Ons het 3 honde…. n jack russel en dan n bad ass pitbul en n semi-pitbul. Ons het gedink sy is n pitbul maar nou het sy jakkals trekke en snaakse maniertjies.

So n week of wat gelede sê Jaco ons moet n “pasop vir die hond” bordjie koop om op die hek op te sit.

Gisteraand is hier n ligte donderstorm. Die pitbul lê in die gang, doodbang vir die geraas, die jack russel lê verveeld rond en kou haar toonnaels.

Die krag gaan af, huis is donker. Later besluit ons om maar te gaan slaap. Minky, die jack russel mik kamer toe, sy slaap by haar pa se voete. Die ander twee trippel trippel rond en kom nie tot rus nie. Die bad ass honde… Is bang vir die donker!!! Jaco prakseer n plan met n lessenaar liggie en die selfone se battery bank.

So ja…. Pasop maar vir die honde!

Happy camping…

Bootcamp done…. Op n vakansiedag nogal! Ek voel sommer jeugdig.

Dis nou ons 2de week by bootcamp en n mens leer vinnig. Wanneer ons daar aankom en die gewigies en goed word uitgepak in n circuit… Dan is ons oraait.

Wanneer ons daar aanland en die vloer is suspiciously leeg en die instrukteur smile net terwyl hy sy hande saamvryf… Dan weet ons ons is in vir n ander soort suffering. Dis star jumps, push ups, sit ups, crunches en allerhande dinge. Dit is ook nooit 2 sessies dieselfde goed nie. Mens kry nie kans om verskonings uit te dink nie, dis net go-go-go!!!

Terwyl ons aan die gang is suffer ons regtig. Maar wanneer jy daar uitstap het jy n lam en tam happy lyf en n ligte gemoed.

Ek het gisteraand tou gespring. Soos in daai aksie wat die ander kinders pouses gedoen het in die laerskool. Ek het gewoonlik in die biblioteek of op n stoep met my boek gesit. My brein en my bene is soos n ou getroude couple wat stry gekry het, hulle praat nie lekker met mekaar nie. Na 2 keer se bene knoop en amper omval het ek die ritme gevind, soort van.

Nou ja, my lyf weet nog nie dat moreaand zumba strong is nie en my brein hou sulke goed as n surprise. Ons sal more sien hoe ek die trappe bestyg. Dalk kan ek n nuwe trend begin en sommer onder op die sypaadjie voor die gym zumba! Ek hou vol… Die gym kort n blink paal, brandweer of stripper, maak nie saak nie.

Bootcamp

Die ding van monkey-see-monkey-do kan mens regtig in n ding laat beland. Pappa moet regmaak vir n karate grading iewers in die volgende paar maande. Lockdown tyd was regtig nie goed vir my gemoed of ons oefen roetine nie. Die wieletjies het bietjie afgekom en ons is nie fisiek waar ons graag sou wou wees nie. Iemand stel voor dat pappa saam met zumba dalk ook bootcamp probeer.

Ek gaan saam na die aanvanklike geselsie, just for kicks. Die dame daar het n baie funky skaal, hy meet meer as net jou gewig, dis meer soos n skinderbek kristalbal tipe ding. Tot jou waterdrink gewoontes en spiermassa word gemeet en dat bepaal die skaal jou liggaam se ouderdom.

Soos die dinge partykeer gebeur het ek net my ogies uitgevee toe is ek ook gemeet, geweeg, te swaar bevind en die pienk skaaltjie skat my body age toe n jaar kort van die Sassa ry vir “oumens pay”. Ek het die gewig van n springbok rugbyspeler maar die lengte van n Durban July jockey plus VAT. What a cheek!!!

Nou hoe nou anders gemaak as om maar saam met pappa die stryd aan te pak. Wie wil nou 44 going on 59 wees? Nou loop die week so… zumba strong, bootcamp, bootcamp en weer n strong klas…

Vertel pappie baie casual vanaand vir my dat as ons nou mooi werk kan ons op n dinsdagaand sommer na bootcamp by nog n zumba fitness klas ook inhaak.

