So rukkie gelede buk ek vroegoggend bo oor die wasgoedmandjie om iets uit die wasmasjien te haal. Te lui om eers mandjies te skuif. Groot fout. Af gaan is een ding… Opstaan toe nie so maklik nie. Vir n paar dae buk-en-bekruip ek die lewe.
Vanoggend is dit toe ek en die afspraak by die “fisio”… So elke dan en wan kry ek n masseer sessie as verjaarsdag bederf. Vandag was NIE my verjaarsdag nie.
Ek beland gesig-in-n-vreemde opening, holidaasie na bo, bo-op n bedjie, met die sonnetjie wat lekker gesellig deur n venster skyn.
Die dame begin en maak verskoning vir haar koue hande. Sy moenie brood knie nie, sy gebruik hopeloos te veel kneukels. Sy knie vir my dat ek voel soos n c-graad steak wat onder die vleis hamertjie beland het. So van die skouers af tot om my “sit goeters” en terug. Talm so elke dan en wan by n knopperige pyn of pynlike knop, ek is nie meer seker nie. Hier by die derde rondte rug af wil die niggie weet hoe ek voel oor naalde. Huh!?? Breinaalde? Wat se naalde nou?
Ek bly te lank stil en niggie sien dit as aanmoediging. ” Haal diep asem..” en ting gaan die naald in en ek kry n lammerasie tot in my kopvel.
Na n halfuur is ons klaar, ek voel asof ek rugby gespeel het, gekneus. Maar ek kan my tone raak, ek het gekyk. Ek weet nie hoe lank die naalde was nie maar ek is deeglik gefi-sjoe want ek het “bra” seer hier by my borskas rond. Omdraai kans is daar nie want die dame, haar kneukels en naalde staan vierkantig tussen my en die zumba klas wat op die horison wink.