Die kooperasie

Gisteroggend beland ek midde in die diepste binnekring van die manlike spesie. Plek waar vroumense liggies trap en saggies praat… Wanneer hulle moet en dan ook net vra, woord vir woord, wat die man van die huis hulle gestuur het om te gaan vra. Nie n plek wat n vrou aandurf en tussen rakke dwaal en rondkyk nie, tensy jy n boertannie is wat met jou eie 4 x 4 dorp toe ry en per geleentheid die waentjie sleep. Maar nie plek vir ons dorpmeisies om net binne te vaar nie.

Ek praat van DIE KOOPERASIE. Die stadsmeisies kan maar net vir my kalmeer, die naaste wat julle aan so plek kom is Outdoor warehouse. Dit is soos die Woollies van n kooperasie. So, julle sal nie verstaan nie.

Die nefies van die kooperasie is die hardeware winkel en enige plek wat motor onderdele verkoop… Effens meer gangbaar maar steeds vreemd.

Ewenwel, toe manlief voor die plek stop wip ek ook uit die kar uit. Niemand los vir Durby in die kar nie!  My oupa se bynaam vir my was ou Gat-saam… Maak nie saak waarheen nie, ek gaan saam.

Die binnekant is effens koel en by die ingang staan die cuteste miniatuur jojo tenk op display. Binnekant is dit net rakke en rakke met vreemde items en pompe, messe, kos rakke en daar is reuke wat ek nie kan uitmaak nie.

En daar is ook mans! Allerhande ouderdomme en sizes en elkeen weet PRESIES wat hy soek. Geen van die vaaloog verwarde tipes shopping wat hulle in klerewinkels en die mall se Dischem doen nie. Selfversekerd en op die punt. Maak nie saak waarvoor hulle vra nie, die verkoopsman knik kop en lui op. Mans hemel!!! Die plek het blykbaar alles van kar batterye tot skeermeslemmetjies.

Wat my opval van die mans is die groet… Dis byna nooit net hallo en hoe gaan dit nie. Dit is die gewone bladskud, die elmboog vashou en bladskud of die klop op die skouer. Indien die handskud hand iets dra sal die ander hand sommer gegee word, saam met n verskoning vir die besige hand. As daar n keps of hoed betrokke is word die afgehaal en teen die been gehou en dan teruggesit.

Hierdie groet ritueel word ook van jonk af van geslag tot geslag oorgedra. “Kom, skud die oom se hand” van kort nadat Boetie nie meer sy bottie saamdra nie.

Stop & Go

Gistermiddag na n groot gedeelte van die dag op die pad, met n klompie nodige stoppe “arrive” ons amper by destination… Nog net een stop – Fountains mall. Tiaan soek oorfone en ons moet gou melk koop.

Pa bel, ma voel nie lekker nie, ons moet gou by Clicks of Dischem in. Terwyl die manne besluit om by die kiosk te stop vir biltong stap ek solank Clicks toe.

Ek stap agter na die apteek gedeelte toe en vra vir die tienermeisie aangetrek in haar pa se doktersjas (mense, die geleerde mensies raak al jonger), vir die medikasie wat ons altyd vir n maagstormpie gebruik… Nee, sy ken nie die pille nie. Sy kyk op die rekenaar en sien dit waarvan ek praat bestaan wraggies.

Sy vat my daar na n rak toe met pille en doepas… Ek bekyk die spulletjie so en begin giggel. Arme sussie met haar pa se jas het net n blank uitdrukking op haar gesig.

Wat ek toe sien is dat die rak met die movicol en die rak met die immodium reg langs mekaar is. Met n rak met al die energie bruis goeters soos vitathion net neffens daar. Padwerke in isle 7… Die “stop” en “go” pille reg langs mekaar. Met energie doepas, net ingeval jy uit stoom hardloop, gerieflik byderhand.

Piet se losies

Ek is die friendly neighbourhood undertaker (eintlik een van n paar) op ons medium grootte dorpie. Vir 13 jaar al….

Ek is tans met verlof. Ek staan vrolik en oats pap kook en musiek luister vanoggend. Verlof ten spyt was daar al n werkverwante oproep vir die oggend, maar dis nie vreemd nie.

So lui die foon weer en truecaller identifiseer die beller as Mev. A – wie se naam ek nie erken nie. Hieronder volg ons gesprek

Ek: Hallo-met-n-vraagteken in my stem…

Mev. A: Hallo? Hallo, Bettie. Is dit nog reg as ons vanoggend so 10 uur vir Piet bring?

