Groeipyne

Enige vrou/meisie sal weet waarvan ek praat…

Wanneer jy nou jou 12de of 13de jaar bereik, outydse standerd 5, dan begin die ding kop uitsteek.

Dis nou wanneer daar altyd by enige braai, funksie en kerkdiens n besige tannie of twee is wat jou so op en af kyk, op n stoel tik met haar hand en sê “kom sit hier langs tannie”. Dan kom die fluister vraag “is jy nou al n groot meisie? Jy weet mos waarvan tannie praat?”

Ja wel tannie daar was laas week n vet puisie in die middel van my voorkop, my skoolhemp se knope span deesdae gevaarlik en my ouma het gister vir my my eerste bra gekoop. Ek haat die ding al klaar, hy lê nog in n foschini pakkie onder my bed saam met my wiskunde handboek… dis waar ek haat versamel. Die hele gesprek is natuurlik net in my gedagtes… mens is nie cheeky met grootmense nie.

Ek wonder waar al daardie nuuskierige tannies nou is… tesame met al die ooms wat altyd n geldjie in my hand gestop het en gesê het ek moet hulle bel wanneer ek 18 word. Sorry vir die ooms, ek het los lekkers gekoop met hulle geld. Deesdae sal hulle tronk toe gaan vir sulke grappies!

Terug na die tannies toe – so gretig as wat hulle was met raad gee daar aan die begin, so stil is hulle nou. Niemand wat waarsku oor hoe dinge na 45 begin loop nie.

Niemand sê dat mens se sweetgate ooptrek soos n waterval na die reëns nie, dat mens se humeur kort kort vlam vat soos n grasveld in die droogte nie, dis n gerook en geknetter, mens se liggaamstemperatuur is so bestendig soos die termometer van n 19-voertsek Mazda 323 wat teen elke opdraend wil vasslaan en in die rooi gaan draai.

Nou hoe sê daai tannies nou?

Ander mense se realiteite…

Julle!!! Ek gaan vannag nie n oog kan toemaak nie. Nie n oog nie, sê ek julle! Soos almal weet is my groot swakhede reality tv, country musiek, koffie en chocolate-enigiets.

My gunsteling reality programme op die oomblik is MKR en Below Deck. MKR kyk ek 70% as gevolg van die aanbieders. David Higgs… oh-my-soul daardie silwer hare, oe mammie!! En dan J’Something lyk heeltyd net onnutsig.

RHOPTA is te pynlik om te kyk, ek vang net Lisa-met-die-rooi-hare se samevattings, hoofsaaklik omdat sy kômmin in pret verander. Ek is seker die wyn wat sy drink help.

Sondagaande is MKR aande. Hierdie seisoen is nou al lank genoeg aan die gang dat ek al n paar gunstelinge onder die deelnemers het.

Alles gaan redelik goed tot die een dude met effens te veel selfvertoue besluit om rond te kyk terwyl hy met daardie bitter skerp mes uie kerf… die volgende oomblik is dit net bloed en n stuk vinger-fillet op die mes. Die medics praat van steke en hospitaal en die horlosie tik-tik-tik voort. Sy arme spanmaat is op die punt om n kat te skiet. My senuwees!!!

Die mense proe die kos en stem toe deur n lemoen in n mandjie te gooi met die naam van hulle gunteling dis. Die aanbieders gee hulle opinie en die topspan word geprys tot hulle gloei. Daarna word aangekondig dat die 2 sussies uitgestem is die week…. trane en teleurstelling. Verligting op die gesigte van die ander 2 spanne wat amper nie die “cut” gemaak het nie.

Die 2 sê dapper dat alles lekker was en wat hulle alles geleer het van hulleself en begin regmaak om almal te groet.

En BAM!!! Martin en Eddie (twee van my gunstelinge, hulle is prettig) fluister vir mekaar en kyk mekaar ernstig aan. Hulle was een van die ander twee spanne wat onder aan die lys was. Hulle vra of hulle hulle kans om verder te gaan kan oordra en in die plek van die sussies kan huis toe gaan.

Say what?????? Die prysgeld is massive. Daar moet n rede wees… en ek wil weet! Ek is invested in die hele besigheid, dêmmit! Is daar n krisis by die huis? Kom hulle nie reg nie? Daar moet IETS wees?