Vanaand was dan ons 2de bootcamp klas. Die instructor het hierdie LO dinge in die vloot aangebied. Nou kyk, van vloot weet ek niks, ek kan nie eers swem nie. Ek het vanaand n paar keer gevoel of ek sommer op droe grond verdrink. Wanneer ek voel of ek nou net nie meer een treetjie kan verder nie se Riaan net nog n bietjie verder. Ek weet nou dat ek 20 push ups kan doen, al gaan dit swaar.

Aan die einde van die klas word ons gestrek soos ou rekke en toe trek die man daar n oversize koekroller sonder handvatsels nader en werk die kinks uit ons kapoet spiere uit. Ek moet bieg dat alhoewel ek tot op die been toe moeg voel, dit n baie lekker moeg is.

Gratis geskenke

Vandag bel ons dierbare vriende van Platinum Life my man. Hulle het sy bestaande polis opgradeer en hy kwalifiseer vir n gratis geskenk. Hy kan kies uit iets vir homself of ietsie vir sy vrou.

Oulike man wat hy is vra hy watter geskenkie hulle vir sy vrou sal stuur… Oorbelle. Hy se toe vir die man dat sy vrou nie oorbelle of make up dra nie.

Onmiddelik het hy die volle simpatie van die hele Platinum Life call centre en die flinkdinker vra vir manlief of daar dan nie n ANDER spesiale dame in sy lewe is vir wie hy die oorbelle sal wil gee nie…

Duidelik het die agent besluit dat n man wat getroud is met n vrou wat nie make up of oorbelle dra nie beslis n side chick iewers moet he. n Man kan nie met so n clean canvas saamleef nie, hy verdien n bietjie kleur in sy lewe!

Liefie het maar gegaan vir die veilige opsie… n Braaistel.

Vrot pampoene en eensame skoene

Julle almal het dit al gesien… Daardie enkele tekkie, skoen of flipflop eensaam en verlate langs die pad. Ek het altyd gewonder oor die misterie hiervan. Tot ek dit beleef het.

Ek het mos nou die monster scooter met n 125cc brul 🐯🐯🐯 wat my hope pret verskaf. Die dingetjie is baie nuttig ook in my daaglikse doen en late.

So paar weke gelede gaan dit wild en wakker en ek moet haastig n pakkie gaan afgee. Met my oog op die horlosie sien ek ek het net 10 minute voor die plek waarheen ek die pakkie moet vat gaan toemaak. Ek gryp vir pakkie, n masker, helmet en sleutels. Spring op scooter en woerts om Moederkerk en waar ek moet regs afdraai oor die dubbelbaan na Shoprite se kant toe is dit soos altyd n klomp voertuie wat heen en weer.

Van Adami se kant af in my rigting sien ek een van daardie tipper trokke aankom en ek weet die minute tik verby…. n dapper stapper begin oor die zebra streep stap en breek die trok se spoed. Net daar vat ek die gaping, gooi een been uit vir balans en ek vat daai draai soos n pro. Ek is sommer skaam trots oor hoe lekker dit was…. en toe voel ek die wind tussen my kaal tone deur suis en daaar agter op die wit streep in die middel van JA Calata straat lê my pers en swart name-brand-nogal flipflop wat aan die uitskop voet was.

Terug kan ek nie draai nie. Ek besluit toe om eers vir pakkie af te gee. Met een skoen kan ek nie hink nie. Ek pluk die oorblywende flipflop af en gooi dit in die bagasieruim van scooter. Kaalvoet en kop omhoog loop ek die gebou binne, minuut of wat te spaar en lewer vir pakkie af.

Met die uitkom besluit ek om om die blok te ry en die flipflop te gaan haal. Probeer dit toe en in my geestesoog kan ek al sien hoe ek spoed verminder, vir flipflop met my tone vasknyp en aan ry… Ek kan nie daar in die middel van die pad stop nie daar is eenvoudig te veel verkeer. Mens speel nie in die verkeer nie. Met die naderkom sien ek my teiken nog net daar in die middel van die pad op die streep lê. My spoed en koordinasie werk nie soos in my gedagtes nie en ek keer kaalvoet terug kantoor toe.