Net daar slaan ek n lugleegte! Wie is Piet? Waarvandaan word hy gebring? Hoekom bring hulle hom? O hel, wat het ek vergeet??? Is daar n besigtiging vir iemand buite die dorp?

Ek: Eskuus tannie? (ek is n platteland kind, ons tannie as die stem soos tannie klink).

Mev. A: Ons wil vir Piet bring. Is dit nog reg?

Ek: Is tannie van Cradock? Ek is van Cradock Begrafnisdiens…

Ek hoor hoe hap die tannie skoon lug…

Mev. A: ja, ek is plaaslik. Die is die nommer wat iemand my gegee het vir die kennels. Ek wil Piet aflaai voor ons vandag ry met vakansie…

Ek: Sjoe tannie, ek dink nie Piet sal lekker by my loseer nie!

Teen die tyd lag ek al kliphard… Ek dink in prentjies en sien alllerhande opsies vir die arme Piet se losies!!!

Mev. A: O gaats, nee. Ek dink ook nie so nie. Ok dankie dan, sien jou… Hopelik nie gou nie!

Ek hoop Piet word mooi versorg by die kennels!

Unmentionables…

So elke dan en wan moet n vrou die netelige takie aanpak. Niks lekker nie, maar doen moet dit gedoen word. Die aankoop van die ondergoedjies.

So pak Liewe Lulu toe maar die Saterdagoggend die mall aan. Onthou nou, Lulu se jaarmetertjie het n paar jaar terug by 40 verby geloop. Soos mans se stemme dieper word met die tyd word dames se heupe soms wyer soos die jare aanstap. Baie soos n boom se jaarringe.

Lulu is dan ook by die stadium van die “thin strings barely attached to anything” verby. Die ondergoedjies is nou al soos haar versekering… Omvattend.

Tweede winkel… Jackpot. Regte grootte, regte tipe, nie te pynlik nie, maar steeds duur. Lulu kies en betaal. Alles verloop goed tot daar waar sy deur die sekuriteits-megêfter loop en die ding begin skree soos n honger baba.

Die wag by die deur se nek skiet kiertsregop en hy sien al hoe hy vanaand vir sy pêlle vertel van die aksie wat hy geslaan het. Maar, sy opleiding het geleer hy moet eers investigate. Hy voel voel versigtig aan die sak en bekyk die betaal strokie. Sy skouers sak effens toe hy in sy geestesoog sien hoe die belofte van aksie soos mis verdwyn. Hy wuif vir Lulu met n koninklike wuif deur die masjien. Net sodat die gedoente weer begin gil.

Hierdie keer is daar geen sagte gevoel-voel nie. Die inhoud van die sak word op n klein tafeltjie uitgedop, die 5-pack-not-so-small omvattende ondergoedjies word uitgehaal en net daar in die oop deur, ten aanskoue van die moeg-moedelose ooms in plakkies en kortbroeke wat sit en wag vir mammas wat Desember aankope doen, oopgemaak en volgrootte uitgeskud. Die ooms rol hulle oë dakwaarts en kug.

Konstabel Abel dop elke onderdingetjie binnekant buitetoe. Lulu sweet, hyg en bloos. By nommer 4 kry hy waarna hy soek…. Klein silwer stukkie pakker wat as ekstra teenvoeter vir grypdiewe in die klere weggesteek word. Die kassier het die groot grys metaalverklikker thingie uit die pakkie verwyder maar in die Desember dolheid vergeet van die ekstra plakkers.

Die 5-pak word sonder seremonie in die inkopiesak teruggesit, skouers opgetrek met so n “I am only doing my job” uitdrukking op die gesig. Hy lyk effens suur oor die aksie wat nie gebeur het nie.

Lulu hoop net die materiaal is kwaliteit sodat die aksie nie gou herhaal hoef te word nie…. Sy stap kop omhoog by die ooms in die plakkies verby, want Liewe Lulu is nie bang nie, sy weet hulle vrouens moet tog dieselfde inkopies gaan doen.

Fie-sjoe fase 2

So, daar was vandag n opvolg op verlede week se fisio afspraak. Die keer is daar niemand voor my in die ry by die file kantoor nie en ek is flink flink 20 minute vroeg vir my afspraak.

Ek raak liggies opgewonde toe ek 2 kussings op die martel-bedjie sien. Die kussings verdwyn en ek beland weer met my gesig in die suspiciously shaped moontlik-nie-vir-die-gesig bedoelde spleet… Die dame met die kneukels se hande is n paar grade warmer maar steeds ferm.

