Vrot pampoene en eensame skoene

Julle almal het dit al gesien… Daardie enkele tekkie, skoen of flipflop eensaam en verlate langs die pad. Ek het altyd gewonder oor die misterie hiervan. Tot ek dit beleef het.

Ek het mos nou die monster scooter met n 125cc brul 🐯🐯🐯 wat my hope pret verskaf. Die dingetjie is baie nuttig ook in my daaglikse doen en late.

So paar weke gelede gaan dit wild en wakker en ek moet haastig n pakkie gaan afgee. Met my oog op die horlosie sien ek ek het net 10 minute voor die plek waarheen ek die pakkie moet vat gaan toemaak. Ek gryp vir pakkie, n masker, helmet en sleutels. Spring op scooter en woerts om Moederkerk en waar ek moet regs afdraai oor die dubbelbaan na Shoprite se kant toe is dit soos altyd n klomp voertuie wat heen en weer.

Van Adami se kant af in my rigting sien ek een van daardie tipper trokke aankom en ek weet die minute tik verby…. n dapper stapper begin oor die zebra streep stap en breek die trok se spoed. Net daar vat ek die gaping, gooi een been uit vir balans en ek vat daai draai soos n pro. Ek is sommer skaam trots oor hoe lekker dit was…. en toe voel ek die wind tussen my kaal tone deur suis en daaar agter op die wit streep in die middel van JA Calata straat lê my pers en swart name-brand-nogal flipflop wat aan die uitskop voet was.

Terug kan ek nie draai nie. Ek besluit toe om eers vir pakkie af te gee. Met een skoen kan ek nie hink nie. Ek pluk die oorblywende flipflop af en gooi dit in die bagasieruim van scooter. Kaalvoet en kop omhoog loop ek die gebou binne, minuut of wat te spaar en lewer vir pakkie af.

Met die uitkom besluit ek om om die blok te ry en die flipflop te gaan haal. Probeer dit toe en in my geestesoog kan ek al sien hoe ek spoed verminder, vir flipflop met my tone vasknyp en aan ry… Ek kan nie daar in die middel van die pad stop nie daar is eenvoudig te veel verkeer. Mens speel nie in die verkeer nie. Met die naderkom sien ek my teiken nog net daar in die middel van die pad op die streep lê. My spoed en koordinasie werk nie soos in my gedagtes nie en ek keer kaalvoet terug kantoor toe.

Met die huistoe ry gaan kyk ek weer maar die flipflop is weg. By die huis gekom gooi ek maar die oorblywende een in die asdrom. Maandagaand na werk, dit was vullisdag, kom ek by die huis aan en daar op die sypaadjie lê n enkele eensame pers en swart flipflop.

Met n suggie tel ek dit op om weg te gooi terwyl ek saggies by myself sing… Dis n vrot pampoen en n stukkende skoen….

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *