Waarskuwing: Lang leesstuk op hande.
Voor ons begin…. n paar fun facts oor my:
- Ek is 6 cm korter as Faf de Klerk en ek weeg 6 kg swaarder as Eben Etzebeth.
- Ek is nie die tipe meisie wie se hartklop begin waar die teerpad eindig nie. Ek is fine met n goeie gelykpad.
- Ek oorkom nie my vrese nie, ek own hulle. Slange, diep water en hoogtes is my top drie vrese. En spietkops!
- Ek huil nie graag nie maar wel in situasies waar cute babas of trourokke betrokke is, ek woedend kwaad is…. of wanneer ek rêrig êrig shitless bang is.
Een groot feit oor Jaco is dat wanneer ek die dag huil hy gewoonlik die oplossing en nie die oorsaak is nie. So, vandag was dit nie sy skuld nie en ek dink na 26 jaar saam het hy iets nuut oor my geleer.
Die plan vir vandag was om by Robberg te gaan stap…. ja, ons stap al weer! Ons navorsing wys dat daar 3 moontlike staproetes is. By die kennisgewingbord sien ons die 3 roetes en op die 9 km roete is daar n swart kopbeentjie en die woorde “dangerous area” aangeteken. Alhoewel ons gedink het 9 km veldpad is binne ons bereik as ons rustig stap laat die kopbeentjie ons heroorweeg en ons besluit op die roete van 5 km. Die internet dui die een aan as “moderate”.
Die keer het ek n hoedjie en ons het n bottel water. Die weer is baie lekker en die roetes is duidelik gemerk. Daar is n koffiewa by die eindpunt wat my voortydig opgewonde maak.
Ons begin om die koppie stap. Die pad is nouerig en klipperig maar nie onoorkombaar nie. Links van ons daar onder glinster die see blou, die uitsig is ongelooflik. Hier en daar is dit skaflike houtpaadjies, baie lekker. Ons kom by n kruispad met trappies af see se kant toe, nog n houtpaadjie om n krans en n stuk nou opdraend pad met hier en daar handreëlings aan een kant wat blink in die son. Na nog n kyk op n kaart en n kort debat is Jaco oortuig ons moet opdraend uit daar waar die handreëlings langs loop.
Ek kyk op, begin n ligte sweet uitslaan maar stap voort. Dit gaan heel goed. Daar is afwisselend handreëlings en kniehoogte bosse wat my n gevoel van veiligheid gee. Twyfel begin knaag en so oor my skouer gee ek vir my stapmaat/lewensmaat n aanduiding dat ek myself nie meer gate uit geniet nie. Hy bemoedig… ons kan al die platvorm van die draaipunt hier bo ons koppe sien. Nog net n draai met paar groot kliptrappe en ons is daar. Met n neersit van my een voet maak ek die fout om my omgewing te bekyk, te sien dat elke trap na bo nou so knie hoogte lyk (ek het die laaste ent al so in 4 x 4 mode geklouter met my kort stamper beentjies). Hier is nie meer bosse en handreëlings aan my linkerkant wat my laat veilig voel nie, my tekkie se sole is so glad soos n verkoopsman se beste storie.
My brein gaan staan botstil, alles om my tol in die rondte en my asem is weg. Ek kan nie op nie, ek kan nie terug nie…. en toe kom die snik! Dit gaan nie meer daaroor of ek wil nie, ek KAN nie. Ek is op my boude terug af tot waar ons kon stap, stroom op, tot by n bankie in die koelte waar ek kon wag tot Jaco die roete voltooi en hy weer by my kon uitkom. Daar waar ek sit kon ek nog n goeie stuk huil in my borskas voel.
Met die laaste stukkie eindpunt toe het ek nog n brain roadblock beleef en my geduldige man het maar die long way round saam met my gestap. So, in die verkeerdom stap kom n man en vrou van voor af en soos dit met sulke goed werk kan ek nie help om n flenter van hulle gesprek in die verbygaan te hoor nie… dit sal wraggies gaan oor n slang wat sy gesien het. Net wilskrag het gekeer dat ek haar aan die arm gryp en vra waar en wanneer. In my brose toestand is een vrees op n slag meer as genoeg. Ek sou glad nie nog n slang ook kon hanteer nie.