Hierdie keer is daar geen naalde betrokke nie maar die knop soekery begin heelwat hoër teen my rug op. Dit is n vryf-en-knie prosedure teen my rugstringe op en af, op en af. Sy squeeze n knop soos n suinige man n muntstuk. My neus loop en my oë traan. Dit voel of my persoonlikheid gekneus word.

Sy vind n spesifieke baie teer punt op my rug. Ek dink dis die hoekie waar al die spiere bymekaar kom, n bespreking hou van waar hulle volgende keer in nuwe knoppe kan uitslaan sodat die dame hulle kan uitmergel.

Twee ure later is daar geen ongemak in my rug nie, geen pyn nie. Dit voel soos n splinternuwe rug. Uhm, vanaand toe voel ek die nodigheid vir n warmwatersak op die aangetasde dele.

Ek kan al amper n zumba klas op die horison van my toekoms sien glim. Daar is nog n opvolg vir volgende week.

Fie-sjoe-terapie

So rukkie gelede buk ek vroegoggend bo oor die wasgoedmandjie om iets uit die wasmasjien te haal. Te lui om eers mandjies te skuif. Groot fout. Af gaan is een ding… Opstaan toe nie so maklik nie. Vir n paar dae buk-en-bekruip ek die lewe.

Vanoggend is dit toe ek en die afspraak by die “fisio”… So elke dan en wan kry ek n masseer sessie as verjaarsdag bederf. Vandag was NIE my verjaarsdag nie.

Ek beland gesig-in-n-vreemde opening, holidaasie na bo, bo-op n bedjie, met die sonnetjie wat lekker gesellig deur n venster skyn.

Die dame begin en maak verskoning vir haar koue hande. Sy moenie brood knie nie, sy gebruik hopeloos te veel kneukels. Sy knie vir my dat ek voel soos n c-graad steak wat onder die vleis hamertjie beland het. So van die skouers af tot om my “sit goeters” en terug. Talm so elke dan en wan by n knopperige pyn of pynlike knop, ek is nie meer seker nie. Hier by die derde rondte rug af wil die niggie weet hoe ek voel oor naalde. Huh!?? Breinaalde? Wat se naalde nou?

Ek bly te lank stil en niggie sien dit as aanmoediging. ” Haal diep asem..” en ting gaan die naald in en ek kry n lammerasie tot in my kopvel.

Na n halfuur is ons klaar, ek voel asof ek rugby gespeel het, gekneus. Maar ek kan my tone raak, ek het gekyk. Ek weet nie hoe lank die naalde was nie maar ek is deeglik gefi-sjoe want ek het “bra” seer hier by my borskas rond. Omdraai kans is daar nie want die dame, haar kneukels en naalde staan vierkantig tussen my en die zumba klas wat op die horison wink.

Toiletpaper wars

Die een item in die huis wat nie MAG op raak nie! Daar is altyd n vervanging 2 rolle voor die einde. Mense kan nogal kieskeurig wees oor watter tipe hulle gebruik… Nou nie dat ek al designer toiletpapier gesien het nie, behalwe die met prentjies van groen blaartjies en klein hondjies op.

Nou die dag sit ek n pak toiletpapier op die kas neer en Jaco vra vir my “al weer? Jy het nou die dag gekoop…”. Asof ek n tydverdryf daarvan sal maak om onnodig touletpapier te koop. Chocolates dalk nog!

Vanoggend haal ek weer die laaste rol van die gekoopte pak uit… En ek hoor al die “al weer?”. Toe sien ek op die pak is dit gemerk “minis” en daar is net 8 rolle in die pak en nie meer 10 nie! What??? Minis? Is dit nou soos diet toiletpapier?

Eers was dit roomys vam 2l na 1.8l, toe word n slab chocolate 80g en nou toiletpapier! Die industrie is besig met ons… Soos die storie van die donkie wat al hoe minder kos gekry het.

Soos ek hier sit kan ek net hoop die laaste rol hou tot ek by die winkel kan uitkom, anders sit my gesin in Papierstraat, en dit liewe vriende, is n cul-de-sac!

Eerste indrukke is blywend

n Hele klompie jare terug vat ek Jaco vir die eerste keer huis toe om my mense te ontmoet.

Ons het n varkhond tefie en n hondjie van onseker oorsprong. As ek nou daaraan dink was dit die produk van n yorkie-poedel romanse wat geblom het. Basjan….

Diereliefhebber wat Jaco is moet hy toe ook vir Jeannie groet.

Daarna sit ons mooi netjies in die sitkamer. Die mooie jong man wat ek kom voorstel, hare gekam, hemp ingesteek… Netjies.