Weet iemand? Ken iemand dalk vir Martin en Eddie? Ek worry, man.

Net om my te kalmeer het ek die mandjie strykwerk aangepak en Below Deck gekyk… as my strykyster so saggies oor n blou hemp gly lyk dit nogal soos n luxury yacht wat op die see vaar.

Vlak 5 gemoedere

Ons vrouens het almal bietjie Eskom in ons… te danke aan Moeder natuur, Eva en appels. My gemoed is op vlak 5, dis warm en ek is super geirriteerd.

Ons gaan winkel toe en ek is lus vir iets, ek weet net nie of dit soet of sout, koud of warm moet wees nie. In kort, ek is lus vir ALLES wat ek sien. Die kalm deel van my brein sit in n hoekie en rol oë en sug vir die tantrum wat die res gooi.

Ek sê vir liefie ek is lus vir ietsie soet of sout. Hy sê “kies iets”. Ek sê ek voel so gillerig, kan ek maar nie net een van alles vat nie?

Na 26 jaar maak n vlak 5 gemoed hom nie bang nie en hy sê “nee, dan sal ek jou maar los dat jy bietjie gil!”

Ek het gesettle vir n salted caramel roomys. Net om my humorsin te toets kom net die stokkie en n stukkie roomys uit toe ek dit probeer oopmaak.

Robberg staptog

Waarskuwing: Lang leesstuk op hande.

Voor ons begin…. n paar fun facts oor my:

  1. Ek is 6 cm korter as Faf de Klerk en ek weeg 6 kg swaarder as Eben Etzebeth.
  2. Ek is nie die tipe meisie wie se hartklop begin waar die teerpad eindig nie. Ek is fine met n goeie gelykpad.
  3. Ek oorkom nie my vrese nie, ek own hulle. Slange, diep water en hoogtes is my top drie vrese. En spietkops!
  4. Ek huil nie graag nie maar wel in situasies waar cute babas of trourokke betrokke is, ek woedend kwaad is…. of wanneer ek rêrig êrig shitless bang is.

Een groot feit oor Jaco is dat wanneer ek die dag huil hy gewoonlik die oplossing en nie die oorsaak is nie. So, vandag was dit nie sy skuld nie en ek dink na 26 jaar saam het hy iets nuut oor my geleer.

Die plan vir vandag was om by Robberg te gaan stap…. ja, ons stap al weer! Ons navorsing wys dat daar 3 moontlike staproetes is. By die kennisgewingbord sien ons die 3 roetes en op die 9 km roete is daar n swart kopbeentjie en die woorde “dangerous area” aangeteken. Alhoewel ons gedink het 9 km veldpad is binne ons bereik as ons rustig stap laat die kopbeentjie ons heroorweeg en ons besluit op die roete van 5 km. Die internet dui die een aan as “moderate”.

Die keer het ek n hoedjie en ons het n bottel water. Die weer is baie lekker en die roetes is duidelik gemerk. Daar is n koffiewa by die eindpunt wat my voortydig opgewonde maak.

Ons begin om die koppie stap. Die pad is nouerig en klipperig maar nie onoorkombaar nie. Links van ons daar onder glinster die see blou, die uitsig is ongelooflik. Hier en daar is dit skaflike houtpaadjies, baie lekker. Ons kom by n kruispad met trappies af see se kant toe, nog n houtpaadjie om n krans en n stuk nou opdraend pad met hier en daar handreëlings aan een kant wat blink in die son. Na nog n kyk op n kaart en n kort debat is Jaco oortuig ons moet opdraend uit daar waar die handreëlings langs loop.

Ek kyk op, begin n ligte sweet uitslaan maar stap voort. Dit gaan heel goed. Daar is afwisselend handreëlings en kniehoogte bosse wat my n gevoel van veiligheid gee. Twyfel begin knaag en so oor my skouer gee ek vir my stapmaat/lewensmaat n aanduiding dat ek myself nie meer gate uit geniet nie. Hy bemoedig… ons kan al die platvorm van die draaipunt hier bo ons koppe sien. Nog net n draai met paar groot kliptrappe en ons is daar. Met n neersit van my een voet maak ek die fout om my omgewing te bekyk, te sien dat elke trap na bo nou so knie hoogte lyk (ek het die laaste ent al so in 4 x 4 mode geklouter met my kort stamper beentjies). Hier is nie meer bosse en handreëlings aan my linkerkant wat my laat veilig voel nie, my tekkie se sole is so glad soos n verkoopsman se beste storie.