Met die huistoe ry gaan kyk ek weer maar die flipflop is weg. By die huis gekom gooi ek maar die oorblywende een in die asdrom. Maandagaand na werk, dit was vullisdag, kom ek by die huis aan en daar op die sypaadjie lê n enkele eensame pers en swart flipflop.

Met n suggie tel ek dit op om weg te gooi terwyl ek saggies by myself sing… Dis n vrot pampoen en n stukkende skoen….

Agony Aunt

Jaco lees hier op fb n briefie wat n tante aan n agony aunt geskryf het oor hoe in die gesig gevat en verneder sy voel omdat haar man, wanneer hulle in die publiek rond is, vir haar mooier en jonger dames uitwys. Haar eer is diep gekrenk en haar mascara moertoe.

Nou lees ons die comments…. Massakoor van moerige mammas wat vertel pappa knyp katte op donker plekke en hy behoort gestenig te word. Hier en daar n nugterdenkende vrou wat weet dat jack russels karre jaag, al kan hulle nie bestuur nie. Die minderheidsgroep probeer die tannie paai, maar dis nie suksesvol nie.

Jaco lewer kommentaar wanneer hy n mooi meisie sien. Ek wys vir hom khaki boekies wat maak dat ek n trekker wil gryp en n land omploeg.

Ek wil net vir daardie tannie sê dat die enigste man wat nie n mooi vrou in die verbyloop bewonder en waardeer nie… Is n weduwee se man. En enige vrou wat sê sy sien nie n mooi man raak nie lieg.

Zumba… I nearly died

Donderdag aande is zumba strong. Na n bietjie innerlike wroeging en motivering van pappa se kant af is ek klas toe.

As mens zumba toe gaan gaan jy ZUMBA!!! Veral met n strong klas. Mens kan gaan fietsry of stap en as jy nie regtig gemotiveer voel jy kan jy die aand half-ass. Nie met zumba nie. Wanneer die musiek begin speel en die instrukteur begin beweeg dan is jy in of uit maar niks half-ass nie.

Ons begin en aangesien dit al die 3de strong klas is begin ek darem van die goed onthou. Die dele waar mens hande viervoet op die vloer is is nogal n uitdaging na my verskeie skermutselings met die teerpad toe ek jare gelede probeer fietsry het. Ek is wel baie trots op die feit dat ek al soortvan op n manier 8 push ups kan doen.

Ander dele is mentally challenging. My koordinasie is nie altyd my vriend nie en daar is n gedeelte waar mens wydsbeen staan, half vooroor gebuig met jou een hand uitgestrek na die grond…. Terwyl jy jou bene vorentoe skêr-spring gooi jy jou arm boontoe asof jy jou broek van jou lyf afruk. Dan is daar die om-die-beurt links en regs hardloop vir 4 treë en op die laaste so “saai die waatlemoen” move met jou arm doen.

Daar is dele waar jy denkbeeldige mense se gesigte “boks”… 4 houe en dan breek jy links en regs onsigbare stokke oor jou bene vir nog 4 tellings. Na n slegte dag is dit nogal lekker om denkbeeldige bloedneuse uit te deel. Terwyl ek so doef-doef-doef houe uitdeel voel ek hoe die mamma deegvelle onder my arms rondwapper soos bleek vredes vlaggies.

Die pas is vinnig, die musiek is hard en die mense geesdriftig! My bors klink later soos n moerige gans wat sis. Ek is nie alleen in die stryd nie. Ons maak beurte om teen die muur te gaan staan met ons koppe teen ons voorarms, soos die arme sieletjie wat aan is terwyl die ander kinders gaan wegkruip… Ek wens ek kon wegkruip. Toe ek die eerste sluk water gaan vat het en wens ek kon huis toe gaan het die horlosie gesê ons is 9 minute aan die gang…. En Maandagaand doen ons dit alles weer.

