Jaco lees hier op fb n briefie wat n tante aan n agony aunt geskryf het oor hoe in die gesig gevat en verneder sy voel omdat haar man, wanneer hulle in die publiek rond is, vir haar mooier en jonger dames uitwys. Haar eer is diep gekrenk en haar mascara moertoe.
Nou lees ons die comments…. Massakoor van moerige mammas wat vertel pappa knyp katte op donker plekke en hy behoort gestenig te word. Hier en daar n nugterdenkende vrou wat weet dat jack russels karre jaag, al kan hulle nie bestuur nie. Die minderheidsgroep probeer die tannie paai, maar dis nie suksesvol nie.
Jaco lewer kommentaar wanneer hy n mooi meisie sien. Ek wys vir hom khaki boekies wat maak dat ek n trekker wil gryp en n land omploeg.
Ek wil net vir daardie tannie sê dat die enigste man wat nie n mooi vrou in die verbyloop bewonder en waardeer nie… Is n weduwee se man. En enige vrou wat sê sy sien nie n mooi man raak nie lieg.