My brein gaan staan botstil, alles om my tol in die rondte en my asem is weg. Ek kan nie op nie, ek kan nie terug nie…. en toe kom die snik! Dit gaan nie meer daaroor of ek wil nie, ek KAN nie. Ek is op my boude terug af tot waar ons kon stap, stroom op, tot by n bankie in die koelte waar ek kon wag tot Jaco die roete voltooi en hy weer by my kon uitkom. Daar waar ek sit kon ek nog n goeie stuk huil in my borskas voel.

Met die laaste stukkie eindpunt toe het ek nog n brain roadblock beleef en my geduldige man het maar die long way round saam met my gestap. So, in die verkeerdom stap kom n man en vrou van voor af en soos dit met sulke goed werk kan ek nie help om n flenter van hulle gesprek in die verbygaan te hoor nie… dit sal wraggies gaan oor n slang wat sy gesien het. Net wilskrag het gekeer dat ek haar aan die arm gryp en vra waar en wanneer. In my brose toestand is een vrees op n slag meer as genoeg. Ek sou glad nie nog n slang ook kon hanteer nie.

Ek soek n broek… n broek wat netjies pas

My ma en ouma het my vertel dat ek so voor op die wa was by geboorte dat geen klere gepas het nie en my arme peetma verwoed moes begin hekel om my kaal bas te klee. Ek was glo piepklein.

Dit was toe nie die laaste keer wat ek gesukkel het om klere te kry wat nommerpas sit nie. So paar weke gelede gaan soek ek by n plaaslike winkel na denims. Die wat ek het is gelap en gestop tot aan die einde van hulle lewe… is nou tyd vir nuwes.

Ek stap die winkel twee maal deur, niks maar niks. Ek gaan vra toe waar is die rakke met my grootte klere? So 4 jaar gelede het my ouderdom en broekgrootte mekaar uitgelevel.

Nee jammer, die klere is alles verpak en teruggestuur, op versoek van hoofkantoor… Ek moet nou na die naaste tannie “Donna” winkel toe vir enigiets wat ek wil koop. Ek het my eendag mos n skuinste uit vervies toe ek skoene soek en ek tot daarvoor na n Donna Claire toe gestuur is. As ek n flippen hangertjie soek moet ek seker ook soontoe.

Vanoggend is ek terug in die winkel vir iets en toe vertel een van die personeel vir my dat die winkelgroep hulle reekse aanpas en dat die Donna winkels nou ook toemaak.

Nou kyk ne, oral om my sien ek vrouens van my grootte. Ek verstaan nie die redenasie nie. Ons keuse van plekke om te koop is reeds so beperk. Ken die mense nie hulle mark nie? Alles is klein en skinny en extra small.

Indien enigiemand my binnekort sien streak in die straat… ek het nie kop verloor nie, laaste broek het dan sy gat gesien.

Zero-six-four…

Vanmiddag laat is daar n commotion buite die kantoor, iemand skel en n vrou snik soos sy huil. Ek is besig en steur my min.

Later kom roep my kollega my. Die snik-tannie sit binne in die kantoor. Buite staan n verslonsde man met 2 halwe bakstene in sy hande en mompel-skel-mompel. Ek kyk vir hom, sit die kantoor issue peper spray voor my neer … En hy kyk vir my en ons bekyk mekaar. Ek het n gesonde gewigsvoordeel bo hom en voel na die wilde week effe moerig. Al wat in sy guns tel is die wilde trek op sy gesig.

Linky soek die polisie se tydelike nommer op die crime group en bel vir die manne-in-blou. Nou wag ons maar. Die dinge vat mos tyd.