Zumba Strong

Donderdagaand het ek vertel hoe lekker die Zumba Strong klas was en al daai jazz. Gisteroggend word ek wakker en voel verbasend goed. Skouers voel effe stram en bo bene bietjie seer en hier aan die binnekante van die bobene voel dit effens gekneus, asof mens met bietjie te veel oorgawe perd gery het. Verder is ek fine. Liefie is totally fine, hy smile so bietjie uit die hoogte omdat ek effens stram is… Hy is duidelik fikser as ek. Hy staan mos soggens op en doen bietjie oefeninge.

Fast forward na gisteraand toe, die dag was bietjie rof en ek kon voel die bene is strammerig. Mense, toe dit begin donker en koel word. Skielik is trappe klim n issue en die skouers voel asof daar n kontinent op rus. Ek sit en teug warm tee onder n duvet, draai in die fetus posisie op die bank en vat n nap.

Vanoggend is alles stokstyf. Skouers, rug, boude, bene. Om te kan gaan koffie maak moet mens glo n broek dra… Ek kies opsie 1…. Gooi die broek op die grond voor die bed, gaan sit op die bed met my voete in die broekspype, wikkel met my tone die broek tot op die enkels… Wiggle, wiggle, wiggle die broek met moeite tot net bokant die kniee, gryp die broek vas, staan so vinnig moontlik op en pluk die broek na bo. In die proses gee jy jouself partykeer per ongeluk n wedgie, maar dit werk! Dan sluip jy soos n kruppel kat met n geknakte stert in die gang af en gaan sit die ketel aan.

Liefie gaan vir opsie 2. Jy staan langs die bed met jou sweetpakbroek in al twee hande vasgeklem… Dan gaan jy “hup… 1…2…3…” jy swaai die broek vorentoe en agtertoe en op “3” gooi jy jou been in die gewapperde broekspyp. Jy druk dan met jou een palm op die bed, haal diep asem, kry jou balans onder beheer en herhaal met die ander been. En jy erken aan jou vrou dat jou bene ook vanoggend bietjie seer voel.

Daai Strong klas klits jou so dat jy 2 dae later eers pyn.

Nuwelinge doen nuwe dinge…

Sooo… Zumba Strong, nê!!! Maandagaand het ons nie die klas gemaak nie. Wat beteken dat ons vanaand Strong virgins was, blinkoog en vol verwagting maar met zero ondervinding of kennis. Ek koop sommer water en energade, vir ingeval.

Ons stap in die klas in en Dehan sê ons moet sommer bietjie strek en die spiere los maak. Ek buk en kyk vir my tekkies se punte, 2 keer… en toe vat die aandag afleibaarheid my en ek begin gesels met almal om my en hou hulle ook weg van strek oefeninge af.

Die musiek begin en ons beweeg. Gesellig, lekker ritme en spoed. Die bewegings is nie moeilik nie en die repetisies maak dat mens die patroon vinnig snap en dan lekker kan bybly.

Ons hop, skip en jump en wanneer Dehan lostrek met daardie hoogskoppe van hom is dit nie lank nie dan is driekwart van die klas op n ander level en dan begin die vloer bewe. Nota aan Pep Stores se personeel – Nee, niemand het ingebreek nie, hang asb maar net die hangers terug waar dit afgeval het, ons vra om verskoning.

Met my laaste doktersbesoek het die dokter vir my n gawe pilletjie gegee wat baie werk soos daai manier wat hulle voertuie tot n sekere spoed beperk, al trap jy die petrol plat, die topspoed bly 80 km/h. Die pilletjie werk fantasties, tot die 2de liedjie van die aand begin speel. Nee wat, dan ruk die hart los en galop soos n perd in groen velde.

Die klas is met n spoed hopeloos te vinnig verby. Nie dat ek energie gehad het vir nog n bietjie spring nie. Ek voel plekke wat gewerk het wat baie lank laas gewerk het. Bobene, maag en skouers. Ek is seker daarvan dat ek more n koddige sluifelstappie aan my gaan hê.