Vanuit nêrens daal Basjan op Jaco neer en begin met groot ywer en spoed kennis maak met n verdwaasde Jaco se been.

Die res van ons tot stilte geskok! So versteen soos ou Cerebos sout wat nat geraak het. Iemand het Basjan aan sy nek gegryp en by die agterdeur uitgegooi. Die moeite was verniet. Basjan het die resies terug sitkamer toe gewen en n nuwe rekord opgestel. In sy aantog trek sy ruggie al krom en begin sy oortjies flap. Hy “latch” behoorlik aan Jaco se been.

Basjan moes vir die res van die kuier in die badkamer toegemaak word.

Wat ons van vergeet het was dat Jeannie, die varkhond tefie, vatbaar vir manlike aandag was en sy n romantiese aroma moes oorgedra het.

Dit was die begin van n hegte vriendskap tussen Jaco en Basjan brakkie.

Koekedoor

Elke mens het gawes en talente en dan het elke mens daardie een ding wat hy nie kan doen nie…
My struikelblok in die lewe is bak, koek bak!

Terte, soos dit maar met terte gaan, is maklik. Maar koek bak is n ander ding. Daar is soveel bestanddele en stappe en scenarios wat mens kan pootjie.

Dit is egter nie te sê omdat mens iets nie kan doen nie, gaan jy dit nie wil doen nie. Waar n wil is is daar n weg.

So pak die koekbak lus my eendag. My liewe man, wat wel bewus is van sy tekortkominge raai my aan om net n koek te gaan koop. Ek is lus vir bak, nie koop nie.

Tannie Ina se bokskoek lyk na net die oplossing. Mens klits olie en eiers by. Hoe moeilik kan dit tog wees. Liefie, doemprofeet, vertel vir my ek gaan die ding flop!

Lang storie kort… Ek haal die spoggerigste egalig gerysde, perfekte sjokolade koek uit die oond uit. Manlief bly skepties… Te veel rugby gekyk, shame… Dis nie verby voor dit nie verby is nie.

Kinnerlik opgewonde draai ek al om die koek. Ek blaas dit omtrent koel… Nou wil ek die pragstuk versier… Met karamel en rooi kersies. Liefie eet nie versiersuiker nie.

Ek maak die blik karamel oop en dit is vir my effems dik, ek besluit om net so n “tjiertsie” melk by te gooi om dit meer smeerbaar te maak. My hand is so bietjie swaar op die melk (gelukkig bak ek nie vrugtekoek nie). Die karamel is nou so bietjie meer smeerbaar as tegnies nodig maar dis nou maar so.

Ek versier met n lied in my hart. Te pragtig. Ek moes op die plek n foto geneem het!!!

Ek verlaat die kombuis vir n oomblik en kom terug… Die louwarm sjokolade koek het die karamel opgesuig soos n droë spons badwater, die kersies het die stryd verloor en lê reg rondom die koek op die glasbord.

My man se kommentaar… “Ek het jou gesê jy gaan die koek flop!!”.

Uitspraak en konteks

n Hele klompie jare gelede kuier ons een Desember vakansie in Nelspruit by my skoonsuster en haar man. Hy was in die vervoer bedryf en een middag vat hy ons saam na die werf waar die trokke geparkeer staan.

Terwyl hy en die ander mans tussen die voertuie rond beweeg sit ek en ons oudste in die bakkie. Groot nuwe bakkie met al wat n meghêfter is. Seuna was so graad 2 rond en het net mooi met selfvertroue begin lees… Afrikaans en so hier en daar engels… Karoo kinders en engels is nie altyd ewe goeie pasmaats nie.

Skielik en totaal uit die bloute vra hy vir my “Mamma, wat is erection?”… Ek snak en spoeg soos n generator wat laag hardloop op petrol, my neus begin sommer loop en my een oog spring.

Ek dag ons is nog jarrre weg van die gesprek af en dat dit Pappa se job is, siende dat hulle identies aanmekaar gesit is. Pappa stap egter doer ver saam met die mans tussen voertuie so groot soos my penarie rond.

Op n manier behou ek teenwoordigheid van gees en vra versigtig “Waar het jy dit gehoor, Boeta?”

“Ek het dit hier op die kant van die deur se handvatsel by die knoppie gelees…”. Ek skuif nader om ook te kan lees en daar staan SONY ERICSON Bluetooth.

Phew! Genadiglik het ek gevra voor ek n baie lang baie onnodige verduideliking vir die bloedjie gegee het… Wat tot nuwe ongemaklike vrae sou gelei het.

Wys mens net – uitspraak en konteks is baie belangrik wanneer mens lees, veral in engels!