Die tannie vertel dat die man haar al n ruk lank teister, hoekom weet sy nie. Hy het net die naweek haar huis se ruite uitgegooi en haar kar se bande met n broodmes probeer stukkend sny. Sy weet nie hoekom hy haar uitsoek vir sy tirades nie. Die polisie het net skouers opgetrek en gesê sy moet n kwotasie vir die ruite kry.

Die vangwa kom stop, die wag was langer as two minute noodles maak maar vinniger as rys kook… Ek is beindruk. Hulle gee die man een kyk en verklaar toe dat hulle niks kan doen nie want hy is n 064 (zero six four)… Ek en Linky kyk mekaar want nie een van ons ken daai bende nommer nie. Ek vra mooi hulle moet die man wegvat want as hy die kantoor se groot ruite breek gaan ek my dalk vererg.

Ons leer toe dat zero-six-four polisie taal is vir iemand wat geestelik onstabiel is en daarom mag hulle niks doen nie. Ek het toe vir die konstabel verduidelik dat die volgende nommer in die lykshuis register zero-seven-four van die jaar 2020 is… Goeie begrip het n halwe woord nodig. Hy is van die perseel verwyder, moontlik na sy eie huis toe.

Ek kook nou kerrie, kook kalmeer my wanneer ek so effens zero-six-four’erig voel!

Bewerings sonder bewyse…

Vanoggend 4 uur lê ek met vrede in my hart rustig en slaap, op my maag… weerloos. Die volgende oomblik klap Jaco my KAPLAKS!!! op my lae rug dat my nier amper bars.

“Waddehel!!!” vra ek deur die slaap.

“Daar was n spinnekop… lyk soos n sak spinnekop” sê hy.

Vanoggend toe ek by my sinne is wonder ek oor die saak. Ek kan nie verseker sê of daar werklik n spinnekop was nie…. maar ek het al genoeg Murder she wrote gekyk dat ek weet dis moeilik om n moord te bewys sonder n liggaam… en ek het nie n spinnekop gesien nie.

Eerste ervarings en unieke voorregte

Vanoggend se fb reminder wys vir my dat ek vandag amptelik 15 jaar in diens is by my huidige werk. Dit sit my op n dink trippie…

Die eerste keer wat ek die lykswa om die kantoor sien trek het nadat iemand gaan haal is. Elke sterfgeval het nog my asem so bietjie laat wegraak.

Die eerste keer wat ek saam was om iemand te gaan haal… toe ons by die huis aankom vra die familie ons moet bietjie wag, iemand is nog op pad wat graag wil afskeid neem. Toe leer ek die eerste van baie lesse… tyd maak nie saak nie. Ons sit en tee drink in die sonnetjie op die stoep terwyl ons wag. Rustig word ouma se lewe onthou en n paar herinneringe gedeel.

Sedert daardie “eerste” het ek al baie ander beleef – lykswa ritte met net myself en n oorledene in n kis, vroegoggend diep in die winter twee dorpe verder deur die Karoo, op pad kerk toe, ritte na PE se krematorium.

Nag ritte, somer en winter, om iemand by n huis, hospitaal of ouetehuis te gaan haal. Dit is altyd vreemd vir my om netjies aangetrek, hare gekam by iemand op te daag 2 uur in die oggend.

Die eerste kind wie se begrafnis ek moes hanteer. Mense se verskillende reaksies op die dood, hoe ons almal skok en hartseer verskillend hanteer.

Ek het voorregte wat ander mense nie sommer kry nie, ek het my eie ma se diens van begin tot einde gereël, dit is vir my die mooiste een nog gewees. Blomme en kerse presies soos sy daarvan gehou het. Paar maande later oupa se diens.

Ons beland binne in mense se diepste seer en mees persoonlike herinneringe. Dis n spasie waar vreemdelinge nie hoort nie. Dit maak my werk n voorreg.

Die hartseerste oomblikke. Ek vra eendag, net voor ek by die kerk weggaan, vir n tannie of daar nog iets is wat sy nodig het of wat ek kan doen. Sy sit haar hand teen die agterruit van die lykswa en vra “kan jy nie net my man vir my terug bring nie?” Ek het gehuil tot by die kantoor.

