Donderdag aande is zumba strong. Na n bietjie innerlike wroeging en motivering van pappa se kant af is ek klas toe.
As mens zumba toe gaan gaan jy ZUMBA!!! Veral met n strong klas. Mens kan gaan fietsry of stap en as jy nie regtig gemotiveer voel jy kan jy die aand half-ass. Nie met zumba nie. Wanneer die musiek begin speel en die instrukteur begin beweeg dan is jy in of uit maar niks half-ass nie.
Ons begin en aangesien dit al die 3de strong klas is begin ek darem van die goed onthou. Die dele waar mens hande viervoet op die vloer is is nogal n uitdaging na my verskeie skermutselings met die teerpad toe ek jare gelede probeer fietsry het. Ek is wel baie trots op die feit dat ek al soortvan op n manier 8 push ups kan doen.
Ander dele is mentally challenging. My koordinasie is nie altyd my vriend nie en daar is n gedeelte waar mens wydsbeen staan, half vooroor gebuig met jou een hand uitgestrek na die grond…. Terwyl jy jou bene vorentoe skêr-spring gooi jy jou arm boontoe asof jy jou broek van jou lyf afruk. Dan is daar die om-die-beurt links en regs hardloop vir 4 treë en op die laaste so “saai die waatlemoen” move met jou arm doen.
Daar is dele waar jy denkbeeldige mense se gesigte “boks”… 4 houe en dan breek jy links en regs onsigbare stokke oor jou bene vir nog 4 tellings. Na n slegte dag is dit nogal lekker om denkbeeldige bloedneuse uit te deel. Terwyl ek so doef-doef-doef houe uitdeel voel ek hoe die mamma deegvelle onder my arms rondwapper soos bleek vredes vlaggies.
Die pas is vinnig, die musiek is hard en die mense geesdriftig! My bors klink later soos n moerige gans wat sis. Ek is nie alleen in die stryd nie. Ons maak beurte om teen die muur te gaan staan met ons koppe teen ons voorarms, soos die arme sieletjie wat aan is terwyl die ander kinders gaan wegkruip… Ek wens ek kon wegkruip. Toe ek die eerste sluk water gaan vat het en wens ek kon huis toe gaan het die horlosie gesê ons is 9 minute aan die gang…. En Maandagaand doen ons dit alles weer.