Die laaste jaar was sekerlik die moeilikste een. Ek het meer as een maal in Desember, wat n riller maand was, vir my kollege gesê “ek kan net nie meer nie”. Ek wil nie nog een dood gaan registreer van iemand wat ek ken nie, ek wil nie meer grafte koop en blomme bestel en pamflette tik nie.

Maar…more gaan ons weer die week begin met grafte koop en reëlings tref… dit bly n voorreg.

Magic in n koppie

Ek wil by die Flat Earth Society of iets aansluit. Die aarde draai nie meer reg nie!

Mense wat my ken sal weet ek drink graag koffie, ek koop koffie, dink aan koffie, droom van koffie. Een van ons honde is na koffie vernoem. Ek is nogal lief vir my koffie.

Gistermiddag is die etensuur weer te kort en ek draf by die kafee in vir ietsie om te kou.

Staan en wag vir my beurt en sien n advertensie vir koffie… cuppachino nogal. NEW…. Dan n lysie met opsies – collagen (is dit nie iets vir voller lippe of buuste nie?) Ek het nou die dag collagen water gesien en gedink mens was dalk jou unmentionables daarmee vir n tighter fit.

En… hou vas jou jou hart – MUSHROOM cuppachino. Ek lees weer om seker te maak en vra vir die meisie agter die toonbank. Ek sê “maar dan is dit mos sop!!!!” Sy lag en sê daar is mense wat sê dis nogal lekker. Dis dan seker magic(al) mushrooms. Nee wat, los maar, die gedagte alleen maak my gril.

Skete en iepiekonders… en ouderdom

Julle, ek worry mos nou oor myself. Dit n worry wat nou n tyd lank aankom. Ek het hierdie “rash” op my een been wat woer-woer speel met my, lyk soos die baster kind van iets tussen pokke en melaatsheid. Grillerige storie…. dan word dit beter, dan slegter. Een oomblik help een salf, dan weer n ander een. Die ding is astrant, hy het vir kortisoon gefluit en n lelike vinger gegooi, iets gemompel van sy ma. Ek het skaam gekry.

So karring ek nou al lank aan. Dr. Google se een voorstel is dat ek my te dik gedrink het aan vitamines. Ek vat dit rustiger op die vitamines, been word eers beter en toe besete.

Ek doen toe daai ding wat professionele mense laat oogrol, ek wys dit vir n verpleegsuster. Sy wys fotos daarvan vir die dokter. Nou hoor-hier-kyk-hier nè, die dokter is n goeie mens, eerlike mens… dalk effens te eerlik.

Hy noem iets in sy voicenote van my voete wat geswel is, moontlike bloedvloei probleme en daar is n verwysing na my gewig.

Nou ja, ons almal weet daai kan n teer punt wees. Die probleem is dat ek die dokter al lank ken. Dit is dieselfde dokter wat tydens een van my dieet pogings my vet/veldikte met n toestel gemeet het wat loodgieters en skrynwerkers gebruik om staal en pype se dikte te meet!

Ek gaan google natuurlik oplossings vir swak bloedvloei en sien n ding raak wat my pols laat bons – pressure socks. Ek weet nie wat die vervaardigers van daardie kouse se probleem is nie. Toe ek klein was het my inkleurkryt stelle altyd n kleur bevat wat ons “menskleur” genoem het. Enigeen wat ooit colleen potlode gehad het sal dadelik weet watter een ek van praat. So mooi blush pienk. Maar nee, pressure socks se kleur kan beskryf word as “kadawer” kleur. Dit is dieselfde kleur as die lyke op NCIS wat n kort rukkie in n dumpster of rivier gegooi is. En die “pressure” deel van die kouse laat sommer my brein engtevrees kry. I can’t deal.

Terwyl ek deur die kombuis venster staar en die storie bedink terwyl ek myself maak belowe dat ek van more af kaloriee tel eet ek n poedingbakkie vol van gisteraand se pasta op.

Ek moet nou al kruisbeen staan as ek hoes of nies, toe my ma dit gedoen het was dit snaaks, nou is dit nie n grappie nie, ek het multi focal bril lense waarvoor my man n nektoutjie wou kry, ek was amper in n beswyming… so, die kadawer kouse sal insult to injury wees.